Verbruikersake: Pyne met huise

huisbou-boukontrakteer-huis

Foto: Pixabay/Pexels.com

ʼn Mens moet deesdae groot geld uithaal en lank spaar as jy jou eie huis wil besit en daarom is dit belangrik om seker te maak dat jy waarde vir elkeen van jou rande kry. Verbruikers wat ʼn huis laat bou, moet omtrent hare op hul tande hê, want jy betaal derduisende rande vir iets wat jy nog nie gesien het nie. ʼn Mens wil nie veralgemeen nie, want daar is goeie bouers, maar daar is ook bouers wat bloot hul skouers ophaal en wegstap van ʼn swak geboude huis met hul sakke wat bult met jou geld. Ina Opperman vertel hoe jy jouself kan beskerm teen ʼn gewetenlose huisbouer.

As verbruiker kan jy baie doen om jouself te beskerm. Kom ons kyk eers na die twee organisasies wat kan help om jou te beskerm, die NHBRC en die Meesterbouerverenigings.

Die NHBRC en Meesterbouerverenigings

Die Nasionale Registrasieraad van Huisbouers (NHBRC) is ʼn statutêre liggaam wat gestig is ingevolge die Wet op Beskermingsmaatreëls vir Behuisingsverbruikers, om die belange van behuisingsverbruikers te beskerm en voldoening aan die gereguleerde boubedryfstandaarde te verseker. Die wet vereis dat almal wat huise bou by die raad moet registreer.

Die raad sertifiseer bouers wat voldoen aan die bedryfsvereistes vir tegniese, konstruksie- en finansiële vaardighede. Die raad het net jurisdiksie oor nuwe huise. Verskeie verbruikers kla oor die raad en sê dit doen nie genoeg om huiseienaars te beskerm nie, maar sorg dat jy bewus is van die NHBRC se dienste en kla tog daar as jy probleme het.

Lidmaatskap van Meesterbouerverenigings is vrywillig en lede word gedissiplineer deur skorsing of boetes.

Die Wet op Verbruikersbeskerming

Verskeie bepalings in die wet beskerm jou wanneer jy ʼn huis laat bou. Die wet beskerm jou reeds wanneer jy ʼn ooreenkoms sluit om ʼn huis te laat bou. Volgens artikels 48 en 49 mag die bouer nie ʼn onregverdige prys vra of voorwaardes insluit wat onregverdig, onbillik of onredelik is nie. Die kontrakteur mag nie vereis dat jy ʼn ooreenkoms onderteken waarin:

  • jy jou regte in terme van die wet opgee nie.
  • jy hom vrystel van enige verantwoordelikheid vir jou en jou familie en vriende se skade, dood of beserings nie.
  • hy sy aanspreeklikheid beperk nie. Hy is verantwoordelik vir swak werk wat sy werkers en subkontrakteurs verrig.
  • voorwaardes voorkom wat onredelik, onregverdig en onbillik is nie. Kyk na die lys onregverdige voorwaardes in regulasie 44 van die wet voordat jy teken.
  • jou wettige regte tot billike vergoeding as die bouer nie sy werk doen nie, beperk of verwyder word. Dit sluit jou reg in om betaling te weerhou indien jy ʼn eis teen die kontrakteur het. As jy geld terughou omdat jy ontevrede is met die werk, mag die kontrakteur ook nie boumateriaal waarvoor jy betaal het, verwyder nie.
  • die tydperk waarin jy kan kla voordat die klagte verval, verkort word nie.
  • jy gedwing word om verantwoordelikheid te aanvaar vir materiaal van swak gehalte nie, tensy jy dit self koop.
  • die kontrakteur kan kanselleer net wanneer hy wil, maar jy kry nie dieselfde reg nie.

Ooreenkomste moet in gewone en verstaanbare taal wees en geen fynskrif word toegelaat nie. Die kontrakteur mag ook nie die voorwaardes van die ooreenkoms of die aard van die materiaal wat hy gebruik, verander sonder om jou eers die keuse te gee om die ooreenkoms te kanselleer nie. Hy mag ook nie op sy eie besluit of die materiaal wat hy gebruik en die werk wat gedoen is aan die ooreenkoms voldoen nie.

Die wet beskerm jou ook in die volgende gevalle:

  • Die prys is op die ou end meer as die prys wat gekwoteer is, maar volgens die wet kan die kontrakteur nie die prys verhoog sonder om jou die geleentheid te gee om die ooreenkoms te kanselleer nie.
  • Die huis word nie betyds voltooi nie. Artikel 54 van die wet gee jou die reg om te verwag dat die werk voltooi word binne ʼn redelike tyd en indien dit nie moontlik is nie, moet die kontrakteur jou betyds laat weet as daar ʼn vertraging is.
  • Die kontrakteur gebruik swak boumateriaal, maar volgens artikel 54 moet die kontrakteur werk van goeie gehalte doen en materiaal gebruik wat nie defekte het nie.
  • Jou erf lyk soos ʼn rommelhoop wanneer die bouwerk klaar is, maar artikel 54 bepaal dat die erf ten minste in dieselfde toestand moet wees waarin dit was voordat die werk begin het.

Indien jy ontevrede is met die bouwerk en meen dit is nie volgens die standaarde van artikel 55 voltooi nie, kan jy van die kontrakteur verwag om enige probleme reg te maak of jou ʼn billike gedeelte van die geld wat jy betaal het, terug te gee. Volgens artikel 56 is daar ʼn versweë waarborg dat die werk aan artikel 55 voldoen.

Daar is ook verskeie wenke wat jy in gedagte kan hou gedurende die verskillende stadiums van die bouwerk:

Kies die regte bouer

  • Kies ʼn bouer met ʼn goeie naam. Moenie net die bouer se verwysings bel nie – vra ook vir ander mense waar die bouer gebou het om terugvoer oor sy werk te gee. Besoek ʼn perseel waar hy tans bou en gesels met die eienaar om seker te maak die werk is goed en die bouer het geld om die projek te voltooi.
  • Kies ʼn geregistreerde bouer en kry sy volledige kontakbesonderhede.
  • Maak seker dat die bouer voldoende versekering het.
  • Doen ʼn kredietnavraag oor die bouer om te sien of hy kan betaal vir materiaal.
  • Stel vas of die bouer ʼn veiligheidsplan het.
  • Gaan die besonderhede en registrasie na van die elektrisiën en loodgieter wat aan die huis gaan werk.

Die ooreenkoms

  • Maak seker die ooreenkoms of kontrak dui presies aan wat jy wil hê, wat die spesifikasies is en hoeveel dit gaan kos.
  • Oppas vir uitsluitings op die kontrak vir items waarvoor jy dan self later moet betaal, soos matte en kombuiskaste.
  • Oppas vir kwotasies wat net ʼn groottotaal bevat. Vra vir besonderhede.
  • Maak seker dat jy aandui watter gehalte afwerkings gedoen moet word en watter handelsmerke jy verkies.
  • Maak seker die ooreenkoms bevat geen onregverdige bepalings soos vervat in die wet nie.
  • Maak seker die ooreenkoms dui aan in watter stadiums jy betalings aan die bouer sal doen.
  • Maak ook seker dat die ooreenkoms duidelik aandui dat die bouer alle foute moet herstel op sy eie onkoste.

Verbruikers kan kla by die NHBRC, Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantore vir verbruikersake oor kontrakteurs wat huise bou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

ferdi ·

Ek wil huis bou in Stilbaai enige besonderhede van Profesionele bouer of telno

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.