Verbruikersake: Versekering teen natuurrampe

weer-storms-huis-dakloos-versekering

Foto: Blitzmaerker/Pixabay.com

Die onlangse tornado’s in die binneland en die groot storm in Durban het baie verbruikers laat wonder hoe ʼn mens sulke enorme skade oorleef. Huiseienaarsversekering is een van die maniere waarop ʼn mens kan verseker dat jy ten minste jou huis kan herstel of herbou. Ina Opperman verduidelik wat huiseienaarsversekering is en hoe dit werk in die geval van skade wat deur ʼn natuurramp veroorsaak word. Sy verduidelik ook watter ander soorte korttermynversekering kan help.

Huiseienaarsversekering dek die struktuur van jou huis in geval van natuurrampe of ander rampe soos brande. Indien jy dit só aandui wanneer jy huiseienaarsversekering uitneem, kan jou motorhuis en swembad ingesluit word, saam met alle afwerkings soos ingeboude kombuiskaste.

Banke vereis gewoonlik dat jy huiseienaarsversekering uitneem wanneer jy ʼn huislening kry, maar daar is geen wetgewing wat dit verpligtend maak as jy nie ʼn huislening het nie. Hierdie versekering verseker jou en die bank teen die risiko van strukturele skade aan jou huis. Dit gebeur soms dat mense hul huiseienaarsversekering kanselleer wanneer hulle hul huise afbetaal, maar dit is nie ʼn goeie idee nie omdat jy dan self verantwoordelik is vir skade aan jou huis.

Jy kan wel kies om jou huiseienaarsversekering by ʼn ander versekeraar as die een wat gewoonlik aan die bank gekoppel is, uit te neem, volgens die Wet op Korttermynversekering. Jou bank kan vereis dat jy bewys lewer van die versekering.

Nog redes om huiseienaarsversekering te hê:

  • Indien jou huis beskadig word, word herstelwerk gouer gedoen en jy hoef nie eers die geld bymekaar te skraap daarvoor nie.
  • As jou versekering nooddekkingsversekering het, sal die versekeraar noodherstelwerk laat doen om te verseker jou huis word nie verder beskadig nie.
  • As jy jou huis moet ontruim omdat dit onbewoonbaar is, betaal jou versekering vir ander blyplek totdat jou huis herstel is.

Kies die regte opsie

Besluit vooraf wat jy alles gedek wil hê. Hou ook in gedagte dat klimaatsverandering deesdae baie erger storms as ooit veroorsaak en dat jou huis nie noodwendig gespaar sal bly omdat jy een straat verder van ʼn spruit af bly nie. Vra ʼn paar versekeraars vir ʼn kwotasie voordat jy besluit, maar maak seker jy vergelyk appels met appels – al die kwotasies moet dieselfde voordele vir dieselfde risiko bied.

Onthou ook dat vervangingskoste van huis tot huis verskil. As jy ʼn duur kombuis laat inbou het, moet jy seker maak dit is so aangedui op jou polis. Dit is jou verantwoordelikheid om seker te maak dat jou versekering voldoende is.

Uitsluitings

Maak seker wat jou polis nie dek nie, soos:

  • Skade veroorsaak deur swak onderhoud.
  • Skade wat deur jou troeteldiere veroorsaak word, soos krapmerke.
  • Skade wat veroorsaak word deur plantegroei.

Jou versekering sal ook nie skade dek indien jy vir ʼn lang tydperk nie in jou huis gewoon het voordat dit beskadig is nie.

Ander versekering

Ander soorte korttermynversekering, soos huisinhoudversekering, is ook nie verpligtend nie, maar sal ook baie help indien jou huis deur ʼn ramp getref word. Huiseienaarsversekering dek net die struktuur van jou huis en nie die inhoud nie. Wanneer jy die inhoud van jou huis verseker, sal dit ook vervang word in geval van natuurrampe, diefstal, inbrake en brande. Huisinhoud sluit in meubels, gordyne, toestelle en klere.

Onthou:

  • Dien jou eis so gou moontlik in.
  • Wees eerlik.
  • Maak seker daar is nie plekke om jou huis waar water kan opdam nie, soos verstopte wateruitlaatpype.

Kla hier:

Kla oor korttermynversekering by die Ombudsman vir Korttermynversekering. Besoek die webwerf by www.osti.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.