Verbruikersrubriek: Alles wat jy wil weet oor kredietburo’s

Argieffoto

Die meeste verbruikers stel eers vas dat hulle “geswartlys” is wanneer hul aansoeke om krediet geweier word. Min verbruikers weet ook hoe hierdie “swartlys” werk en baie meen kredietburo’s wat hul kredietgedrag dophou, skend hul privaatheid. Ina Opperman verduidelik hoe kredietburo’s werk en hoe verbruikers geraak word.

Volgens artikel 43 van die Nasionale Kredietwet kan kredietburo’s inligting versamel en in stand hou oor verbruikers se kredietaansoeke, kredietooreenkomste, betalingsgeskiedenis of betalingspatrone en verbruikerskredietinligting.

Kredietverskaffers gaan jou kredietinligting na om te sien hoe jy vorige krediet terugbetaal en bestuur het en hoe jou betalingsgeskiedenis lyk, om te besluit hoe groot die risiko sal wees om vir jou krediet te gee en of jy in staat sal wees om die terugbetaling te doen.

Die swartlys

Daar bestaan nie eintlik iets soos ʼn swartlys nie. Die term is voorheen gebruik toe kredietburo’s net negatiewe inligting oor verbruikers gehou het, maar dit is deesdae nie meer die geval nie. Kredietburo’s hou nou ook al die positiewe inligting oor hoe jy krediet hanteer.

Kredietinligting

Artikel 70 van die wet beskryf verbruikerskredietinligting as iemand se kredietgeskiedenis, wat aansoeke om krediet, kredietooreenkomste waarby jy betrokke is of was, die patroon van betaling of wanbetaling, skuldherstrukturering, stappe om betaling af te dwing en die omstandighede waarin kredietooreenkomste beëindig is, insluit. Jou finansiële geskiedenis is ook deel daarvan en sluit jou vorige en huidige inkomste, bates en skuld en ander inligting oor jou finansiële vermoëns, vooruitsigte en verpligtinge in.

Die verbruikerskredietinligting sluit ook jou opleiding, indiensneming, loopbaan en professionele of sakegeskiedenis in, sowel as jou identiteit,  jou naam, geboortedatum, identiteitsnommer, huwelikstaat en familieverwantskappe, vorige en huidige adresse en ander kontakbesonderhede.

Kredietburo’s se verpligtinge

Kredietverskaffers dien verbruikerskredietinligting teen betaling in by kredietburo’s, maar as jy as verbruiker die inligting wil regstel of betwis, word geen fooi gehef nie. Kredietburo’s moet redelike stappe doen om seker te maak enige verbruikerskredietinligting wat hulle ontvang, is korrek. Die inligting moet vir ʼn voorgeskrewe tydperk gehou word, maar  moet onmiddellik enige voorgeskrewe verbruikerskredietinligting uit sy rekords skrap wat ingevolge die regulasies nie op sy rekords aangeteken mag word nie.

Inligting mag aan kredietverskaffers gegee word wanneer jy om krediet aansoek doen of self vra vir jou kredietrekord, maar die kredietburo mag nie ʼn negatiewe gevolgtrekking maak oor jou kredietwaardigheid as dit geen inligting oor jou het nie of verkeerde inligting uitgee nie.

Verbruikers se regte oor kredietrekords

Volgens artikel 72 van die wet het jy die reg om binne 28 dae deur ʼn kredietverskaffer in kennis gestel te word voordat hy aan ʼn kredietburo verslag doen oor enige voorgeskrewe ongunstige inligting oor jou. As jy daarvoor vra, moet jy ʼn afskrif daarvan kry.

Jy het ook die reg om een keer per jaar ʼn gratis afskrif van jou kredietrekord te kry sodat jy kan seker maak dat al die inligting korrek is. Dit is ook jou reg om die korrektheid van enige inligting daarin te betwis en van die kredietburo en verskaffer te verwag om enige foute te ondersoek en reg te stel.

Kredietverskaffers wat verkeerde inligting aan kredietburo’s gee, moet jou ook vergoed vir die koste om die inligting reg te stel. Terwyl die kredietburo ondersoek instel, mag die betwiste inligting nie deel vorm van jou inligting wat verskaf word nie. Jy kan by die Nasionale Kredietreguleerder kla oor verkeerde inligting. Kredietverskaffers mag ook nie van jou verwag om ʼn verslag van ʼn kredietburo te kry wanneer jy om krediet aansoek doen nie.

Jy kan die betrokke kredietburo bel om ʼn afskrif van jou kredietrekord aan te vra. As jy van die inligting wil betwis, moet jy die kredietburo se voorgeskrewe vorms invul en aanstuur. Indien jy nie binne 20 dae terugvoering kry nie, kan jy by die Kredietombud kla.

Hoe lank bly inligting op jou kredietrekord?

Verskillende soorte inligting bly vir verskillende tydperke op jou kredietrekord:

  • Ongunstige inligting, soos dat jy nie jou skuld betaal nie, laat betaal, verdwyn het sonder om te betaal, stadig betaal of nie mee kontak gemaak kan word nie, bly vir ʼn jaar op jou kredietrekord.
  • Ongunstige inligting vir skuldinvordering deur die kredietverskaffers soos om regstappe te doen of jou skuld af te skryf, geld vir twee jaar lank.

Onthou, as jy ʼn agterstallige rekening ten volle betaal het, word die skuld nie dadelik van die lys verwyder nie – daar word net aangedui jy het dit betaal.

Verwydering van rekord van skuldaanpassing of vonnis

Artikel 71 van die wet bepaal ʼn verbruiker wie se skuld herstruktureer is, kan by ʼn skuldberader aansoek doen om ʼn klaringsertifikaat indien die verbruiker al sy skuld afbetaal het. Jy kan dan die sertifikaat indien by die kredietburo, wat dit dan uit sy rekords moet skrap. Dieselfde geld vir ʼn hofbevel wat enige vonnis nietig verklaar.

Kredietburo’s en jou privaatheid

Kredietburo’s hou inligting op hul stelsels oor hofbevele oor slegte skuld, inligting wat jy verskaf wanneer jy aansoek doen om krediet en jou kredietgedrag wat verskaf word deur kredietverskaffers. Hulle hou nie inligting oor jou ras, etniese herkoms, politieke menings, geloof, lidmaatskap van vakbonde, jou gesondheid, seksuele voorkeure of strafregtelike oortredings nie.

Onthou: Die kredietburo kan nie jou aansoek om krediet afkeur nie – net die kredietverskaffer kan dit doen, gegrond op die inligting wat die kredietburo verskaf.

Kla hier:

  • Die Kantoor van die Kredietombud: 086 166 2837 of stuur ʼn e-pos na [email protected].
  • Die Nasionale Kredietreguleerder: 086 062 7627 of 011 554 2600 of stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

botterblommetjie ·

Ek al soooo baie slegte dinge van skuldberaders gehoor. Dalk kan mens eers die ombutsman bel. Kan nie verstaan hoekom skuldberaders alleenreg het om jou skuldvry te verklaar nie. Voel as die kredietburo’s soveel verantwoordelikheid oor jou wil neem moet hul seker maak jy skuld ook nog… Voel as hulle jou skuld wil naspoor moet hulle seker maak dat die skuld nie intussen vereffen ook is nie… Seker maak van hul “feite”… Die een kant sê die artikel hulle moet goeie en slegte dinge van jou naspoor en het die reg op soveel inligting, wat van jou betalings geskiedenis ook naspoor… Mos goeie dinge van jou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.