Verbruikersake: Oppas vir daardie ‘skoonmakers’ van kredietrekords

Argieffoto.

Verbruikers hoor gereeld van ondernemings wat aanbied om hul kredietrekords skoon te maak, teen ’n stywe tarief natuurlik. “Kredietprobleme? Geen probleem! Skep ’n nuwe kredietidentiteit! Ons verwyder bankrotskap, slegte skuld en hofbevele vir altyd van jou kredietprofiel! ” en “Ons haal jou van die swartlys af! ”, is van die beloftes wat die ondernemings maak. Nadat jy jou swaarverdiende paar duisend rand betaal het, kom die slegte nuus: Jy is so sleg in die skuld, dat die onderneming jou nie kan help nie. En jou geld word nie terug betaal nie. Ina Opperman waarsku dat verbruikers nie vir hierdie skemas moet val nie en verduidelik wat jy kan doen om self jou kredietrekord “skoon te maak”.

Mense wat vir hierdie soort skemas val, is gewoonlik klaar desperaat om hul kredietrekords “skoon” te kry omdat hulle vir krediet of werk wil aansoek doen en sal daarom hul laaste paar rande betaal om dit te doen. Dit is egter belangrik om te onthou dat niemand behalwe jyself dit kan doen nie en dat niemand anders dit teen betaling vir jou kan doen nie.

Volgens die kredietombud sal net tyd, ’n doelgerigte poging en die dissipline van ’n skuldafbetalingsplan help om jou kredietrekord beter te laat lyk. Indien daar ’n fout op jou kredietrekord by die kredietburo is, kan die kredietombud se kantoor jou help om dit reg te stel – gratis. Jy het net ’n prokureur se hulp nodig (waarvoor jy moet betaal) indien jy ’n hofbevel oor slegte skuld van jou kredietrekord wil laat verwyder.

Oppas!

Die ombud waarsku verbruikers om lig te loop vir ondernemings wat belowe om jou kredietrekord “skoon” te maak, maar:

  • jy moet betaal vir die diens voordat dit gelewer is;
  • jy word nie ingelig oor wat jy self kan doen en wat jou regte volgens wet is nie;
  • jy word aangemoedig om nie direk met die kredietburo te praat nie; en
  • jy word aangemoedig om al die inligting op jou kredietrekord te bevraagteken sonder dat die geldigheid daarvan met die kredietverskaffers nagegaan is.

Doen dit self

Niemand kan akkurate, negatiewe inligting wat wettig op jou kredietprofiel verskyn, verwyder nie. Wanneer jy aansoek doen vir krediet en dit word geweier, moet die kredietverskaffer vir jou die kredietburo se kontakbesonderhede gee en jy kan dit verder met die kredietburo oplos indien die inligting verkeerd is.

  • Die eerste stap is om jou kredietrekord van die kredietburo te kry sodat jy kan sien of negatiewe inligting daarop verskyn. Jy kan niks doen sonder jou kredietrekord nie.
  • As daar verkeerde inligting op jou kredietrekord verskyn, kan jy by die bepaalde kredietburo kla daaroor. Die kredietburo sal vir jou ’n verwysingsnommer vir jou klagte gee en die inligting waaroor jy kla, verwyder. Die kredietburo moet binne twintig werksdae geloofwaardige inligting kry wat die inligting op jou kredietverslag bevestig of bewys dat dit wel ’n fout is. Indien die inligting waar is, kan die kredietburo die inligting weer op jou kredietrekord aanbring.
  • Indien jy ná die twintig werksdae steeds nie tevrede is met die inligting op jou kredietrekord nie, kan jy by die ombud kla, wat dan deeglik ondersoek sal instel na jou klagte en sal vra vir geskrewe verslae en bewyse.
  • Die ombud sal dan (dadelik of later) besluit oor jou klagte na gelang van die beskikbare bewyse.
  • Indien die ombud in jou guns besluit, sal die inligting permanent van jou kredietrekord verwyder word, maar indien nie, sal die inligting weer op jou kredietrekord verskyn.
  • As jy nie tevrede is met die ombud se besluit nie, kan jy daarteen appelleer by die Nasionale Kredietreguleerder.

Dit is ’n goeie idee om jaarliks jou kredietrekord na te gaan al het jy nie skuldprobleme nie of al doen jy nie aansoek vir krediet nie. Jy kan jaarliks ’n gratis afskrif van jou kredietrekord by ’n kredietburo kry en indien jy meer dikwels een wil kry, kos dit omtrent R20. Jy kan jouself só beskerm teen foutiewe inligting en mense wat jou identiteit steel en rekeninge op jou naam open.

Kla hier:

Kla oor verkeerde inligting op jou kredietrekord by die Ombud vir Kredietinligting. Bel die kantoor by 0861 66 2837 of besoek die webtuiste by www.creditombud.org.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.