Verbruikersake: Om­buds­man kry amper R200 miljoen vir verbruikers terug

lewensversekering-rawpixelcom

Foto: Rawpixel/Pexels.com

Die ombudsman vir langtermynversekering het onlangs in sy jaarverslag bekend gemaak dat hy gedurende 2017 R193,3 miljoen vir verbruikers teruggekry het en vergoeding vir 150 klaers ter waarde van R531 429 beding het. Ina Opperman het na bepaalde klagtes wat in die jaarverslag genoem is, gaan kyk om te sien wat ons daaruit kan leer om probleme met langtermynversekering te voorkom.

Gedurende 2017 het die ombudsman 10 786 geskrewe klagtes ontvang en 5 435 daarvan was klagtes wat nie oorspronklik by die versekeraar ingedien is nie en deur die ombudsman terug na die versekeraar gestuur is om op te los. Sowat 24% van hierdie klagtes is opgelos tot voordeel van die klaers. Van die klaers was daar 9% wat gekla oor kredietlewensversekering, 37% oor begrafnispolisse, 10% oor gesondheidsversekering, 11% oor ongeskiktheidsvoordele en 33% oor lewensversekering.

Die klaers oor lewensversekering het die meeste gekla oor swak kommunikasie, dokumente of inligting wat nie verskaf is nie en swak diens (928). Daar was ook klagtes oor eise wat afgewys is omdat die polisvoorwaardes nie nagekom is nie (1 103), eise wat afgewys is omdat alle besonderhede nie verskaf is nie (88), ontevredenheid met die polisprestasie en uitbetalingswaarde (136), ontevredenheid met die afkoop- en opbetaalde waardes (67), wanvoorstellings (14) en polisse wat verval (174).

Volgens die verslag het die kategorie vir eise wat afgewys is, die meeste klagtes gehad, met swak diens in die tweede plek. Die ombudsman het die neiging waargeneem dat klagtes in die kategorie vir inligting wat nie met aansoek verskaf is nie, besig is om stadig toe te neem – van 3% in 2011 tot 5,74% in 2017. Dit word toegeskryf aan verskeie faktore soos, onder meer, direkte verkope, meer geoutomatiseerde onderskrywing, druk op versekeraars om nuwe polisse uit te kry en heel moontlik mense wat oneerlik is wanneer hulle polisdokumente invul.

Die meeste mense (847) het gekla oor Old Mutual Life Assurance, terwyl Liberty Group 600 klagtes gekry het, Hollard 845, Metropolitan 421 en MMI Holdings Limited, 262. Net 25,4% van die Old Mutual-klagtes is egter in die guns van die verbruiker opgelos, terwyl 32,4% van die klagtes oor Liberty in die verbruiker se guns opgelos is.

Eise wat afgewys is omdat die polisvoorwaardes nie nagekom is nie

Dit is baie belangrik om te weet presies wat jou polisvoorwaardes is sodra jy jou polisdokument ontvang. Die voorwaardes dui presies aan waarvoor jy gedek is en waarvoor nie. Indien jou polisvoorwaardes byvoorbeeld aandui dat dit nie gaan uitbetaal indien jy aan ’n siekte sterf wat jy reeds gehad het toe die polis uitgeneem is nie, sal die versekeraar beslis nie uitbetaal indien jy wel aan die siekte sterf nie.

Eise wat afgewys is omdat die polisvoorwaardes nie nagekom is nie

’n Mens kan nie ophou om dit te sê nie: wees baie eerlik wanneer jy aansoek doen om ’n langtermynversekeringspolis. Moenie oorerflike siektes verswyg of inligting oor jou gesondheid uitlaat nie. Wanneer daar teen jou polis geëis word en al die inligting is nie aangedui nie, sal die eis nie uitbetaal word nie. Dit kan beteken dat jou gesin swaarkry indien jy sterf of dat jyself swaarkry in die geval van ongeskiktheid. Betaal liewer meer op jou premie as om inligting te weerhou.

Ontevredenheid met die polisprestasie en uitbetalingswaarde

Mense kla dikwels oor die prestasie van ’n polis en die uitbetalingswaarde en sê dat dit glad nie soveel uitbetaal het of gaan uitbetaal soos aan hulle voorgehou is toe hulle die polis uitgeneem het nie. Onthou egter dat die waardes wat die makelaar gebruik, net illustratiewe waardes is en dat die uiteindelike waarde bepaal word deur die ekonomie en niemand kan dit werklik raak voorspel nie.

Wanvoorstellings

Niemand is baie lief vir vorms invul en allerhande ingewikkelde dinge te lees terwyl iemand sit en wag dat jy teken nie. Mens kan dan omdraai en sê ’n polis was ’n wanvoorstelling, maar dit is nie altyd die geval nie. Maak altyd heeltemal seker wat jy koop, deur vrae te vra totdat jy elke dingetjie op die polis verstaan. Moenie bang wees om vrae te vra nie en moenie bang wees mense dink jy is dom nie. Die dom een is hy wat die polis teken sonder om alles te verstaan.

Polisse wat verval

Polisse is iets waarvoor mens nie so maklik betaal soos vir ’n vakansie nie, maar dit is ’n noodsaaklike uitgawe. Maak seker dat jou polisse altyd betaal is en indien nie, stel dit dadelik reg. As iets gebeur en die polis is nie op datum nie, sal die versekeraar weier om jou eis te betaal.

Besoek die ombudsman vir langtermynverskering se webtuiste by www.ombud.co.za as jy oor langtermynversekering wil kla.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Clyvia ·

Net gou ‘n vinnig vraag. Kan mens MTN by die Ombudsman aangee indien jy ‘n klagte het van nie deur hulle opgelos word nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.