Verbruikersake: Oppas vir vinnige geldmaakskemas

bodemlose-put

Maak só seker jou belegging verdwyn nie in ‘n bodemlose put nie. Foto: Villains.wikia.com

Baie verbruikers het al hul rieme styf geloop met skemas waar mens vinnig ryk kan word deur geld te belê en groot rente te verdien. Dink maar aan Marietjie Prinsloo se Krion-skema wat baie mense in die Vaaldriehoek se lewens verwoes het. Mense belê egter steeds hul geld in skemas wat beloftes maak dat jy jou geld kan verdubbel. Ina Opperman verduidelik wat jy kan doen om seker te maak jou belegging verdwyn nie in ʼn bodemlose put nie.

Die Reserwebank ondersoek talle onwettige skemas op enige gegewe tyd en volgens die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric), bewys dit hoe maklik mense vir hierdie skemas val en hoe goed die mense daaragter mense kan ompraat om van hul spaargeld afstand te doen vir beloftes van vinnige groei en rykdom.

Volgens die jongste jaarverslag van die Reserwebank se bankoorsigdepartement het die departement tussen Januarie 2012 en Desember 2016 altesaam 63 onwettige skemas ondersoek. Die departement het gesê hy is bekommerd daaroor dat verbruikers hul geld belê in skemas wat hulle weet onwettig is.

Dis hoe dit begin

ʼn ‘Belegger’ lok mense met waarborge van groot winste en geen of min finansiële risiko, maar min inligting is beskikbaar oor waarin jou swaarverdiende spaargeld belê gaan word. Wanneer jy begin vrae vra, hamer die sogenaamde belegger net op die rente wat jy kan verdien en wys jou dokumente vol grafieke wat wys hoe jou geld gaan groei. As jy aandui dat jy eers met jou bankbestuurder wil gesels, maak die belegger gou spore of sê die banke hou nie van goeie beleggings nie omdat hulle jaloers is op goeie aanbiedings soos hierdie een.

Loop lig hiervoor

  • Die produk is nie geregistreer nie.
  • Die produk word aangebied deur iemand wat nie ʼn geregistreerde verskaffer van finansiële dienste is nie.
  • Jy kan nie verstaan hoe die rente verdien word nie.
  • Die belegger belowe dubbelsyfer winste.
  • Die belegging word verkoop as “die kans van ʼn leeftyd”.
  • Jy kan meer rente verdien as jy nog mense werf om te belê.
  • As jy nie dadelik belê nie, gaan jy jou kans verloor om goeie rente te verdien.

Die Wet op Verbruikersbeskerming

Die wet bepaal in artikels 42 en 43 oor bedrieglike skemas en aanbiedinge en piramiede en soortgelyke skemas dat niemand hierdie skemas mag bedryf nie.

Volgens artikel 42 mag niemand enige kommunikasie begin, borg, bevorder of wetend aan die verspreiding van inligting oor ʼn bedrieglike skema deelneem nie. Mense mag nie direk of indirek ’n bedrieglike geldeenheidskema, bedrieglike finansiële transaksie, bedrieglike oordrag van eiendom of wettige regte, of enige ander skema wat die minister van handel en nywerheid as sodanig verklaar het, bevorder, of wetend daarby aansluit, inskryf of daaraan deelneem nie, of iemand anders aanmoedig om dit doen nie.

Niemand mag ook voorgee om geld te “maak” of te vermeerder deur papier in iets te was of te doop of dit aan ʼn elektriese stroom bloot te stel nie. Mense mag ook nie voorgee dat hulle geld kan vermeerder deur middel van toordery nie. ’n Ooreenkoms, praktyk of skema is bedrog indien dit verband hou met enige opbrengs van ’n gespesifiseerde onwettige aktiwiteit of bedoel is om iemand anders te bedrieg.

Artikel 43 bevat verskeie bepalings oor piramide- en soortgelyke skemas. Niemand mag ’n vermenigvuldigingskema, piramideskema, kettingbriefskema of enige ander skema wat die minister as sodanig verklaar, bedryf nie.

  • ’n Vermenigvuldigingskema is ʼn skema wat jaarlikse rente van minstens 20% bo die repokoers bied.
  • ʼn Piramideskema is ʼn reëling, ooreenkoms, praktyk of skema waar deelnemers vergoeding ontvang wat hoofsaaklik kom van mense wat hulle gewerf het om deel te neem eerder as die verkoop van goedere of dienste.
  • ’n Kettingbriefskema het verskeie vlakke van deelname en bestaande deelnemers soek en werf nuwe deelnemers, wat by aansluiting ’n bedrag moet betaal wat onder een of meer van die bestaande deelnemers verdeel word, terwyl bestaande deelnemers na ’n hoër vlak beweeg.

Onthou

  • As dit te goed klink om waar te wees, is dit gewoonlik.
  • Vra ʼn geregistreerde finansiële adviseur om die beleggingsgeleentheid na te gaan en te kyk of dit ʼn wettige skema is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jona ·

Logies nogals, doen wat jy al van klein tyds af al weet, as dit te goed is om waar te wees, is dit heelwaarskynlik.

Gene ·

dis waar ek wonder net hoekom daar niks gedoen word omtrent Sharemax nie duisende mense het baie geld verloor geld wat ons nie in ons leeftyd kan inhaal nie maar die base van Sharemax vlieg rond in helikopters en woon in duur huise in spogbuurte

Bevark ·

Ina Opperman is doodreg en in die kol met haar waarskuwing teen bedrog-skemas! Ons is egter deur ‘n geregistreerde finansiële adviseur bevark en alhoewel hy die belegging (en rente) skriftelik gewaarborg het het ons nog steeds al ons geld verloor! Nodeloos om te sê die Ombudsman se verskoning was dat ons te lank gewag het voor ons ‘n eis ingedien het nadat die rente-uitbetalings opgedroog het en die adviseur alle korrespondensie ignoreer het en gespeel het vir tyd! Daar is nie eens ‘n kans om ons kapitaal terug te kry nie ??

Coins ·

AL hierdie coins skemas is een reuse bedrogspul. Ek is lekker gevang deur CMB (Capital Markets Banc) wat vanuit die VK hul besigheid bedryf. Opdrukkerige bemarkers hou aan en aan bel… Neewat, bitcoin en Davor coin en al wat ‘n coin is… is foefies. IEMAND maak miljoene en daar’s baie beloftes van rente en groei en herbelê en en en … en jy sien niks van die opbrengs nie. “Gelukkig” het ek net sowat R15 000 verloor, maar ek het vriende wat tot R180 000 op die manier verloor het.. Laat my dink aan wat die Bybel sê van “die wat ryk wil word, val in allerhande versoekinge…”

Ek het my les geleer.

alice ·

hoe en waar kan n mens navraag doen oor mense wat se hul is geregistreer by die NCR of is die nr wat hul aan jou gee wel hul eie geregistreerde nr?

SjN ·

Hoe groter die opbrengs, hoe groter die risiko, mense raak gulsig, daar is nie n vinnige manier om geld te maak nie, indien wel sal almal dit gedoen het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.