Verbruikersake: Raad met pesoproepe

Argieffoto

Pesoproepe versuur verbruikers se lewens daagliks, veral wanneer jy antwoord en iemand vra ewe familiêr op jou doopnaam hoe dit met jou gaan voordat die persoon voortgaan om enigiets van persoonlike lenings en kredietkaarte tot selfoonkontrakte en satellietopsporingstelsels aan jou te probeer afsmeer. En al verduidelik jy dat jy nie belangstel nie, moet jy nou ook verduidelik waarom. Ina Opperman verduidelik wat jou regte is en wat jy kan doen om van die lasposse ontslae te raak.

 Die lasposse wat verbruikers so pla is besig met direkte bemarking, wat breedvoerig in die Wet op Verbruikersbeskerming gereguleer word. Die Wet bepaal dat dit direkte bemarking is wanneer iemand jou kontak om direk of indirek iets te koop of geld te skenk, dus wanneer iemand jou bel om iets aan jou te verkoop. Dit sluit ook teksboodskappe, e-posse, briewe en fakse en die nuutste gier, opgeneemde bemarkingsboodskappe wat speel wanneer jy antwoord, in.

Die Wet op Verbruikersbeskerming beskerm jou reg op privaatheid en keuse wanneer dit by direkte bemarking kom. Dit bepaal wanneer iemand jou mag bel, wat jy kan doen om dit te stop en dat jy ʼn koopooreenkoms kan kanselleer tydens ʼn afkoelperiode indien jy wel iets koop.

Hoe om die oproepe te stop

Volgens artikel 11 van die wet kan jy kan weier om met die lasposse oor die telefoon te praat, eis dat die lasposse ophou om jou te bel en hulle blokkeer. Jy kan ook die eerste keer as iemand bel, eis dat jou besonderhede van die lys verwyder word. Oproepsentrums wat direkte bemarking doen, moet prosedures hê sodat jou besonderhede maklik verwyder kan word en hulle mag jou dan nie verder kontak nie.

Die Nasionale Verbruikerskommissie is volgens die wet veronderstel om ʼn “Geen Kontak”-register te hê waar jy jou identiteitsnommer, adres of ander besonderhede kan registreer sodat direkte bemarkers jou nie kan kontak nie, maar die kommissie het nie geld daarvoor nie en die register is nog nie in werking nie.

Oppas vir instem op skrif

Volgens regulasie 12 mag direkte bemarkers jou net kontak as jy ingestem het daartoe, soos wanneer jy ʼn vorm invul en ʼn regmerkie maak in die blokkie wat aandui dat hulle jou mag kontak oor promosies of spesiale aanbiedings. Dit beteken egter net die betrokke maatskappy kan jou kontak en niemand anders nie.

Hulle mag jou ook net kontak op tye wat deur artikel 12 en kennisgewing 34180 vasgestel is, wat lui dat niemand jou op Sondae en openbare vakansiedae mag bel nie en op weekdae net tussen agtuur in die oggend en agtuur in die aand en op Saterdae tussen negeuur in die oggend en eenuur in die middag, tensy jy skriftelik ingestem het dat hulle jou op ander tye kan bel.

Koel af

Artikel 16 bepaal dat jy ʼn afkoelperiode het as jy iets tydens ʼn direkte bemarkingstransaksie koop. Jy kan die transaksie binne vyf dae op skrif kanselleer. Onthou net jy moet kan bewys wanneer jy die kansellasiebrief gestuur het en jy hoef nie ʼn rede te gee waarom jy kanselleer nie. Jy moet jou geld binne 15 werksdae terugkry.

Gebruik hierdie app om lasposte weg te hou:

 Laai die Truecaller-app op jou foon af sodat jy kan sien wie bel as jy nie die nommer ken nie. Dit identifiseer alle nommers en teksboodskappe en jy kan dit gebruik om nommers en mense te blok sodat hulle jou nie kan bel of teksboodskappe kan stuur nie.

Kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantore vir verbruikersake oor lasposse wat die bepalings van die Wet op Verbruikersbeskerming verontagsaam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
ontevrede leser

baie dankie vir die inligting, tel nommers, faks nommers, epos adresse sal baie meer kan help. gebruiker van truecaller vir die laaste 5 jaar, wat ’n plesier

Ore

En hierdie mense wat enige tyd dag of nag bel oor TV lisensies. Jy kan dieselfde inligting oor en oor gee maar het geen einde nie. Die SAUK is in besit van my lisensie maar skielik is ek 2009 se gelde verskuldig. Dit is n verpesting by uitstek. Die mense het geen etiket nie,val net weg sonder on te vra of dit geleë is.Ek druk nou maar net die foon af

Johan

As ek nie met hulle wil praat nie sit ek net die foon eenkant neer en mors hulle tyd en geld.Hulle bel my nie weer nie.

Sarel Strydom

aangesien hierdie mense deurgaans net Engels praat mak ek of ek nie woord verstaan wat hulle raat nie. Verdwyn dan soms vinnig.

Boontjie

Hierdie oproepies is die hoogtepunt van my dag!! Eerstens vra ek hoe gaan dit met Trixie se spene (niemand kon my nog antwoord nie). Wanneer hulle my vra hoe gaan dit, vertel ek hulle breedvoering, van my los stoelgang to by my klein toontjie wat effens atleetsvoet begin toon. Ek praat altyd trots, die beste Afrikaans wat ek nog ooit geleer is (my Afrikaanse onnie sou so trots wees om my vandag). As die persoon nog daar is, bestel ek sommer 20 dosyn vrylopende (free range) vars plaas hoender eiers. Wanneer hulle vra vir my ID of geboorte datum, gee… Lees meer »