Verbruikersake: Wanneer herstelwerk nie werk nie

motor-herstelwerk-kar-probleme

Foto: Fancycrave/Pexels.com

Baie items wat mens koop moet die een of ander tyd herstel word, veral as dit duur items is wat jy nie sommer kan vervang nie, soos motors en elektriese toestelle. Herstelwerk kan mens egter baie probleme besorg as dit nie behoorlik gedoen word nie. Swak werk, swak onderdele wat gebruik word vir herstelwerk en pryse wat baie hoër is as waarop jy ooreengekom het, is dikwels die sondaar. Verbruikers kan egter staatmaak op hul regte wat in die Wet op Verbruikersbeskerming beskerm word as dit by herstelwerk kom. Ina Opperman verduidelik wat jy kan doen as herstelwerk nie werk nie.

Jou reg om te kies en jou reg tot billike waarde, goeie gehalte en veiligheid word in die Wet op Verbruikersbeskerming verskans wanneer jy herstelwerk laat doen, sowel as jou reg om vooraf te weet hoeveel dit gaan kos sodat jy kan besluit of jy dit kan bekostig.

Voorafmagtiging

Volgens artikel 15 van die Wet moet jy herstel- of onderhoudsdienste vooraf goedkeur voordat die hersteller met die werk kan begin, sodat jy nie nadat die werk eers gedoen is agterkom dat jy nou jou sak moet skud vir ʼn hele paar duisend rand waarvoor jy nie begroot het nie. Hierdie artikel is veral belangrik in gevalle soos motorherstelwerk, waar die werkswinkel eers magtiging vir elke enkele taak moet kry voordat die werk gedoen kan word. Wanneer jy jou motor gaan haal, weet jy dus klaar presies hoeveel dit jou gaan kos, want jy moet ook in kennis gestel word hoeveel die arbeid gaan kos.

Die hersteller moet vooraf ʼn kwotasie opstel wat wys presies hoeveel die onderdele en die arbeid gaan kos sodat jy ʼn ingeligte besluit kan neem. Dit is beter om die kwotasie op skrif te kry sodat jy later kan bewys waarvoor jy magtiging gegee het. Jy kan, volgens die wet, die kwotasie van die hand wys en die werk dadelik magtig, maar die hersteller moet dit steeds eers aanbied. As die hersteller byvoorbeeld nie seker is wat fout is met jou motor nie, kan jy ook vooraf ’n bepaalde maksimum bedrag magtig en as dit meer kos, moet jy eers toestemming gee voordat nog werk gedoen kan word.

Dit is ook belangrik om te onthou dat die wet bepaal dat die hersteller nie ʼn fooi mag hef om die kwotasie op te stel nie. Dit sluit die koste van enige diagnostiese werk, uitmekaarhaal of aanmekaarsit wat vereis word om ’n kwotasie op te stel of enige skade of verlies tydens die opstel van die kwotasie in, tensy die diensverskaffer vir jou sê wat dit sal kos om die kwotasie op te stel en jy stem in.

Herstelwerk is gewaarborg

Volgens artikel 57 van die wet word die herstelwerk aan herstelde items gewaarborg om jou te beskerm teen swak herstelwerk. Elke nuwe of herboude onderdeel wat gedurende herstel- of onderhoudswerk geïnstalleer word, asook die arbeid, word vir drie maande nadat die werk gedoen is, of selfs langer indien jy en die hersteller skriftelik daaroor ooreenkom, gewaarborg. Om alles te kroon, geld hierdie waarborg op herstelwerk saam met enige ander versweë of uitdruklike waarborg.

As jy byvoorbeeld jou grassnyer laat herstel en dit breek weer binne drie maande, moet die hersteller dit gratis herstel as dieselfde probleem dit veroorsaak het, of jou geld teruggee, sodat jy ʼn ander hersteller kan kry om die grassnyer te herstel.

Onthou egter dat hierdie waarborg nietig is as jy die onderdeel of item verkeerd gebruik of misbruik. Dit is ook nie van toepassing op probleme wat deur gewone slytasie veroorsaak word nie.

  • Verbruikers kan kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantore vir verbruikersake oor herstelwerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Zoro ·

Indien petrol en diesel gemeng word en die handelaar by dit gebeur het stuur jou voertuig vir herstelwerk na ‘werktuigkundige’ en die voertuig gee probleme – vir wie hou jy verantwoordelik vir die herstelwerk in die geval –

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.