Verbruikersake: Ongevraagde goedere en dienste

pakkie-aflewering

Foto: @benchaccounting/Unsplash.com

Wanneer jy die aflewering van goedere of dienste kanselleer en dit word steeds afgelewer, is die goedere of die diens joune en kan die verskaffer van jou verwag om dit maar te aanvaar en daarvoor te betaal? Volgens die Wet op Verbruikersbeskerming is dit nie so eenvoudig nie. Ina Opperman verduidelik wat jou regte is wanneer ongevraagde goedere of dienste wel gelewer word.

Artikel 21 van die Wet op Verbruikersbeskerming maak dit duidelik wat verbruikers se regte is met betrekking tot ongevraagde goedere en dienste.

Wat is ongevraagde goedere of dienste?

Ongevraagde goedere of dienste is volgens die wet:

  • Goedere of dienste wat by ’n verbruiker gelaat of gedoen is sonder om betaling daarvoor te vereis of te reël;
  • Goedere of dienste wat wesenlik verskil van dié wat voorheen verskaf is sonder dat jy daartoe ingestem het en goedere wat ná beëindiging van die ooreenkoms afgelewer is wanneer jy ’n ooreenkoms met ’n verskaffer het om periodiek goedere of dienste te verskaf;
  • Goedere of dienste wat verrig is by ’n plek en op ’n datum of tyd anders as waarop julle ooreengekom het en die verbruiker verwerp dit ingevolge artikel 19;
  • Goedere of dienste waarvan meer gelewer is as wat die verbruiker bestel het;
  • Goedere en dienste wat gelewer is sonder dat jy dit versoek het.
  • Goedere en dienste wat foutiewelik gelewer is, maar die verskaffer het die verbruiker nie daarvan in kennis gestel binne tien werksdae nie en dit nie binne twintig werksdae kom haal nie; en
  • Goedere wat duidelik aan iemand anders geadresseer en ooglopend verkeerd afgelewer is, terwyl dit vir ’n gewone waaksame verbruiker duidelik sou wees dat dit vir iemand anders bestem is, die verbruiker die verskaffer laat weet en dit nie binne twintig werksdae afgehaal word nie.

Onthou

Jy mag egter nie:

  • Iemand wat die goedere kom haal, frustreer of verhinder om dit te doen nie;
  • Verantwoordelik gehou word vir enige koste om die goedere terug te neem of aan iemand anders af te lewer nie; en
  • Verantwoordelik gehou word vir enige verlies of skade aan die goedere nie, behalwe as jy dit opsetlik veroorsaak.

Wat gebeur dan?

Volgens artikel 21 kan jy die goedere dan hou of dit aan die verskaffer terugbesorg op sy risiko en onkoste. Die goedere is dan jou eiendom tensy iemand anders ’n geldige aanspraak daarop het en die verskaffer moet verantwoording doen aan iemand anders wat dit eintlik moes gekry het.

Jy is nie verplig om vir die ongevraagde goedere of dienste of die aflewering te betaal nie.

Indien ’n verbruiker wel vir ongevraagde goedere of dienste betaal het, moet die verskaffer die verbruiker terugbetaal met rente.

Dit het al gebeur

Die ombudsman vir verbruikersgoedere en -dienste het al ’n geval hanteer waar die verbruiker ongevraagde goedere gekry het. Die verbruiker het verskeie goedere aanlyn bestel, maar die aflewering van ’n televisiestel gekanselleer. Die verskaffer het die kansellasie bevestig en gereël dat die verbruiker se geld terugbetaal word.

Die televisiestel is egter saam met die ander goedere afgelewer en die verbruiker het die televisiestel verkoop aangesien sy gemeen het dit is ongevraagde goedere volgens die wet. Die verskaffer het egter gesê dit was ’n afleweringsfout.

Die ombudsman het die klagte opgeweeg teen die bepalings van artikel 21 van die wet, wat duidelik lui dat goedere wat afgelewer word sonder dat die verbruiker duidelik daarvoor gevra het, ongevraagde goedere is, maar aangesien eiendomsreg nog nie aan die verbruiker toegeken was nie, moes die verbruiker op die ou end daarvoor betaal.

Kla hier:

Jy kan jou klagte oor ongevraagde goedere of dienste direk op die webwerf van die ombudsman indien by http://www.cgso.org.za/, of jy kan die inbelsentrum skakel by 0860 000 272.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

charles ·

waar val “promotional” sms’e in waarvoor mens nie gevra het nie?
Ek het gaan kla by die “Consumer Protector” toe sê hulle gaan na die NCC toe, daar gekom toe sê hulle nee, nader die goods and services ombudsman, en DIE sê toe weer, nee hulle doen nie dit nie, nou wat nou? My klagtes by die plekke wat dit stuur val op dowe ore en ek word van bakboord na stuurboord gestuur! en in die meantime hou die sms’e net volstoom aan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.