Verbruikersake: Tog net nie aanlyn bedrog met my bank nie!

slenter aanlyn bedrog

Argieffoto.

Aanlyn bedrog met jou bankrekening is sekerlik een van die dinge in ’n mens se lewe wat jy nie eers jou grootste vyand toewens nie. Ek sou eerder toustaan vir ’n nuwe rybewys as om te probeer om my geld by die bank terug te kry as ek so na verbruikers se klagtes luister. Die meeste klagtes handel oor mense wat van bakboord na stuurboord gestuur word en dat hulle nie gereeld inligting kry oor hoe die bank met hul klagtes vorder nie. En natuurlik dat hulle nie al hul geld terugkry nie. Ina Opperman gee raad oor hoe om hierdie soort bedrog te voorkom en wat om te doen as dit wel gebeur.

Mense kla dikwels dat hulle so rondgestuur word dat hulle op die ou end maar opgee en die geld wat hulle verloor het, afskryf. Een verbruiker het sommer twee keer deurgeloop. Die eerste keer is R180 000 kort voor Kersfees wederregtelik uit sy bankrekening getrek en in Maart weer ’n paar klein bedrae.

Van die eerste skelmstreek is nog net omtrent R80 000 teruggekry en al sy geld wat in Maart uit sy rekening verdwyn het, is ook teruggekry. Wat hom egter dwars in die krop steek, is die ongelooflike swak diens wat hy in beide gevalle ervaar het.

“Hulle het my laat voel soos die skuldige en wou nie die rekeningnommers waarna die geld oorgeplaas is, aan die polisie gee nie. In die tweede geval wou die polisie nie eens ondersoek instel nie, aangesien die bedrae ‘te klein’ is,” het hy vertel.

Die ombudsman vir bankdienste hanteer klagtes oor banke, wat klagtes oor die hantering van internetbedrog insluit. Die ombudsman se kantoor volg ook die Gedragskode vir Bankpraktyk, wat verskeie klousules oor internetbankdienste bevat.

Gedragskode vir Bankpraktyk

Volgens klousule 4 van die kode verbind lede van die Bankvereniging van Suid-Afrika hulle daartoe om regverdig, billik, konsekwent en eties op te tree, ’n betroubare bank- en betaalstelsel te verskaf en redelik seker te maak dat dit veilig is.

Klousule 9 handel spesifiek oor internet-, telefoon- en selfoonbankdienste en dui aan dat jy, soos met alle ander bankprodukte, versigtig moet wees en jouself moet beskerm teen bedrieglike transaksies, deur op jou bank se internetbankportaal te kyk waar voorgestel word hoe om dit te doen. Die lede onderneem dan ook om redelike stappe te doen om te verseker dat hul stelsels en tegnologie veilig is en gereeld bygewerk word om dit veilig te hou.

Hulle onderneem ook om jou gereeld inligting te gee oor hoe om toegang te kry tot internetbankdienste, wat besonderhede soos jou kliënte-identifikasie, reeks van voldoende wagwoorde en die beskikbaarheid van bykomende veiligheidsopsies insluit, asook hoe om jou veiligheid te onderhou en waarvoor jy verantwoordelik gehou sal word in ongemagtigde transaksies.

Die lede sal jou ook op hoogte hou van huidige transaksielimiete wat van toepassing is en wat van tyd tot tyd kan verander, jou inligting gee oor hoe om ongemagtigde toegang tot jou rekening aan te meld en verseker dat elektroniese transaksies gevind en nagegaan kan word solank dit deur die banke se stelsels ontvang word.

Uitvissing

Baie verbruikers was al slagoffers van hierdie skelmstreek waar iemand vir hulle ’n e-pos stuur waarin hulle gevra word om hul vertroulike banktoeganskodes en wagwoorde te verskaf of om op ’n skakel te klik. Die e-posadres waarvandaan die e-pos kom, lyk ook heel eg en daarom kry verbruikers nie snuf in die neus nie. Wanneer die verbruikers dan hul bankrekeningnommer, persoonlike identifikasienommer (PIN), wagwoord, eenmalige wagwoord (OTP –

Mense wonder dikwels hoe die skelms in die eerste plek hul e-posadresse in die hande kry. Volgens die ombudsman stuur die skelms groot volume e-posse uit na kombinasies van name en domeinadresse om te sien watter e-posse werk en moontlik gebruik kan word in hul skema.

Hulle weet gewoonlik nie watter bank jy gebruik nie, maar weer eens stuur hulle massas e-posse uit met die hoop dat van hulle die doel sal bereik. Wanneer jy dan die e-pos oopmaak of op die skakel klik, verskyn ’n vorm waarop jy al jou vertroulike besonderhede moet invul. Dit lyk soos die ware Jakob, maar dit is nie.

Die skelms meld dan met jou besonderhede aan by jou bank se webtuiste en het toegang tot jou rekeninge, sonder om die bank se webtuiste te kraak. Die eerste stap is gewoonlik om ’n nuwe begunstigde by te voeg, maar die OTP of RVN daarvoor word na jou selfoon gestuur, wat jy dan ook niksvermoedend invul. Ander kere word die OTP of RVN onderskep deur die simkaart van jou selfoon om te ruil.

Sodra die nuwe begunstigde geskep is, kan die skelm al jou geld uit jou rekening aan die begunstigdes wat hy geskep het, betaal. Hierdie rekeninge word soms “gehuur” by niksvermoedende ware rekeninghouers of geopen met vervalsde ID’s en ander dokumente of gesteelde bankkaarte.

Simkaartomruiling

Die skelms ruil jou simkaart om deur aansoek te doen by jou diensverskaffer om ’n nuwe simkaart vir jou nommer, met die verskoning dat die bestaande een beskadig of verlore is. Sodra die nuwe simkaart uitgereik is, sal jou simkaart nie meer werk nie. Alle kommunikasie van jou bank af, soos die OTP of RVN, gaan dan na die houer van die nuwe simkaart (die skelm) wat dit dan kan gebruik om na hartelus met jou rekening te baljaar.

Jou regte en jou klagtes

Volgens die ombudsman evalueer hy die volgende aspekte van jou klagte:

  • Toegang tot jou rekeningbesonderhede;
  • Hoe die skelms toegang tot jou rekening gekry het;
  • Watter internetverskafferadres (IP-adres) gebruik is om op jou rekening aan te meld (hierdie adres is gewoonlik dieselfde as in ander soortgelyke klagtes); en
  • Die bank se bewyse dat die OTP/RVN na jou foonnommer gestuur is.

Die ombudsman meen bewys van die suksesvolle aflewering van die OTP/RVN op jou foon, saam met die bewys van ’n ander IP-adres wat gebruik is om op jou rekening aan te meld, sal op ’n oorwig van waarskynlikhede aandui dat jy nie net die vertroulike bankinligting bekend gemaak het nie, maar ook die OTP/RVN. As die bank se stelsel nie gekraak is nie en niemand wat daar werk by die skelmstreek betrokke was nie, kan die ombudsman net tot die slotsom kom dat jy die inligting moes verskaf het.

Banke wat ondersoek instel, vind soms ’n uitvissing-e-pos op die verbruiker se rekenaar met inligting wat aandui dat jy die inligting verskaf het. Die ombudsman verwag egter nie van banke om verbruikers se rekenaars forensies te laat ondersoek nie, omdat dit eerstens dadelik gedoen moet word voordat die inligting gekorrupteer kan word en, tweedens, omdat dit baie duur is en ander inligting beskikbaar is.

Die bank se voorwaardes word ook in gedagte gehou wanneer die ombudsman hierdie soort klagtes ondersoek, omdat die bank se voorwaardes gewoonlik uitsluitings bevat wat aandui dat ongemagtigde toegang tot ’n rekening met die gebruik van jou vertroulike inligting nie binne die bank se verantwoordelikheid val nie.

Die kode stel voor dat jy die volgende doen om jouself te beskerm teen ongemagtigde toegang tot jou rekeninge:

  • Gaan jou rekeningstate gereeld na en maak seker dat dit klop;
  • Verander jou tydelike wagwoord na ’n wagwoord wat net jy ken, anders gaan die bank sê jy was nalatig;
  • Moet nooit jou toegangskode of PIN/wagwoord aan enigiemand gee nie en veral nie aan personeellid nie, aangesien dit gebruik kan word om toegang tot jou rekeninge te kry. Verander dit dadelik as jy vermoed iemand het dit in die hande gekry;
  • Moenie jou internetblaaier toelaat om jou wagwoord te hou nie;
  • Tik liewer die bank se webadres elke keer self in en moenie ’n skakel gebruik nie, aangesien dit ’n ander blad kan wees wat bedrieglik geskep is;
  • Kyk ook eers na die webblad se veiligheidsertifikaat;
  • Moenie openbare rekenaars gebruik om jou banksake te doen nie;
  • Sorg dat jy geskikte antivirussagteware op jou rekenaar het;
  • Moenie jou rekenaar verlaat terwyl jy by jou bank ingeteken is nie; en
  • Moenie val vir e-posse, teksboodskappe of oproepe wat vra dat jy jou bankbesonderhede se veiligheidskodes gee nie.

Kla hier:

Besoek die ombudsman vir bankdienste se webtuiste by http://www.obssa.co.za/.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Gerhardb ·

Lyk my ons moet maar die internet / foon bank rekeninge sluit, alle rekeninge by sosiale media en e-posse toemaak dat niemand maar van jou weet nie. En maar weer soos die ou dae elke Saterdag oggend jou bank besigheid met die hand gaan doen. Ongelukkig net so goed as wat tegnologie die wereld vinniger en makliker gemaak het, so het dit ook ‘n verderf gebring.

Cherokee ·

Dan weer, gaan jy met geld in jou sak rondloop. Die ander kant van die muntstuk is dat ons probeer om so geldloos as moontlik te werk te gaan. Maar soos jy sê, die modernisasie en gemak van elektronika verhoog risikos. Ek gebruik debietkaarte. Moet net nooit jou plastiekgeld uit jou sig laat gaan nie. Ek sien mense by tolhekke kaarte aangee deur die venster, sonder dat hulle sien wat met daardie kaart gedoen word. Wees soos ‘n bosduif, kyk rond. Weet wat om jou aangaan.

bgj van der westhuizen ·

al wat ek se die banke is skelm en die meeste inligting wat hulle kry kom uit die bank uit maar elke keur wil die bank net se dit is jou skuld

pieterdp ·

Ek sal eerder die mense aan raai as ook banke om n klient eerder na die bank te laat kom vir persoonlike in ligting. Of selfs vir anderings op bank . Dis is bank en klient skildag.

Al daai tiepe inligting doen ek vir veilighuid by die bank self. Selfs my pin vir andering.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.