Verbruikersake: So beskerm nuwe versekeringsreëls jou

versekering-motors-huis-lewens

Foto: Kalhh/Pixabay.com

Die nuwe weergawe van die Polishouersbeskermingsreëls, wat uitgevaardig is ingevolge die Wet op Korttermynversekering en die Wet op Langtermynversekering, het begin Julie in werking getree en bied verbruikers nou nog meer beskerming wanneer hulle versekering uitneem. Groot klem word gelê op die regverdige behandeling van polishouers en dit is dus belangrik dat verbruikers weet wat hul regte is volgens die nuwe reëls. Ina Opperman het gaan kyk hoe die reëls nou lyk en hoe verbruikers beskerm word.

Reël 1: Regverdige behandeling van polishouers

Versekeraars moet in alle gevalle waar hulle met polishouers of potensiële polishouers werk of kommunikeer, eerbaar, professioneel en regverdig optree. Indien die versekeraar eerste met jou kontak gemaak het, moet hy dadelik presies verduidelik waaroor dit gaan.

Dit word ook van versekeraars vereis dat hulle behoorlike prosesse en prosedures het om te verseker dat polishouers regverdig behandel word om te verseker dat:

  • Polishouers daarop kan staatmaak dat hulle werk met ’n versekeraar waar die regverdige behandeling van polishouers die kern van die maatskappy se kultuur is;
  • Produkte ontwerp is om te voldoen aan die behoeftes van bepaalde soorte en kategorieë polishouers en dienooreenkomstig op bepaalde groepe gerig word;
  • Polishouers duidelike inligting gegee word en voldoende op hoogte gehou word voordat hulle ’n polis uitneem, gedurende die tyd wat hulle dit het en daarna;
  • Polishouers gepaste advies vir hul omstandighede ontvang;
  • Polishouers produkte kry wat presteer volgens die verwagting wat tydens bemarking geskep is en die diens waarvoor die verwagting geskep is; en
  • Polishouers nie met onbillike struikelblokke te doen kry wanneer hulle ’n polis wil verander of kanselleer of ’n eis of klagte wil indien nie.

 Reël 2: Produkontwerp

Wanneer versekeraars versekeringsprodukte ontwerp, moet hulle seker maak dat dit voldoen aan die behoeftes van bepaalde polishouergroepe sodat dit nie verkoop word aan mense waarvoor dit nie van waarde is nie.

Reël 3: Kredietlewensversekering

Versekeraars mag nie ’n verpligte kredietlewensversekeringspolis verskaf wat nie aan die kredietlewensversekeringsregulasies voldoen wat deur die minister van handel en nywerheid uitgevaardig is nie.

Reël 5: Negatiewe opsies

Versekeraars en hul verteenwoordigers mag nie, waar polishouers meer as een opsie het, bepaal dat ’n opsie geld tensy die polishouer uitdruklik aandui dat hy dit nie wil hê nie, tensy dit vereis word deur wetgewing of die versekeraar kan bewys dat dit nodig is vir die regverdige behandeling van die polishouer. Dit moet ook aan die polishouer uitgewys word. Hierdie reël is van toepassing op nuwe polisse of veranderings of hernuwings van bestaande polisse.

Reël 6: Vasstelling van premies

Versekeraars moet billike premies vasstel wat die maatskappy se belange balanseer met die belange van verbruikers en mag nie tariewe hef bo en behalwe die premie nie, behalwe ’n tarief wat deel is van die polis of wat toelaatbaar is ingevolge wetgewing. Bykomende tariewe moet aan die verbruiker uitgewys word. Hierdie reël is van toepassing op nuwe polisse of veranderings of hernuwings van bestaande polisse.

Reël 10: Reklame

Versekeraars moet prosedures hê wat bepaal dat ’n senior bestuurder advertensies goedkeur en billike stappe doen om te verseker die advertensie voldoen aan hierdie reël. Die persoon wat die advertensie ontwerp, mag nie ook die advertensie goedkeur nie.

Indien ’n advertensie wel verskyn wat nie aan hierdie reël voldoen nie, moet die versekeraar dit dadelik onttrek of regmaak en almal wat op die advertensie staatgemaak het, in kennis stel.

Advertensies moet feitelik korrek wees, ’n gebalanseerde voorstelling van belangrike inligting gee en nie mense mislei nie. Dit mag ook nie voordele buite verhouding opblaas of onrealistiese verwagtings skep nie en dit moet beperkings, uitsluitings, risiko’s en tariewe insluit en dit nie laat klink soos voordele nie.

Alle dele van die advertensie moet ook dieselfde wees sodat sommige dele van die inligting nie meer prominent is as ander nie. Advertensies mag ook nie woorde gebruik wat verbruikers aanmoedig om oorhaastige besluite gegrond op dringendheid te neem nie. Die versekeraar se naam moet ook duidelik aangedui word. Gewone taal moet in advertensies gebruik word en ingewikkelde terme moet omskryf word sodat verbruikers dit kan verstaan.

Wanneer telefoonoproepe of stem- of teksboodskappe gebruik word vir reklame, moet die versekeraar die verbruiker die geleentheid gee om, sonder om ’n tarief te betaal, aan te dui dat hy nie meer advertensies in hierdie medium wil ontvang nie.

Reël 14: Deurlopende evaluering van produkprestasie

Versekeraars moet produkte deurlopend monitor om te verseker dat dit aan jou behoeftes voldoen en waarde vir geld bied.

Reël 17: Eisbestuur

Versekeraars moet ’n stelsel hê vir die bestuur van eise wat aan sekere vereistes voldoen. Alle kommunikasie met eisers moet in gewone taal geskied en aandui watter inligting die versekeraar verlang; waar, hoe en by wie die eis ingedien kan word en hoe gou eise ingedien moet word. Eisers moet op hoogte gehou word van hoe die versekeraar vorder met hul eise, redes vir vertragings en die versekeraar se besluit oor eise.

Reël 18: Klagtes

Versekeraars moet ’n behoorlike en effektiewe klagtestelsel instel om te verseker dat klaers regverdig behandel word, wat aan sekere vereistes moet voldoen.

Reël 20: Opskorting van polisse

Indien ’n versekeraar ’n korttermynversekeringspolis opskort in gevalle wat nie verband hou met premies wat nie betaal is nie of ’n verandering van risiko of ’n opskorting volgens wetgewing nie, moet die versekeraar steeds dekking verleen vir 31 dae nadat bewys ontvang is dat jy bewus is van die opskorting of die tydperk totdat die bewys ontvang is dat jy ander versekering het – wat ook al die kortste is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

IK ·

Vinnig ná ‘n inbraak word daar aan jou uitgewys dat jy onderverseker is en daardie massiewe vleuelklavier is deel daarvan. Die dikte van diefwering en verkeerde slotte kom nou ter sprake. Daardie Van Gogh en Pierneef wat die versekeraar kwansuis nie self kon waardeer en jy iemand anders voor moes kry, word nou skielik ‘n kenner voor gevind. Wat egter uiters belangrik is is die sertifikaat van jou eiendom se elektriese bedrading deur ‘n gekwalifiseerde persoon sou jou plek afbrand of beskadig word en daar ‘n moontlikheid wees van ‘n elektiese fout. Kortom moet dit wat jy wil verseker eers fisies goedgekeur word. Help my indien ek iets verkeerd gelees het in die fynskrif . . .

Cherokee ·

Al die feite wat jy stel klink billik. Jou eerste sin laat dit klink asof jy dit regverdig vind dat ‘n versekerde aan die versekeraar vertel die risiko is vir ‘n twee honderd duisend rand en dan ‘n premie daarvolgens betaal terwyl die risiko eintlik dubbel soveel is. Wanneer die versekeraar dan net 50% van die eis betaal vind jy dit nie reg nie. Dink weer.

Sonja Ewald ·

Wil uitvind wat ons te staan doen … ons nuwe voertuig was by “A” verseker toe koop ons nog voertuig by en verseker albei by “B” – maand daarna stamp ek een voertuig – nou weier “B” om eis te betaal? In 30 jaar het ons nog nooit ‘n sent van enige versekering geeis en nou dat ons dit nodig het is daar probleme? Kan iemand help?

Chivago ·

Sonja – hulle moet skriftelik aan jou redes vir die weiering van die eis verskaf. Indien jy nie met die rede/s saamstem nie, kan jy by die Ombudsman aanklop – dit is ‘n gratis diens.

ERIKA JOUBERT ·

Help my asb. Het einde 2016 my voertuig gerol, in 2017 is my nuwe voertuig erg beskadig met hael. Dit was al eisse wat ek ooit ingedien het. Nou word ek swaar belas. Het hierdie korttermyn versekering al meer as 10 jaar

Cherokee ·

Albei jou eise klink na groot eise, Erika. Tel jou premies bymekaar wat jy oor tien jaar betaal het en vergelyk dit met wat uitbetaal is in twee eise en besluit dan self of jy werklik ‘n waardevolle kliënt is. Moet nie vergeet dat assuransie maatskappy nie deel van die welsyn s nie maar besighede is wat veronderstel is om wins te maak.

Alice ·

Hoe kan mens maak met eise wat nie uit betaal word waar n persoon geskiet is en skade het volgens hulle is dit nie ernstig genoeg nie . Waar kry mens hulp met sulke polisse

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.