Verbruikersake: Selfone en dienste pla verbruikers die meeste

selfoon-pexels

Foto: Pexels.com

Selfone en swak diens het vir die meeste verbruikersklagtes gesorg wat die afgelope jaar by die Ombudsman vir Goedere en Dienste ingedien is. Volgens die jaarverslag van die Ombudsman se kantoor het 1 459 mense oor selfone gekla en 1 273 oor dienste. Ina Opperman het gaan kyk waarmee verbruikers nog stoei en wat daaraan gedoen word.

Verbruikers was ook ongelukkig oor elektroniese toestelle, waaroor 578 mense gekla het, meubels (462 klagtes), rekenaars (245 klagtes), boumateriaal (197 klagtes), klere (156 klagtes), skoene (90 klagtes) en tyddeel (89). Ander klagtes het gehandel oor kos, drank, hardeware, huisdekor, skoonheidsmiddels, linne en beddegoed, juweliersware, tuisversorgingsprodukte, sportgoedere, skryfbehoeftes, mediese toerusting, speelgoed, tabakprodukte, chemikalieë, tekstiele, troeteldierprodukte en gereedskap.

Tydens die vorige boekjaar het die ombudsman se kantoor 5 595 klagtes ontvang, ʼn toename van 60% vergeleke met die 3 495 klagtes in die vorige jaar. Van die klagtes het 4 650 binne die ombudsman se jurisdiksie geval en 48% daarvan is opgelos in die verbruiker se guns, terwyl nog 12,3% van die klagtes gedeeltelik opgelos is.

Die aantal maatskappye wat die ombudsman se gedragskode onderskyf, het ook gestyg met 244% van 189 tot 650. Die ombudsman het nou die Nasionale Verbruikerskommissie gevra om sy gedragskode te verander sodat hy ook, soos ander ombudsmanne, bevindings kan maak wat bindend is ten opsigte van die maatskappye. Die ombudsman wil ook hê die gedragskode moet dit moontlik maak vir die kantoor om onopgeloste klagtes direk na die verbruikerskommissie te verwys. Tans moet die verbruikers weer van voor af by die kommissie gaan kla.

Magauta Mphaplele, waarnemende ombudsman, het met die bekendstelling van die jaarverslag gesê die meeste verbruikersklagtes het hul oorsprong gehad in foutiewe produkte, wat verantwoordelik was vir 37% van klagtes, terwyl swak dienslewering 31% en ooreenkomste wat gekanselleer is 24% van die klagtes opgelewer het.

“Ongelukkig kon 17,8% van die klagtes nie opgelos word nie omdat die maatskappye geweier het om saam te werk. Nog ʼn struikelblok is dat verbruikers van forum na forum gaan om klagtes op te los, wat beteken dat maatskappye wat bydra tot die ombudsman se kantoor sodat klagtes daar opgelos kan word, nog geld moet uitgee om hulle op ander platforms te verdedig,” verduidelik sy.

Die ombudsman meen ook dat die definisie van jurisdiksie te wyd is en wil vra dat dit aangepas word om meer kleinhandelklagtes te hanteer.

  • Een van die klagtes wat die kantoor opgelos het, was van iemand wat ʼn lantern in ʼn winkel opgetel het om te kyk of die prys onderaan vasgeplak is. Die skerm het afgeval en gebreek en die winkel het haar daarvoor laat betaal. Sy het by die kantoor gekla en die ombudsman het bevind dat sy in terme van artikel 18 van die Wet op Verbruikersbeskerming nie moes betaal het vir die gebreekte skerm nie, omdat hierdie artikel juis aandui dat verbruikers nie verantwoordelik gehou kan word vir goedere wat breek waar dit uitgestal word nie.
  • Nog ʼn interessante klagte het gekom van ʼn verbruiker wat gesien het gazebo’s word volgens ʼn tydskrifartikel vir R399 elk verkoop. Hy het dadelik 10 bestel, maar toe hy by die winkel opdaag, is hy meegedeel die prys is eintlik R3 499. Die winkel het geweier dat hy R399 per gazebo betaal. Die ombudsman het bevind dat die prysverskil duidelik baie groot was en dat die redelike verbruiker sou raaksien die prys is verkeerd. Buitendien is die prys in ʼn tydskrifartikel genoem en nie in ʼn advertensie nie. Daar was dus geen transaksie tussen die verbruiker en die tydskrif nie.

Kla hier:

Jy kan jou klagte direk op die webwerf indien by http://www.cgso.org.za/, of jy kan die oproepsentrum bel by 0860 000 272.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

botterblommetjie ·

Ek het probeer om klagte in te dien oor ‘n kar wat ek gekoop het. Die klagte was so omslagtig dat ek dit maar gelos het. Probleem is ek het met ‘n kar gesit wat die handelaar (nie privaat persoon nie) gespoeg en plak het om letterlik ‘n week te hou. Sulke klagtes voel ek is dringend, want jy sit letterlik sonder vervoer. Dit is ‘n noodsaaklikheid. Ek moet werk toe en terug. Die plekke sit met hengse prokureurs. Wie het daardie tipe geld? Daar moet vaste riglyne wees sodat ‘n besluit letterlik binne ‘n dag geneem kan word. Dit was uiters traumaties vir my. Al waaraan ek my kan troos is dat God slaap nie. Ek het dit oorgegee in Sy hande….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.