Verbruikersake: Só slaan jy koskieme hok

listeriose-01

Foto: Nathan Reading/Commons.wikimedia.org

Listeriose het verbruikers opnuut regop laat sit oor voedselveiligheid. Mens raak so gewoond daaraan dat mense nie juis siek word van besmette kos nie, dat jy vergeet die feit dat jy ʼn yskas en vrieskas het om kos vars te hou, jou nie altyd beskerm daarteen nie. Ina Opperman vertel hoe jy koskieme uit jou kombuis kan hou.

Terwyl winkels wat kos verkoop die verantwoordelikheid het om te verseker dat die kos wat jy koop voldoen aan die standaarde vir voedselveiligheid, is daar baie wat verbruikers self kan doen om te verseker dat die kos veilig bly vandat jy dit koop totdat jou gesin dit eet. Dit is belangrik om kos reg te hanteer en te bêre sodat dit nie besmet raak met bakterieë nie.

Wanneer jy inkopies doen

  • Moenie bevrore of vars kos koop en dit in jou motor los terwyl jy ander take afhandel nie. Beplan jou dag sodat jy heel laaste hierdie produkte koop en dit reguit huis toe vat en in die yskas of vrieskas bê
  • Moenie produkte koop wat jy nie voor die vervaldatum gaan gebruik nie.

In jou huis

Wees baie versigtig met verkoelde produkte en volg die volgende riglyne:

  • Maak seker jou yskas is gestel onder 5°C en jou vrieskas onder 0°C.
  • Hou alle verkoelde produkte in die yskas totdat jy dit eet.
  • Bêre bederfbare produkte, geriefskos en oorskietkos in die yskas of vries dit binne twee ure nadat jy dit gekoop of voorberei het.
  • Vries vars vleis, vis en pluimvee dadelik as jy dit nie binne ʼn dag of twee gaan gebruik nie.

Dit is baie belangrik om gereeld hande te was wanneer jy met kos werk. Volg hierdie riglyne om seker te maak:

  • Was jou hande in warm water met seep voordat en nadat jy kos maak. Was ook jou hande voordat jy met ʼn ander kossoort werk.
  • Was jou hande nadat jy in die badkamer was, nadat jy met jou troeteldiere gespeel en nadat jy ʼn baba se doek omgeruil het.

Sorg ook dat jy goeie higiëne in die kombuis handhaaf volgens hierdie riglyne:

  • Was vadoeke gereeld in baie warm water in jou wasmasjien en as jy sponsies gebruik, was dit gereeld in die skottelgoedwasser. Vadoeke en sponsies is groot sondaars in die verspreiding van bakterieë.
  • Sorg dat kapborde, borde, kombuisgereedskap en werksoppervlakke in jou kombuis silwerskoon is deur dit gereeld met warm seepwater te was elke keer nadat jy ʼn kossoort voorberei het. Raak ontslae van bakterieë deur die oppervlakke met ʼn mengsel van 2 eetlepels bleikmiddel in ʼn liter water skoon te maak.

Dit is ook uiters belangrik om seker te maak dat een kossoort nie ʼn ander met kieme besmet nie. Volg hierdie riglyne om te verseker dat dit nie gebeur nie:

  • Berei groente en slaai voor voordat jy pluimvee of rou vleis bewerk. Indien jy die vleis eerste bewerk, maak dubbel seker dat jou kapborde en messe silwerskoon is voordat jy die groente sny.
  • Maak seker dat die vloeistof van rou vleis, pluimvee en seekos nie op voorafvoorbereide kos drup nie.
  • Moenie gaar kos op dieselfde bord sit as wat jy vir die rou kos gebruik het nie. Die rou kos kan bakterieë op die bord agterlaat, wat die gaar kos kan besmet al het die kookproses dit doodgemaak.
  • Gebruik papierhanddoeke om die bloederigheid van vleis op te vee en nie vadoeke nie.

Die regte gaarmaakmetodes is ook belangrik, al is jy hoe haastig. Volg gerus hierdie riglyne:

  • Ontvries kos in die yskas of mikrogolfoond en nie in die wasbak of op die werkoppervlak nie.
  • Marineer vleis in die yskas.
  • Gebruik ʼn kostermometer om seker te maak kos is regdeur gaar.
  • Verhit souse, marinade, sop en sous totdat dit regdeur kook om bakterieë dood te maak.
  • Maak seker kos wat in die mikrogolfoond voorberei word, is heeltemal gaar. Roer of draai dit om om seker te maak daar is nie gedeeltes wat nog koud is nie.

Wanneer jy kos opdien, is dit ook belangrik om die volgende riglyne te volg:

  • Gebruik skoon opdienbakke en lepels om kos op te dien.
  • Moenie bederfbare kos vir langer as twee ure buite die yskas los nie. In die somer moet jy dit nie langer as 30 minute buite die yskas los nie.

Dit is ook belangrik om oorskietkos reg te hanteer sodat dit nie besmet word nie:

  • Bêre oorskietkos in die yskas in klein plastiek of glashouers met ʼn deksel sodat dit vinnig afkoel.
  • Moenie vleis en groente saam bêre nie.
  • Gooi oorskietkos wat nog nie gebruik is nie, ná twee tot drie dae weg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Theresa ·

Fantasties. Kan jul hierdie vir alle restaurant/eetplekke in die land gee asb.? En in al 11 amptelike tale. En ook sommer prentjies vir die wat sukkel met alfabet.
Lê sommer klem op die feit dat blaarslaai gewas moet word (ook in restaurante, aangesien byna elke dis ‘n blaar inkry – vir eet of mooi? en dat uie nooit gehou moet word, behalwe in ‘n dig geseëlde houer nie – dit absorbeer kieme.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.