Verbruikersake: Wat om met jou bonus te doen

geld-groei-finansies-01

Foto: Biosci/Commons.wikimedia.org

Die einde van die jaar kom al hoe nader en verbruikers voel hulle kan nou ʼn bietjie gemakliker begin asemhaal, want daardie beursie wat so knyp gaan binnekort beter voel wanneer jou jaarlikse bonus uitbetaal word. Baie verbruikers gebruik hul jaarlikse bonus om vir ʼn vakansie te betaal, terwyl ander weer die ekstra geldjie gebruik om Kersgeskenke te koop. Ina Opperman verduidelik wat jy eintlik met jou bonus moet doen om seker te maak jy gebruik dit tot jou voordeel.

ʼn Mens moet mooi dink wanneer daardie ekstra syfers op jou bankstaat verskyn en nie impulsief begin geld uitgee nie. Dit is verstandig om aan 2018 te dink wanneer jy jou bonus kry en dit is ʼn goeie idee om dit so te bestee dat dit die nuwe jaar vir jou makliker gaan maak.

Spaar of belê

Die heel beste idee is om jou hele bonus net so te spaar of te belê indien jy nie ander verpligtinge soos skuld of skoolgeld het nie. Suid-Afrikaners is juis bekend daarvoor dat hulle nie juis spaar nie, en jou spaargeld kan jou beskerm teen moeilike tye, soos wanneer jy groot herstelwerk aan jou motor moet laat doen. Jy kan ook spaar vir ʼn oorsese reis of om ʼn persoonlike droom te verwesenlik.

Betaal skuld af

As jy egter skuld het, is dit beter om jou bonus te gebruik om ʼn duik in jou skuldlas te maak. Kredietkaartskuld is die duurste skuld en dit sal jou baat om jou hele bonus te gebruik om hierdie skuld te betaal. So maak jy ook seker dat jy ʼn bedrag op jou kredietkaart beskikbaar het vir onvoorsiene uitgawes.

Wanneer jou kredietkaartskuld betaal is, moet jy persoonlike lenings aanpak en hulle so ver as moontlik afbetaal. Daarna moet rekeninge soos klererekeninge volgende op die lys wees. Rente op hierdie rekeninge is ook hoog en hoe gouer jy dit afbetaal, hoe meer spaar jy op rente.

Jy kan ook jou bonus in jou huisverband inbetaal en so seker maak dat jy jou huis vinniger afbetaal, wat jou ʼn aardige bedrag aan rente kan spaar.

Onthou: Hoe minder skuld jy het om elke maand af te betaal, hoe meer geld gaan jy in 2018 beskikbaar hê.

Maak voorsiening vir 2018

Onthou dat Januarie gewoonlik ʼn baie lang maand met baie nuwe uitgawes is nadat jou beursie leeg gekoop is tydens die feesgety. Hou van jou bonusgeld om jou te help om Januarie te oorleef.

Dit is ook ʼn goeie idee om maandelikse betalings, soos skoolgeld of universiteitsfooie, met jou bonus te betaal sodat jy minder maandelikse uitgawes het. Vra jou versekeraar of daar nie afslag is op premies wat eenmalig per jaar betaal word nie en indien wel, gebruik jou bonus om premies te betaal.

Maak ook planne vir 2018 en kyk hoe jy jou bonus kan gebruik om jou doelwitte te bereik. Wil jy studeer, oorsee gaan of trou? Jou bonus kan help betaal hieraan.

Bederf jouself

Na ʼn hele jaar se werk moet ʼn mens darem jouself ʼn bietjie bederf. Gebruik ʼn gedeelte van jou bonus om iets lekkers saam met jou gesin te doen sodat jy darem ʼn deel van jou bonus geniet.

Verdeel jou bonus

Jy kan ook jou bonus verdeel, deur byvoorbeeld 50% te gebruik om skuld af te los, 30% om voorsiening te maak vir 2018 en 20% om jouself te bederf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jordaan ·

Watter bonus? Niks van die aard ooit van my werkgewer af nie.

Wim ·

Johan ek het ook lank gewerk vir n werkgewer wat nie bonus betaal het nie. Elke jaar daaroor gekla. Vandag sit ek sonder werk asg dat personeel verminder is, sal wat wil gee om weer n werk te hê en sal nooit weer oor bonus kla nie.

G ·

Wim, dalk moet jy net noem watse werk jy kan doen, dalk is daar iewers iemand wat jou te hulp kan kom?

Cherokee ·

Vir sommige lesers is daardie bonus wat opgedeel kan word in (wag dat ek weer gaan lees) nuwe kar koop en oorsese reis met dit wat oorbly, soos ‘n glanspapier katologus wat dieselfde is as windowshopping uit jou leunstoel.

Deneller ·

As Denel werknemer gaan ek my bonus netso in die bank hou. Dit was so hittette of ons het dit nie gekry nie. Weet nie of volgende maand dieselfde gaan wees nie. So geen oorsese reise, studiegeld of vakansies nie. Laat ons net eers uit die poef kom.

lba ·

Ek voel jou pyn deneller . veral die tyd van die jaar moet mens meer sekerheid he

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.