Verbruikersake: Jou regte in die gimnasium

gimnasium-gewigte-tekkies-oefen

Foto: Victor Freitas/Pexels.com

Die nuwe jaar is nou goed op stryk en almal wat begin Januarie by die gimnasium aangesluit het om van daardie Desember-vetjies ontslae te raak, se gô is al uit, maar dit is nie al wat uit is nie. Verbruikers kla dat gimnasiums nie by kontrakte hou nie en dat hulle nie hul kontrakte mag kanselleer nie. Hulle kla ook oor debietorders wat steeds op hul rekeninge deurgaan, al het hulle gekanselleer. Ina Opperman verduidelik wat die Wet op Verbruikersbeskerming bepaal oor jou regte wanneer jy by ʼn gimnasium aansluit.

Vastetermynkontrakte

Artikel 14 van die wet, wat handel oor die verstryking en hernuwing van vastetermynooreenkomste, is gewoonlik van toepassing op gimnasiumkontrakte omdat jy ʼn kontrak teken vir ʼn vasgestelde tydperk. Die regulasies wat in terme van die wet gemaak is, bepaal dat die ooreenkoms nie langer as 24 maande mag wees nie, tensy die gimnasium kan bewys dat dit tot jou finansiële voordeel sal wees om ʼn langer kontrak uit te neem.

Jy kan enige tyd kanselleer

Hierdie artikel bepaal ook dat jy, ondanks enige bepaling in die verbruikersooreenkoms wat dit anders aandui, die ooreenkoms enige ander tyd kan kanselleer, deur die verskaffer 20 werksdae skriftelike kennis te gee.

Jy bly aanspreeklik vir die uitstaande bedrag tot op die datum wat jy kanselleer en die gimnasium kan van jou verwag om ’n redelike kansellasieboete te betaal. Dié bedrag sal uiteraard verskil tussen ʼn kansellasie in die derde maand en wanneer jy kanselleer wanneer daar net twee maande van jou kontrak oor is.

Wanneer jou kontrak verstryk

Artikel 14 bepaal ook dat jy ʼn vastetermynkontrak sonder koste kan kanselleer wanneer dit verstryk. Die gimnasium moet jou binne 40 tot 80 werksdae voordat jou kontrak verstryk, skriftelik kennis gee dat jou kontrak gaan verval.

Hierdie kennisgewing moet ook aandui of die kontrak wesenlik gaan verskil van die een wat jy nou het indien jy die kontrak hernu en of jy in die nuwe kontrak dieselfde opsies sal hê. As jy nie aandui dat jy die kontrak wil kanselleer of hernu wanneer dit verval nie, kan die gimnasium jou kontrak op ʼn maand-tot-maand grondslag verleng.

As die gimnasium kanselleer

Die gimnasium kan ook die ooreenkoms kanselleer 20 werksdae nadat jy skriftelik in kennis gestel is dat jy nie die ooreenkoms nagekom het nie deur nie te betaal nie, tensy jy die wanbetaling reggestel het.

Afkoelperiode

Baie verbruikers sluit by ʼn gimnasium aan wanneer iemand wat die gimnasium bemark, hulle kontak. As jy só aansluit en ʼn dag of wat later besluit jy wil eintlik nie ʼn lid van ʼn gimnasium wees nie, het jy regte soos bepaal in artikel 16 van die wet, wat handel oor verbruikers se reg op ʼn afkoeltydperk ná direkte bemarking.

In hierdie geval kan jy die kontrak sonder koste skriftelik binne vyf werksdae kanselleer. Die gimnasium moet dan al jou geld, wat reeds betaal is, binne 15 werksdae terugbetaal en nie enige verdere bedrae van jou bankrekening verhaal nie.

Verwysings

Verbruikers word soms ook deur gimnasiums gevra om kontakbesonderhede van vriende of familie te verskaf wat die gimnasium kan kontak om ʼn lidmaatskap te verkoop. Artikel 38 van die wet bepaal egter dat niemand goedere of dienste mag verkoop deur iemand te betaal of enige ander voordeel te gee vir die verwysing nie.

As jou tiener sommer aansluit

Dit gebeur ook soms dat jou tiener ʼn gimnasiumkontrak teken sonder om jou as ouer te raadpleeg. Volgens artikel 39 is enige ooreenkoms wat met iemand wat nie handelsbevoeg is nie, nietig. Jou tiener is nog minderjarig en mag dus nie self ʼn kontrak sonder jou toestemming teken nie.

Onredelike voorwaardes

ʼn Gimnasium mag ook nie, in terme van artikel 48, van jou verwag om ʼn kontrak met onredelike voorwaardes te teken nie, soos dat jy jou regte in terme van die wet prysgee nie.

  • Kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantore vir verbruikersake oor gimnasiums wat die bepalings van die Wet op Verbruikersbeskerming verontagsaam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Peet Schabort ·

Kry vir jou ‘n graaf, pik, besem, hark ens. wat heelwat goedkoper is, dan hoef jy ook nie hulp te hê. Dis waar ek nou huidig is op 75.

Jaco ·

As n ou wat oefening deel van n lewenstyl maak en al die afgelope 15 jaar van my lewe getrou oefen, is dit jaarliks na nuwe jaar opmerklik hoe besig die gimnasiums is. Dit blok al die toerusting uit vir ons ouens wat erenstig oefen en is soms n frustrasie want dit is meestal mense wat gym toe kom om geselsies aan te knoop en vir ure op die toerusting deur te bring deur op hul selfone te sit en speel en verhoed dit ons om ernstig te kan oefin, gym eienaars is net so gefrustreerd hiermee en word kontrakte afgedwing sodat niemand se tyd op die ou einde van die dag gemors word nie. Die probleem is dit maak die gymnasiums oorvol aan die begin van die jaar want gyms kan ongelukkig nie vergroot word vir mense wat in elk geval gaan kanseleer nie. Nog n probleem is die siekefondse wat mense se gym fooie betaal….dan kom hul net in om hul kaart te “swipe”….dis onnodige admin en dit mors almal se tyd…so ja…hou maar die kontrakte vir wat dit werd is!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.