Verbruikersake: Raad met pesoproepe

Argieffoto

Pesoproepe versuur verbruikers se lewens daagliks, veral wanneer jy antwoord en iemand vra ewe familiêr op jou doopnaam hoe dit met jou gaan voordat die persoon voortgaan om enigiets van persoonlike lenings en kredietkaarte tot selfoonkontrakte en satellietopsporingstelsels aan jou te probeer afsmeer. En al verduidelik jy dat jy nie belangstel nie, moet jy nou ook verduidelik waarom. Ina Opperman verduidelik wat jou regte is en wat jy kan doen om van die lasposse ontslae te raak.

 Die lasposse wat verbruikers so pla is besig met direkte bemarking, wat breedvoerig in die Wet op Verbruikersbeskerming gereguleer word. Die Wet bepaal dat dit direkte bemarking is wanneer iemand jou kontak om direk of indirek iets te koop of geld te skenk, dus wanneer iemand jou bel om iets aan jou te verkoop. Dit sluit ook teksboodskappe, e-posse, briewe en fakse en die nuutste gier, opgeneemde bemarkingsboodskappe wat speel wanneer jy antwoord, in.

Die Wet op Verbruikersbeskerming beskerm jou reg op privaatheid en keuse wanneer dit by direkte bemarking kom. Dit bepaal wanneer iemand jou mag bel, wat jy kan doen om dit te stop en dat jy ʼn koopooreenkoms kan kanselleer tydens ʼn afkoelperiode indien jy wel iets koop.

Hoe om die oproepe te stop

Volgens artikel 11 van die wet kan jy kan weier om met die lasposse oor die telefoon te praat, eis dat die lasposse ophou om jou te bel en hulle blokkeer. Jy kan ook die eerste keer as iemand bel, eis dat jou besonderhede van die lys verwyder word. Oproepsentrums wat direkte bemarking doen, moet prosedures hê sodat jou besonderhede maklik verwyder kan word en hulle mag jou dan nie verder kontak nie.

Die Nasionale Verbruikerskommissie is volgens die wet veronderstel om ʼn “Geen Kontak”-register te hê waar jy jou identiteitsnommer, adres of ander besonderhede kan registreer sodat direkte bemarkers jou nie kan kontak nie, maar die kommissie het nie geld daarvoor nie en die register is nog nie in werking nie.

Oppas vir instem op skrif

Volgens regulasie 12 mag direkte bemarkers jou net kontak as jy ingestem het daartoe, soos wanneer jy ʼn vorm invul en ʼn regmerkie maak in die blokkie wat aandui dat hulle jou mag kontak oor promosies of spesiale aanbiedings. Dit beteken egter net die betrokke maatskappy kan jou kontak en niemand anders nie.

Hulle mag jou ook net kontak op tye wat deur artikel 12 en kennisgewing 34180 vasgestel is, wat lui dat niemand jou op Sondae en openbare vakansiedae mag bel nie en op weekdae net tussen agtuur in die oggend en agtuur in die aand en op Saterdae tussen negeuur in die oggend en eenuur in die middag, tensy jy skriftelik ingestem het dat hulle jou op ander tye kan bel.

Koel af

Artikel 16 bepaal dat jy ʼn afkoelperiode het as jy iets tydens ʼn direkte bemarkingstransaksie koop. Jy kan die transaksie binne vyf dae op skrif kanselleer. Onthou net jy moet kan bewys wanneer jy die kansellasiebrief gestuur het en jy hoef nie ʼn rede te gee waarom jy kanselleer nie. Jy moet jou geld binne 15 werksdae terugkry.

Gebruik hierdie app om lasposte weg te hou:

 Laai die Truecaller-app op jou foon af sodat jy kan sien wie bel as jy nie die nommer ken nie. Dit identifiseer alle nommers en teksboodskappe en jy kan dit gebruik om nommers en mense te blok sodat hulle jou nie kan bel of teksboodskappe kan stuur nie.

Kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantore vir verbruikersake oor lasposse wat die bepalings van die Wet op Verbruikersbeskerming verontagsaam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

ontevrede leser ·

baie dankie vir die inligting, tel nommers, faks nommers, epos adresse sal baie meer kan help. gebruiker van truecaller vir die laaste 5 jaar, wat ’n plesier

Jordaan ·

Onthou net as jy truecaller gebruik deel jy ook met hulle die inligting en name van al die nommers wat jy op jou foon gestoor het.

Ore ·

En hierdie mense wat enige tyd dag of nag bel oor TV lisensies. Jy kan dieselfde inligting oor en oor gee maar het geen einde nie. Die SAUK is in besit van my lisensie maar skielik is ek 2009 se gelde verskuldig. Dit is n verpesting by uitstek. Die mense het geen etiket nie,val net weg sonder on te vra of dit geleë is.Ek druk nou maar net die foon af

Johan ·

As ek nie met hulle wil praat nie sit ek net die foon eenkant neer en mors hulle tyd en geld.Hulle bel my nie weer nie.

Sarel Strydom ·

aangesien hierdie mense deurgaans net Engels praat mak ek of ek nie woord verstaan wat hulle raat nie. Verdwyn dan soms vinnig.

Boontjie ·

Hierdie oproepies is die hoogtepunt van my dag!!
Eerstens vra ek hoe gaan dit met Trixie se spene (niemand kon my nog antwoord nie).
Wanneer hulle my vra hoe gaan dit, vertel ek hulle breedvoering, van my los stoelgang to by my klein toontjie wat effens atleetsvoet begin toon.
Ek praat altyd trots, die beste Afrikaans wat ek nog ooit geleer is (my Afrikaanse onnie sou so trots wees om my vandag).
As die persoon nog daar is, bestel ek sommer 20 dosyn vrylopende (free range) vars plaas hoender eiers.
Wanneer hulle vra vir my ID of geboorte datum, gee ek dit graag = 32 Februarie
Die jaar? My ouderdom? Wel laat ek sien, ek het blykbaar volgens geleerdes 2000 jaar terug hier ingestorm saam met Jan van Riebeeck … you do the math!

Nonnie ·

Ek het nie die tyd of geld om te mors op enige gesprek met hulle nie. Kort Truecaller vir landlyne ook.

Susara ·

MM dankie vir die artikel, en dankie aan al die kommentaarlewers! my dag gemaak.
Ek vra direk vir hulle waar kry julle my besonderhede, wat is jou naam en iD nr? Die foon word dadelik dood gedruk van hulle kant af, nog nie weer oproepe ontvang nie! Groete,

Annatjie Kruger ·

Wat van die mense wat bel en maak asof hulle van Windows Microsoft bel en jou IP besonderhede soek. Hoe stop ‘n mens hulle?

Jo-anli ·

Dis ń “scam” aangesien ekself met hulle te doen gehad het, die tydperd terwyl telkom in my huis was en aan my lyn gewerk het.
Die oproeper het hom disnis geskrik aangesien ons dadelik nr afkomstiggekry het, nogal vanaf Singapoer. So sit tel net daar neer in hul oor.

erika ·

Glo dit of nie…Ek het Sondag 11uur ‘n oproep gehad van ‘n plek wat linne verkoop van nou promosies het. Sal nie hul naam noem nie, maar ek het dit verloor met haar.

Raponsie ·

Ek vra hul direk of hul enige bewys het dat ek hul toestemming gegee het om my te kontak. So nie moet hul my van hul lys af haal… Gewoontlik kontak hul my nooit weer nie. Maar moet se vandat ek true caller het, blok ek hul net. Ek het nie tyd om my tyd met tellemarkerting te mors nie…

Garath ·

Wat vir my werk: Wanneer die persoon my in Engels aanspreek: Good day Sir. How are you? Antwoord ek in Afrikaans: Ek verstaan nie. Praat met my Afrikaans asb. Een van twee dinge gebeur dan: Of die lyn gaan summier dood. Of kom die antwoord: Sir we will get somebody to call you in Afrikaans. Dit gebeur natuurlik nooit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.