Verbruikersake: Selfoonpyne

selfoon-selfoondata-slimfoon

Foto: Trofos/Pexels.com

Klagtes oor selfone is gewoonlik bo-aan die meeste plekke wat verbruikersklagtes hanteer se lys en herstelwerk aan selfone is seker een van die grootste kopsere, veral in ’n wêreld waar mens se selfoon jou hele lewe is. ’n Selfoon is deesdae ook so duur dat mens nie sommer die stukkende een in die asblik kan gooi en ’n nuwe een aanskaf nie. Ina Opperman verduidelik wat jou regte is volgens die Wet op Verbruikersbeskerming wanneer jy jou selfoon laat herstel.

’n Verbruiker van Pretoria het omtrent ’n riller beleef toe sy haar selfoon by ’n diensverskaffer ingegee het om die gekraakte skerm te laat herstel. Sy is belowe dat sy binne twee dae ’n kwotasie sou kry vir die werk aan die duur foon, maar sy moes op die ou end bel om te hoor wat aangaan. Toe moes sy hoor haar foon is in Potchefstroom, waar die selfone blykbaar herstel word, maar dit word teruggestuur Pretoria toe omdat dié werkwinkel nie aan haar soort foon werk nie.

Nadat sy weer moes bel om te hoor wat aangaan, is sy meegedeel dat dit R8 048,85 sal kos om haar foon te herstel, maar dat die kwotasie gegrond is op “ROR” wat beteken “Replace on Request”. Sy wou weet waarom sy nou haar foon moet vervang as dit net die skerm is wat gekraak is en die tegnikus het haar meegedeel dat die moederbord beskadig is. Die verbruiker het dit egter bevraagteken, omdat die foon heeltemal goed gewerk het toe sy dit ingehandig het.

Volgens die tegnikus kon dit gebeur het toe die stukkende skerm afgehaal is en dit die druk op die moederbord verlig het. Sy het gevra dat hulle maar vir haar die kwotasie stuur, maar toe sy weer na ’n paar dae navraag doen, moes sy weer eens Potchefstroom bel, waar sy weer meegedeel is die moederbord is beskadig. Sy kon nie die herstelwerk bekostig nie en het maar ’n ander foon vir R4 000 gekoop.

Die verbruiker het in elk geval haar stukkende foon gaan haal en by die vervaardiger gaan ingee om ’n tweede mening te kry. Hulle het egter laat weet dit is net die skerm wat stukkend is en niks anders nie. Sy is nou baie kwaad omdat sy meen die diensverskaffer was oneerlik en het haar nou nog ’n foon laat koop vir R4 000 wat onnodig was en dit gaan haar nog R4 000 kos om haar stukkende foon se skerm te vervang.

Die Wet op Verbruikersbeskerming

Twee artikels van die wet maak spesifiek voorsiening vir die beskerming van jou regte wanneer jy iets laat herstel.

Artikel 15

Artikel 15 bepaal dat jy die reg het om daarop aan te dring dat jy vooraf magtiging gee vir herstel- of onderhoudswerk. Dit beteken jy moet eers ’n kwotasie kry vir die werk en dit goedkeur voordat die herstelwerk kan voortgaan. Die kwotasie moet gratis wees en mag nie koste vir diagnostiese werk insluit nie, tensy jy vooraf ingelig is wat dit sal kos en dit aanvaar het. Die prys van die herstelwerk en onderdele mag dan nie hierdie prys oorskry nie, tensy jy in kennis gestel word van die bykomende koste en dit goedkeur.

Die werkwinkel het dus korrek opgetree om vir die verbruiker ’n kwotasie te gee voordat die werk gedoen is, maar dat dit agt dae moes neem voordat sy ’n kwotasie kon kry is ’n ander vraag, veral aangesien sy ’n kwotasie belowe is binne twee dae.

Artikel 41

Artikel 41, wat handel oor valse, misleidende of bedrieglike voorstellings, is van toepassing op hierdie verbruiker se klagte. Hierdie artikel maak dit duidelik dat die werkwinkel nie direk of indirek ’n valse, misleidende of bedrieglike voorstelling oor ’n wesenlike feit aan ’n verbruiker mag doen nie of versuim om ’n wesenlike feit bekend te maak indien dit op bedrieglikheid neerkom nie.

Dit lyk dus asof die verbruiker bedrieg is om ’n nuwe foon te koop of te betaal vir onnodige herstelwerk omdat sy meegedeel is die moederbord moet vervang word, terwyl die foon nog inderdaad gewerk het soos die geval was toe sy dit ingegee het om die skerm te vervang.

Artikel 57

Sou die verbruiker die foon laat herstel het, sou sy ingevolge artikel 57 ’n waarborg op die herstelwerk hê. Hierdie artikel bepaal dat die diensverskaffer elke nuwe of herboude onderdeel wat gedurende die herstelwerk geïnstalleer word en die arbeid vir ten minste drie maande waarborg, tensy die foon beskadig word as sy dit byvoorbeeld in die bad laat val.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Willi Hook ·

Ongelukkig is dit nie net selfoon mense wat so ingeloop word nie. Ek het onlangs my Apple MacBook Pro ingehandig om die battery te vervang, na ‘n koste va R3400 kom die rekenaar terug en die battery hou net 4 ure, sonder dat hulle die ou battery terug stuur, na ek navrae doen oor die probleem, stuur hulle weer die rekenaar weg, en stuur my ‘n kwotasie van R9800 om te sê die moeder bord moet vervang word, en sonder dat hulle enigsins reageer oor die sogenaamde “nuwe battery” wat net 4 ure hou. Die enigste gevolg trekking is dat hulle ‘n ou tweede handse battery ingesit het (of dalk nie) en my vir ‘ nuwe laat betaal het. Die Apple het terug gekom sonder klank en nou moet die R 9800 betaal word om die klank terug te kry. Apple die grootste skelms en bedrieers .

Frans C ·

Ek het ‘n paar jaar gelede ‘n Blackberry selfoon ingegee by ‘n Vodacomwinkel in Benoni.
Die selfoon was nog onder waarborg.Hulle laat weet toe dat die selfoon nie herstel kan word nie en dat hulle dit met ‘n nuwe selfoon onder die versekering sal vervang.
Intussen omdat dit solank geneem het is ‘n nuwe kontrak vir ‘n Samsung S5 by Vodacom
uitgeneem.

Uiteindelik laat weet hul my ek kan die ‘nuwe’ selfoon kom haal.By die winkel aangekoop
teken vir die ontvangs van die sg ‘nuwe’ selfoon.Dit lyk splinter nuut.Wou eers die foon met toebehore as familielid as ‘n geskenk gee,maar almal is geholpe.

Besluit toe om die ‘nuwe’ foon by Gadget fix te verkoop en verwag ‘n goeie prys.
Toe die eienaar die foon opmaak is dit ‘n ou water beskadigde foon met ‘n opgeblase
battery.Slegs die gesig is vervang,sodat dit soos ‘n nuwe moet lyk.Woedend skakel ek Vodacom en eis ‘n verduideliking,maar oproepe en talle eposse bly onbeantwoord,tot vandag toe.

Vodacom sien my nooit weer nie!

ALMAL is skelm ·

Jip, het ook ‘n bloutjie geloop met Vodacom en spesifiek Blackberry. Die eerste dag wat hulle die foon uitgereik het wou hy nie werk toe ek by die huis aankom nie. Daar was ‘n paar funksies wat hy glad nie wou uitvoer nie. Ek vat hom die volgende dag terug na die winkel toe . .. onder die indruk dat ek ‘n NUWE een sou kry want dit is wat hulle jou laat verstaan. Nee dit moet weggestuur word en eers gekyk word of dit ‘n tegniese probleem aan hulle kant is .. weke het verbygegaan, later ‘n maand .. intussen het ek nie net die maandelikse fooi nie maar ook die EKSTRA fooi wat daardie tyd vir Blackberry’s betaalbaar was betaal. Na meer as ‘n maand (let wel nie die 48 wat hulle jou belowe waarin jou foon vervang sal word nie) het hulle laat weet ek kan die foon kom haal. Hierdie keer het ek hom sommer in die winkel uitgehaal .. die funksie getoets en WEEREENS het die funksie nie gewerk nie … Ek sê toe ek wil nie langer die Blackberry OF die kontrak hê nie, waarop hulle vir my HEEL SARKASTIES se ek kan die kontrak kanselleer maar dan word ek steeds vir 2 jaar verantwoordelik gehou vir die fooie. OK .. wat volgende? Het maar ‘n ou goedkoop foontjie gekry en verder met die kontrak aangegaan, net die ‘blackberry’ fooi laat verval!! ALMAL is skelm!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.