Verbruikersake: Verbruikers­kommissie se mening oor wanneer data kan verval

selfoon-selfoondata-slimfoon

Foto: Trofos/Pexels.com

Nadat die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika (Okosa) onlangs konsepregulasies gepubliseer het oor selfoondata, het die Nasionale Verbruikerskommissie aangedui dat hy meen die Wet op Verbruikersbeskerming se bepalings verskil daarvan. Ina Opperman verduidelik die kommissie se standpunt sodat verbruikers dit in gedagte kan hou as hulle nog kommentaar wil lewer oor die konsepregulasies.

Verbruikers koop tans selfoonpakkette met ʼn bepaalde hoeveelheid data wat net vir ʼn sekere tyd geldig is en as jy nie al die data gebruik nie, verval dit. In die konsepregulasies word voorgestel dat data van 1MB tot 50 MB vir ten minste tien dae geldig bly, 50MB tot 500MB vir 30 dae, 500MB tot 1 Gig vir 60 dae, 1 tot 5 Gig vir 90 dae, 5 tot 10 Gig vir 180 dae, 10 tot 20 Gig vir 12 maande en meer as 20 Gig vir 24 maande.

Die groter databundels is tans gewoonlik geldig vir omtrent 30 dae. Koop jy ʼn kleiner bundel wat jy wil aanvul soos dit opraak, kos dit jou duurder omdat hierdie bietjies data peperduur is en ook nie vir lank geldig is nie.

Volgens Trevor Hattingh, woordvoerder van die kommissie, bepaal artikel 63 van die wet:

  • voorafbetaalde sertifikate, krediete en bewyse mag nie verval voordat al die goedere of dienste waarvoor betaal is, gelewer is nie of
  • binne drie jaar nadat dit uitgereik is of
  • teen die einde van ’n langer tydperk waartoe die verskaffer ingestem het nie.

Dit beteken dus dat data nie kan verval vir drie jaar nie, tensy jy dit vroeër opgebruik.

“Die kommissie is deel van ʼn nasionale taakspan wat saam met Okosa aan die data-kwessie werk en ons sal seker maak dat die bepalings van die wet ook bespreek word. Ons begryp dat Okosa, as toepassers van die Wet op Elektroniese Kommunikasie, sy diskresie kan gebruik om regulasies op te stel.

“Daar word nog geskaaf aan die konsepregulasies om die huidige situasie te verander, wat beslis nie aan die bepalings van die wet voldoen nie,” sê Hattingh.

Volgens die konsepregulasies moet verskaffers verbruikers gereeld laat weet wanneer 50%, 75%, 90% en 100% van hul data opgebruik is en wanneer ʼn bundel heeltemal uitgeput is. Verbruikers moet dan kan kies of hulle nog data wil koop en verskaffers mag nie outomaties buitebundeldata hef nie.

Jou kommentaar is belangrik

Dit is belangrik dat verbruikers hul stemme laat hoor oor enige kwessies en besluite wat hulle en veral hul beursies raak. Verbruikers het nog tot 19 September geleentheid om kommentaar te lewer oor die konsepregulasies. Maak seker jou kommentaar oor hoe lank data geldig moet bly, word in ag geneem.

Die regulasies is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Lea ·

Nadat my data en lugtyd so week of twee verdwyn het, en ek dit weer teruggekry het by vodacom, het hulle my 500mb gegee om jammer te se(waarvoor ek baie was) Nou wil ek net graag weet hkm hardloop die data wat ek koop sooo gou uit, maar DIE 500 mb hou nog steeds…as ek n gig koop hou dit nie eers n week nie..wat gaan aan??

botterblommetjie ·

Ek voel as ek iets gekoop het en dus reeds betaal het daarvoor kan ek dit op my eie tyd gebruik. Dit mos eintlik dan my “eiendom” en kan daarmee maak soos ek goeddink. Ek het ‘n kontrak vir my cell met data ingesluit per maand en my tablet koop ek data voor. Soms is ek swaarder op my data as ander maande, maar verloor dit wat ek nie gebruik het nie. Dit is al jare ‘n groot vraag by myself waarom ek iets verloor wat ek gekoop het.

botterblommetjie ·

Waar kan mens jou opinie lig. Daar nie ‘n nommer of website nie? Of het ek dit dalkies oorgelees….

Rita ·

Kan nie verstaan vir watter rede dit moet verval nie aangesien daar reeds vir Data betaal. Kontrak of aanvul. Ek betaal vir ‘n produk!

Ben ·

Vir watter rede moet die data verval. Ek dink absoluut verregaande dat jy iets koop en dit verval. Net so belaglik was die feit dat jy ‘n huis koop en nou is jy verantwoordelik vir die historiese skuld. Dit is asof die mense hier in ons land geen “Common Sense” meer het nie. Hoe sal julle daarvan hou as ek ‘n diens verskaf en aan die einde van die maand stuur ek weer vir jou ‘n rekenning want jou geld het verval of verlaag? Hierdie metode van besigheid is ‘n “Pandoras Box”. Maak dit asseblief to nuut. As gevolg daarvan het ek die afgelope 5 jaar geen selfoon tyd gekoop nie. ‘n Balaglike Konsep van Greedy besigheidsmense!!!!!

Tinus ·

Ek werk in die buiteland. Ek het hier ‘n prepaid pakket by dieselfde netwerk as in SA. Die ongebruikte data, wat ek hier koop, verval nie. Enige ekstra data wat ek koop, word net bygelaai. My vraag is net hoekom dit op dieselfde netwerk nie in SA ook so kan werk nie. Omdat ek vir lang tye in die buiteland is, verloor ek baie ongebruikte data op die pakket wat ek in SA gebruik.

Anita Jo rdaan ·

Besides agreeing about the ridiculousness of our data expiring, South Africa is known as the country with the most expensive data. Who is looking after the consumer here!?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.