Verbruikersake: Word alles wat jy koop gewaarborg?

inkopies-aankope-sakke-vrou

Foto: Gonghuimin468/Pixabay.com

Dit gebeur maar min dat verbruikers iets koop omdat dit ’n waarborg het, maar wag tot dit breek, dan soek almal naarstiglik na die waarborg en koopbewys. Sommige winkels probeer ook om ’n bykomende waarborg aan verbruikers te verkoop, wat verbruikers laat wonder of mens dan moet betaal vir ʼn waarborg. Ina Opperman het gaan kyk na wat die Wet op Verbruikersbeskerming te sê het oor waarborge.

Die Wet op Verbruikersbeskerming maak in Deel H van die wet deeglik voorsiening vir verbruikers se regte op billike waarde, goeie gehalte en veiligheid, waarin artikel 55 handel oor die verbruiker se regte op veilige goedere van goeie gehalte en artikel 56 oor die versweë waarborg van gehalte wat op alle goedere van toepassing is.

Artikel 55

Volgens artikel 55 het verbruikers die reg om te verwag dat goedere van goeie gehalte is en doen wat dit veronderstel is om te doen. Dit moet ook in ’n goeie werkende toestand wees, sonder enige defekte en jy moet dit vir ʼn redelike tydperk kan gebruik sonder dat dit breek. Goedere moet ook voldoen aan enige toepaslike standaarde kragtens die Wet op Standaarde of enige ander openbare regulasie.

Artikel 56

Die versweë waarborg van gehalte op goedere wat aan verbruikers verkoop word, word bepaal deur artikel  56. Hierdie artikel bepaal dat ʼn versweë waarborg deel is van elke transaksie met verbruikers dat die goedere voldoen aan die vereistes en standaarde van artikel 55.

Die versweë waarborg dek goedere vir die eerste ses maande nadat jy dit gekoop het. Jy kan dus ingevolge artikel 56 goedere aan die handelaar teruggee op sy onkoste en risiko, indien dit nie aan die vereistes en standaarde van artikel 55 voldoen nie.

Die winkel moet goedere wat binne ses maande teruggegee word, herstel, vervang of jou geld terug betaal. Indien die goedere herstel word, het jy ook ’n waarborg van drie maande op die herstelwerk. Indien jy binne hierdie drie maande ʼn verdere gebrek, defek of onveilige kenmerk vind, moet die winkel die produk vervang of jou geld terugbetaal.

Versweë waarborg teenoor vervaardiger se waarborg

Die versweë waarborg geld bykomend tot die vervaardiger se waarborg. Jy het dus meer regte gedurende die eerste ses maande van ’n vervaardiger se waarborg van twee jaar. Die een kan nooit die ander uitsluit nie en niemand kan verwag dat jy ’n ooreenkoms teken dat jy jou versweë waarborg opgee ter wille van die vervaardiger se waarborg nie.

Wat van tweedehandse goedere?

Artikel 56 is ook van toepassing op tweedehandse of gebruikte produkte, maar jy kan natuurlik nie verwag dat ʼn tweedehandse of gebruikte item so goed sal werk soos ʼn splinternuwe een nie.

Goedere sonder ’n versweë waarborg

  • Goedere wat jy op krediet koop, het nie ’n versweë waarborg nie, maar dit moet steeds van goeie gehalte wees. Jy kan eis dat dit herstel word, maar jy kan nie eis dat dit omgeruil word of dat jy jou geld terugkry nie. Die kredietooreenkoms bepaal die voorwaardes waarop jy goedere kan omruil of ’n terugbetaling kan eis.
  • Geskenke het ook nie ’n versweë waarborg nie, maar die persoon wat vir die produk betaal het, kan dit teruggee vir ʼn terugbetaling, vervanging of herstelwerk.
  • Goedere wat jy op ʼn veiling koop, het nie ’n versweë waarborg nie.
  • Goedere wat verander is teenstrydig met die vervaardiger se instruksies.
  • Goedere wat die produsent of invoerder, verspreider of kleinhandelaar se beheer verlaat het.

Jou regte wanneer jy goedere teruggee

  • Volgens die wet moet die handelaar die onkoste betaal om goedere te gaan haal.
  • Jy moet verduidelik waarom die goedere van swak gehalte is.
  • Jy moet bewys dat jy dit in die laaste ses maande gekoop het. As jy ’n probleem het met swak gehalte, hoef jy nie ʼn kwitansie te wys nie, maar jy moet bewys wanneer en waar jy dit gekoop het en hoeveel jy betaal het.
  • Daar is nie ʼn bepaalde tydperk om jou probleem op te los nie, maar die handelaar moet billik wees en jou nie maande lank laat wag nie.

Kla hier:

Verbruikers kan kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantore vir verbruikersake oor versweë waarborge  wat nie nagekom word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Joyce ·

julle die Clicksen Game groep is een groep wat jy kan vertrou met n waarborg hulle het geen moeilikheid met probleem toestelle nie so dankbaar ek is neen van hul kliente

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.