Verbruikersake: Kies reg met skuldberading

skuld-krediet-afbetaling-belasting-sakrekenaar-rekenaar-boekhou

Foto: FirmBee/Pixabay.com

Of ’n mens die resessie waarin ons ekonomie verkeer, nou ʼn tegniese resessie of ʼn gewone resessie noem, die feit bly staan dat verbruikers sukkel om hul skuld te betaal en dikwels nie weet hoe om die wolf van die deur weg te hou nie. Skuldberading is een uitweg vir verbruikers wat raadop is, maar dit is belangrik om die proses reg te benader. Ina Opperman het by die Nasionale Kredietreguleerder (NKR) gaan raad vra.

Die heel belangrikste wanneer jy sukkel om jou skuld maandeliks te vereffen, is om nie net stil te bly en niks daaraan te doen nie. Skuldberading deur geregistreerde skuldberaders ingevolge die Nasionale Kredietwet is een van die oplossings wat jy kan oorweeg, sê Kedilatile Legodi, bestuurder van skuldberading by die kredietreguleerder.

Skuldberading sluit raad in oor hoe om te begroot vir jou maandelikse uitgawes en onderhandelings met kredietverskaffers om jou maandelikse skuld te verminder en jou skuld te herstruktureer. Wanneer jy nie meer al jou skuld en jou lewenskostes uit jou inkomste kan betaal nie, is jy waarskynlik oorbelas.

Wanneer om hulp te soek

Nóg tekens dat jou skuldlas te swaar is, is wanneer jy geld moet leen met persoonlike lenings om ander lenings af te betaal of jou kredietkaart of oortrokke fasiliteit gebruik om vir skuld en noodsaaklikhede soos kos te betaal. Jy is moontlik ook oorbelas as jy sommige betalings oorslaan om ander te betaal en as jy briewe begin kry met waarskuwings van regstappe as jy nie jou skuld betaal nie.

Wanneer jy agterkom jou skuldlas is te swaar en jy is oorbelas, kan jy eers self met almal aan wie jy geld skuld, onderhandel om jou paaiemente te verlaag, sê Legodi, maar as dit nie werk nie, moet jy daaraan dink om ʼn skuldberader se hulp in te roep.

Wie kwalifiseer vir skuldberading?

Net mense wat ’n vaste werk het, met ʼn inkomste wat gebruik kan word om die verminderde paaiemente te betaal, kwalifiseer vir skuldberading.

Belangrik om te weet

Skuldberading kanselleer nie jou skuld nie. Dit help jou om maandeliks minder te betaal met jou beskikbare inkomste.

Implikasies

Skuldberading sal die volgende implikasies op jou lewe hê:

  • Terwyl jy onder skuldberading is, mag jy nie vir nóg krediet aansoek doen nie.
  • Jou kredietrekord by die kredietburo sal aandui jy kry skuldberading totdat die berader ʼn klaringsertifikaat uitreik dat jou langtermynskuld, soos jou huislening nie meer agterstallig is nie en jou korttermynskuld, soos jou motor, afbetaal is.

Onthou

  • Doen net aansoek vir skuldberading by ʼn skuldberader wat geregistreer is by die kredietreguleerder. Vra vir bewys van registrasie en as jy steeds wonder, vra by die reguleerder self of die berader geregistreer is.
  • Maak seker jy verstaan die skuldberadingsproses, sowel as jou regte en verpligtinge voordat jy aansoek doen.
  • As jy binne gemeenskap van goedere getroud is, moet jy saam met jou eggenoot om skuldberading aansoek doen.
  • Alle aansoeke om skuldberading moet bevestig word deur ʼn hofbevel of toestemmingsbevel.
  • Skuldberading word nie gratis gedoen nie, maar die tariewe word voorgeskryf deur die reguleerder.
  • Jy het die reg om te weet waarom jou aansoek om skuldberading nie toegestaan word nie.
  • Jy moet nooit direk geld aan die skuldberader betaal om jou rekeninge te vereffen nie. Betaal jou rekeninge self of gebruik ʼn agent wat by die reguleerder geregistreer is.
  • Bespreek alle struikelblokke altyd eers met die skuldberader en maak seker hy hou jou op hoogte van die proses.
  • Wees verantwoordelik vir jou finansies wanneer jy skuldberading kry.
  • Maak seker dat jy korrekte inligting verskaf wanneer jy aansoek doen, betaal gereeld volgens die herstruktureringsplan, maak seker betalings word wel gedoen as jy ʼn agent gebruik en maak seker jy begryp die proses, tariewe en implikasies.
  • Die tydsduur van skuldberading hang af van jou finansiële omstandighede en die soort kredietooreenkomste wat jy het.
  • Loop lig vir advertensies wat belowe dat jy tot 60% kan spaar op jou maandelikse paaiemente. Skuldberading is nie ʼn spaarplan nie.

Kla hier

As jy oor jou skuldberader wil kla of ʼn geregistreerde agent wil vind om jou betalings te doen, bel die Nasionale Kredietreguleerder by 011 554 2600 of besoek die webwerf by www.ncr.org.za.

Finansiële welstand is uiters belangrik om produktief te kan werk en gelukkig te kan leef. Solidariteit het daarom besluit om ʼn splinternuwe ledevoordeel saam met ons vennote, Serfontein Viljoen en Swart Prokureurs en DebtGrip ( Edms) Bpk, te ontwikkel. Meeste van ons sukkel geweldig met hoë vlakke van huishoudelike skuld en ons praat nie graag daaroor nie. DebtGrip help met raad en bied ook ondersteuning om jou uit finansiële verknorsing te red.

*Solidariteit-lede ontvang 50%-afslag op die aanvangsfooi.

Vir meer inligting, klik hier.
Vir vertroulike navrae en advies kontak: [email protected] of 087 654 7323

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

koos1 ·

Ek wil die skrywer ondersteun. Mense moet asb huiswerk doen voordat daar op skuldberading besluit word. Dis een van die maklikste opsies maar ook een van die duurstes vir jou eie sak. ‘n Ander opsie is “Alternative Dept Resolution Agents”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.