Verbruikersake: Koop só maklik en veilig aanlyn

aankope-aanlyn-internet

Foto: Negative Space/Pexels.com

Al hoe meer Suid-Afrikaanse verbruikers koop deesdae alles, van boeke en geskenke tot speelgoed en klere aanlyn, maar in meningsopnames dui die meerderheid van hulle aan dat hulle die proses nie heeltemal vertrou nie. Ina Opperman verduidelik wat jou regte is wanneer jy aanlyn inkopies doen en hoe jy kan seker maak dat jy veilig koop.

Van die algemeenste probleme waaroor verbruikers kla wanneer hulle aanlyn koop, is dat goedere nie afgelewer word nie, dat hulle nie hul geld terugkry as hulle iets terugstuur nie en dat die goedere nie van goeie gehalte is nie of nie eens lyk soos dit wat hulle volgens foto’s bestel het nie.

Volgens die PayPal Cross-Border Consumer Research 2016 Global Summary Report gaan Suid-Afrikaanse verbruikers in 2018 na verwagting meer as R53 miljard aanlyn bestee. Dit is ʼn klomp geld en dit is ons plig as verbruikers om seker te maak ons kry waarde vir ons geld.

Die eerste stap om te verseker jy kry waarde vir jou geld, is om seker te maak die transaksie voldoen aan die vereistes van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies en die Wet op Verbruikersbeskerming.

Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies

Hierdie Wet bepaal die maatskappy moet die onderneming se volle naam en regstatus gee op sy webtuiste, saam met sy straatadres en telefoonnommer, die webadres en e-posadres. Die faktuur moet die volledige prys van die produk aandui en dit moet vervoerkoste, belasting en enige ander kostes insluit. Jy moet ook die geleentheid kry om die elektroniese transaksie te hersien.

Die webtuiste moet ook die volgende inligting duidelik gee:

  • Hoe jy kan betaal: Die webtuiste moet duidelik aandui of jy met ʼn krediet- of debietkaart of direk met ʼn elektroniese oorplasing na sy rekening kan betaal. Volle bankbesonderhede moet gee word vir elektroniese oorplasings. Wees hier veral versigtig om geld in ʼn spesifieke persoon se rekening in te betaal en nie in die onderneming se rekening nie. ʼn Onderneming wat reg bedryf word, sal nie van jou verwag om geld in ʼn individu se rekening in te betaal nie.
  • Wanneer jou produkte afgelewer word: As jy goedere teen ʼn bepaalde datum nodig het, moet jy seker maak dit word betyds afgelewer. Jy moet ook weet wanneer jy dit kan verwag, sodat jy kan seker maak dit word wel afgelewer.
  • Die beleid oor produkte wat teruggestuur of omgeruil word: Aangesien jy eintlik “blind” koop, is dit belangrik om te weet jy kan iets waarmee jy ontevrede is, terugstuur om jou geld terug te kry of om die produk om te ruil.
  • Hoe terugbetalings gedoen word: Dit is belangrik om te weet hoe gou terugbetalings gedoen word. Die beleid is gewoonlik dat jou geld terugbetaal word in die rekening waaruit jy betaal het, sodra die maatskappy die teruggestuurde produk ontvang.
  • Wat die maatskappy doen om jou inligting te beskerm: Jy gee te goeder trou jou persoonlike inligting, soos jou ID-nommer en kredietkaartbesonderhede, aan die maatskappy op sy webtuiste en dit is belangrik om te weet dat dit vertroulik gehou en beskerm word teen kuberkrakers en ander e-skurke.

Dit is belangrik om te onthou dat ʼn Facebook-blad nie ʼn webtuiste is nie en dus nie voldoen aan die vereistes van die Wet nie.

Wet op Verbruikersbeskerming

Die Wet bevat verskeie bepalings wat jou beskerm wanneer jy aanlyn inkopies doen:

  • Artikel 18 bepaal dat jy die reg het om goedere te kies of na te gaan en as jy die goedere net op grond van ’n beskrywing koop, moet dit wesenlik ooreenstem met dit wat ’n gewone en waaksame verbruiker op grond van die beskrywing kon verwag.
  • Artikel 19 van die Wet op Verbruikersbeskerming bepaal die maatskappy is verantwoordelik daarvoor om goedere binne ʼn redelike tydperk af te lewer, tensy anders ooreengekom. As jou bestelling nie betyds aflewer word nie, kan jy dus die transaksie kanselleer.
  • Artikel 20 bepaal dat jy die reg het om goedere terug te gee binne tien werksdae as jy dit nie self kon nagaan voordat jy dit gekoop het nie, as die verkeerde goedere gestuur is, as jy van die goedere wat afgelewer is nie bestel het nie of as dit nie geskik is vir die doel waarvoor jy dit gekoop het nie. Die maatskappy moet dan die koste dra om dit terug te stuur en moet ook die risiko dra. As jy nog nie die produk uit die verpakking gehaal het nie, moet die volle bedrag wat jy betaal het, aan jou terugbetaal word, maar as jy die produk reeds uit die verpakking gehaal het, kan die maatskappy ʼn redelike bedrag aftrek om die produk weer te verpak, tensy jy verplig was om die produk uit te haal om dit na te gaan.
  • Artikel 41 bepaal dat maatskappye nie valse, misleidende of bedrieglike voorstellings mag maak nie. Dit beteken dat valse, misleidende of bedrieglike voorstellings oor wesenlike feite oor die produk nie gemaak of geïmpliseer mag word nie. Oordrywing, insinuasie of dubbelsinnigheid en die versuim om ’n wesenlike feit bekend te maak, word ook nie toegelaat nie. Die maatskappy mag ook nie aandui dat die produk bestanddele, kenmerke, bybehore, nut, voordele, gehalte of goedkeuring, ’n bepaalde standaard, gehalte, graad, styl of model is, nuut of ongebruik is, as dit nie die geval is nie.
  • Artikel 47 van die Wet bepaal ook ʼn maatskappy mag nie jou geld aanvaar as hy nie beplan om dit af te lewer nie. Indien die voorraad op is, moet die maatskappy jou geld terugbetaal.
  • Artikel 55 van die Wet bepaal dat dit jou reg is om veilige goedere van goeie gehalte te kry. Dit moet geskik wees vir die doel waarvoor dit bedoel is en van goeie gehalte, in goeie werkende toestand en vry van enige defekte wees en vir ’n redelike tydperk bruikbaar en duursaam wees. Dit moet ook aan enige toepaslike standaarde kragtens die Wet op Standaarde voldoen.
  • Artikel 56 bepaal ook dat alle goedere ʼn versweë waarborg van gehalte het. Jy kan goedere binne ses maande aan die verskaffer teruggee op die verskaffer se onkoste en risiko, indien dit nie aan die vereistes en standaarde in artikel 55 voldoen nie en die maatskappy moet dit herstel of vervang of jou geld terug betaal.

Kla hier

Verbruikers kan kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantore vir verbruikersake oor aanlyn inkopies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.