Verbruikersake: Oppas vir hierdie korttermynversekeringseise

versekering-motors-huis-lewens

Foto: Kalhh/Pixabay.com

Volgens die ombudsman vir korttermynversekering se jaarverslag vir 2017, wat verlede bekendgemaak is, het die meeste verbruikers by die ombudsman gekla oor motorversekeringseise (49,3%), huiseienaarsversekeringseise, (20,4%), sake-eise (7,9%) en huisinhoudsversekeringseise (6,2%). Ina Opperman het gaan kyk waaroor verbruikers gekla het en hoe hulle soortgelyke klagtes in die toekoms kan vermy.

Klagtes oor motorversekeringseise

Die meeste van die klagtes (74%) oor motorversekeringseise het gehandel oor ongelukskade, volgens die statistiese analise wat Ayanda Mazwi, senior assistentombudsman, van die klagtes gedoen het.

Die klagtes oor ongelukskade het hoofsaaklik gehandel oor klagtes wat afgewys is omdat die bestuurder onder die invloed van alkohol was, wat wys dat bestuur onder die invloed nog ’n groot risiko in Suid-Afrika is.

Vermy hierdie soort klagte: Moenie bestuur as jy alkohol gedrink het nie en maak liewer gebruik van jou versekeraar se diens, wat ingestel is om die risiko te verminder van mense wat drink en bestuur, om jou huis toe te vat.

Die tweede meeste aantal klagtes oor eise wat afgewys is, was omdat polishouers wanvoorstellings gemaak het van onderskrywingsbesonderhede toe die polis gekoop is, soos wie gewoonlik die motor bestuur, vorige versekerings- en eisegeskiedenis, kredietrekord, veiligheidsmaatreëls en of die voertuig vir persoonlike doeleindes of sake gebruik word.

Vermy hierdie soort klagte: Wees eerlik en gee korrekte inligting wanneer jy aansoek doen om motorversekering.

’n Beduidende aantal klagtes was oor eise wat afgewys is omdat die polishouer nie versigtig genoeg was en verlies voorkom het nie. Die ombudsman oorweeg net hierdie klagtes indien daar ’n kousale verband is tussen die versekerde se optrede en die ongeluk.

Vermy hierdie soort klagte: Wees versigtig wanneer jy jou motor gebruik.

Daar was ook heelwat klagtes oor die bedrae wat uitbetaal is en hoe die bedrae bereken is ten opsigte van die totale verlies wanneer die voertuig gesteel of afgeskryf is en die verbruiker nog geld op die voertuig aan die kredietverskaffer skuld.

Vermy hierdie soort klagte: Sorg dat jou motor verseker is vir die bedrag wat jy nog daarop skuld.

Eise oor waarborge en meganiese probleme het 9% van die klagtes beloop en was dikwels die gevolg van die versekeraar se raad wanneer die motor verseker word.

Vermy hierdie soort klagte: Maak dubbel seker wat verseker word en wat nie, wanneer jy ’n langtermynwaarborg of versekering vir meganiese probleme uitneem.

 Klagtes oor huiseienaarseise

Weens die buitengewone weersomstandighede in 2017 was heelwat van die klagtes oor eise teen huiseienaarsversekering wat afgewys is oor natuurrampe, veral stormskade. 11% van die klagtes was oor waterapparate en 4% oor diefstal. Die hoofoorsaak was ontevredenheid met klagtes wat afgewys is op grond van skade weens gewone slytasie en onderhoud, wat nie die versekeraar se verantwoordelikheid is nie.

Vermy hierdie soort klagte: Sorg dat jou eiendom behoorlik onderhou word om skade weens uiterste weersomstandighede en ander rampe te beperk of verhoed.

Die tweede meeste klagtes oor huiseienaarsversekeringseise was oor die bedrae wat uitbetaal is, veral wanneer die verbruiker onderverseker was.

Vermy hierdie soort klagte: Maak seker dat jy nie onderverseker is nie.

Verskeie klagtes het ook gehandel oor eise wat afgewys is omdat die versekerde gebeurtenis nie plaasgevind het nie.

Vermy hierdie soort klagte: Moenie eis vir iets wat byvoorbeeld gesteel is as dit nie die geval is nie.

Klagtes oor huisinhoudsversekeringseise

Eise vir diefstal en inbrake het 73% van die klagtes oor huisinhoudsverskeringseise uitgemaak. Van hierdie klagtes was 7% oor natuurrampe, 6% oor ongelukskade en 5% oor kragstuwings. Die meeste klagtes was oor die bedrae wat uitbetaal is, terwyl heelwat van die klagtes ook die gevolg was van onderversekering en vervangingswaarde of die verbruikers se onvermoë om eienaarskap of die waarde van die goedere te bewys.

Vermy hierdie soort klagte: Maak ’n lys van jou huisinhoud en maak seker jy het bewys van eienaarskap, soos afskrifte van kwitansies en waardasiesertifikate wat jy elders hou.

Kla by die ombudsman vir korttermynversekering op die webwerf www.osti.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Marina ·

Die groot probleem met hierdie kortternynverseker maatskappye is dat hulle “claim free” kliente wil he hulle vat jou geld elke maand vir jare en sodra jy net eis in enige geval waarvoor jy gedek is dan is jy sommer n hoee risiko vir hulle en dan word jou polis gekanseleer en jy word geswart lys!!vra my ek is n slagoffer daarvan by Miway! Ek stel voor kry eerder versekerring deur jou bank en sny die middel man uit want hulle sal n rede soek om nie te betaal nie!!!

Arrie ·

Kry vir jou n makelaar en verstaan dan reg hoe die ingewikkelde wereld van versekering in mekaar steek. Wanneer dit by versekering kom is die ou gesegde “Goedkoop koop is duur koop” beslis waar. n Makelaar is jou eerste Ombud en hy hou die versekeraar vir jou eerlik.

MAKELAAR ·

Glo my as ek vir jou vertel hoeveel kliente ons daagliks mee te doen het wat presies hierdie probleme ondervind, en hoeveel van hulle kanse waag. hoeveel kliente beweer dat hulle het versekering, betaal ‘n maandelikse premie, so ek mag die maandelikse premie in eise maandeliks indien. Die ander wat nie eis nie, loop deur omdat premies verhoog agv hiervan. Need I say more? om nie van die ‘ag ek eis sommer gou’ eise te praat as jou bankrekening begin leeg loop.

Karolis ·

Baie belangrik, onthou, versekering is ook ‘n besigheid wat ‘n wins moet toon. Hoekom verwag jy dat hulle moet verloor?

Cherokee ·

Sinvolle kommentaar Karolis. Te veel mense dink korttermynversekering is liefdadigheid. Dit is dwaas om nie korttermynversekering te hê nie. Ek het iemand geken wat vir koedoes uitgeswaai het en ‘n Porche getref het. Ek het iemand geken wat ‘n stilstaande kar van agter getref het en onder die kar het die bestuurder gelê en herstelwerk doen. Almal doen dom dinge somtyds en een onnadenkende beweging kan maak dat jy iemand anders se miljoen rand kar afskryf saam met joune. ‘n Weerligstraal kan maak dat iemand se huis afbrand en ‘n skaker kan jou op jou voete help. Korttermynversekering is ‘n moet vir ‘n rustige gemoed.

anton ·

Versekerings maatskappye moet n sekere hoeveelheid iese afkeur.
Baie gevalle is n eis regverdig maar hulle soek of skep n rede om dit nie te laat slaag nie.
Ek was al n slagoffer van hulle gewees bo en behalwe dat jy ook n slagoffer van die skelms is wat jou beroof het.
Nee wat, ek bly so ver weg van hulle as moontelik en spandeer daai geld eerder om ekstra veiligheid aan te bring by my woning.
Hoekom moet ek n plek rykmaak maar as ek hulle nodig het beteken hulle niks vir my nie?

DinkBietjie ·

Natuurlik sal jy die versekerings bedryf wil verdedig as hulle jou salaris betaal. Ek sal ook nie my naam noem sou ek ‘n makelaar is nie. Ek het oor die vele jare gesien hoe word mens gerook, deur versekerings maatskappye, jou premies bly styg, jy betaal vir jare, maar moet tog net nie eis nie. Die kontrakteurs wat party banke gebruik se werk is so pateties, jy kon die werk beter jouself doen. Daar is ‘n rede hoekom die versekeringsbedryf nie gewild is nie. Moet ook asseblief nie maak asof die publiek gedurig die skelms is nie. ‘n Storie het ‘n paar kante.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.