Verbruikersake: Jy kan aandring op verbruikerskontrakte in Afrikaans

kontrak

Foto: Unsplash/Pixabay.com

Nie alle verbruikers verstaan Engels – veral die formele Engels wat in verbruikerskontrakte gebruik word – so goed nie. Wanneer hulle dan aandring op ’n weergawe in Afrikaans, word hulle dikwels ingelig dat die maatskappy net in Engels werk. Dit is egter nie so eenvoudig nie, verduidelik Ina Opperman. Jy kan volgens wet daarop aandring om ’n afskrif in Afrikaans te kry.

Die Wet op Verbruikersbeskerming gee verbruikers die reg om verbruikerskontrakte in Afrikaans te kry. Dit kry al gestalte in die aanhef van die wet, waarin verklaar word die wet is opgestel om verbruikers se toegang tot en gehalte van inligting te verbeter sodat hulle ingeligte besluite kan neem. Toegang tot inligting kan net verbeter word indien dit in jou moedertaal is wanneer jy nie Engels verstaan nie.

Artikel 3

Die doel en beleid van die wet word in artikel 3 uiteengesit en bepaal dat die oogmerke van die wet daarop gerig is om die maatskaplike en ekonomiese welstand van verbruikers in Suid-Afrika te bevorder en te verhoog deur, onder meer, die nadele van toegang tot die verskaffing van goedere en dienste aan verbruikers, wie se vermoë om ’n advertensie, ooreenkoms, handelsmerk, gebruiksaanwysings, etiket, waarskuwing, kennisgewing of ander visuele voorstelling te lees en begryp, beperk word weens lae geletterdheid, siggestremdheid of beperkte vermoë om die taal waarin die voorstelling gemaak, gepubliseer of aangebied word, te verstaan, te verminder en versag.

Artikel 3 verwys duidelik na ’n beperkte vermoë om die taal te verstaan, wat verbruikers hier al die reg gee om aan te dring op ’n weergawe in hul moedertaal wat een van die elf amptelike tale is.

Artikel 22

Deel D van die wet handel oor die verbruiker se reg op blootlegging en inligting, met artikel 22 wat handel oor die verbruiker se reg tot inligting in gewone en verstaanbare taal.

Volgens artikel 22, moet iemand wat ’n kennisgewing, dokument of visuele voorstelling, wat ingevolge hierdie wet of enige ander wet aan ’n verbruiker voorlê, voorsien of vertoon, dit doen volgens die voorskrifte in die wet, in gewone taal, indien geen vorm daarvoor voorgeskryf is nie.

Gewone taal is volgens artikel 22 taal wat mens sal verwag dat ’n gewone verbruiker van die klas mense vir wie die kennisgewing, dokument of visuele voorstelling bedoel is, met gemiddelde geletterdheidsvaardighede en minimale ondervinding as ’n verbruiker daarvan sonder onnodige inspanning kan verstaan met betrekking tot die inhoud, betekenis en belang daarvan.

Dit sluit die samehang, omvattendheid en konsekwentheid daarvan in, sowel as die samestelling, vorm en styl, woordeskat, sinstruktuur, gebruik van illustrasies, voorbeelde, opskrifte of ander hulpmiddels om te lees en verstaan.

As jy nie Engels goed verstaan nie, kan hierdie bepalings nie van krag wees nie.

Artikel 40

Artikel 40 van die wet is in Deel F, wat handel oor die verbruiker se reg tot billike en eerlike handeling, met artikel 40 wat spesifiek fokus op gewetenlose gedrag. Volgens hierdie artikel is dit gewetenloos vir ’n handelaar om die feit te gebruik dat ’n verbruiker wesenlik nie in staat was om sy eie belange te beskerm nie weens fisieke of geestelike gestremdheid, ongeletterdheid, onkunde of onvermoë om die taal van ’n ooreenkoms te verstaan. Hier dui die wet weer aan dat verbruikers ooreenkomste moet kry in ’n taal wat hulle verstaan.

Artikel 49

Hierdie artikel is deel van Deel G van die wet wat handel oor die verbruiker se reg tot billike, regverdige en redelike voorwaardes. Artikel 49 fokus op die kennisgewing wat vereis word vir sekere voorwaardes.

Dit bepaal dat ’n kennisgewing of bepaling van ’n verbruikersooreenkoms, wat die handelaar se risiko of aanspreeklikheid beperk, of die verbruiker verantwoordelikheid laat aanvaar, of die verbruiker verplig om enigiemand te vrywaar, of die verbruiker enige foute onder die verbruiker se aandag gebring moet word onder meer in gewone taal, soos in artikel 22 beskryf, gedoen word.

Kortom: selfs die tekens wat aandui dat jy byvoorbeeld ’n reksprong op eie risiko doen, moet ook in Afrikaans (of watter amptelike taal jy ook al praat), beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.