Verbruikersrubriek: Dis hoeveel jy nou mag betaal vir kredietlewensversekering

Kredietkaart

Foto: Clickx.be

Die nuwe regulasies oor kredietlewensversekering is nou van krag en verbruikers kan hul deel doen om seker te maak kredietverskaffers oortree nie wanneer verbruikers aansoek doen vir krediet nie. Ina Opperman verduidelik wat die regulasies vereis en wat verbruikers kan doen om te verseker hul regte word beskerm.

Volgens die Nasionale Kredietreguleerder (NKR) is die nuwe regulasies, wat in terme van die Nasionale Kredietwet gemaak en in die Staatskoerant gepuliseer is, nou van krag. Hierdie regulasies skryf die minimum-voordele voor wat verbruikers moet kry en die beperkings of uitsluitings wat van toepassing mag wees.

Statistiek het in die afgelope paar jaar gewys net 20 persent van eise teen kredietlewensversekering word uitbetaal, vergeleke met die aantal premies wat betaal word. Dit is daaraan toegeskryf dat die meeste mense dalk onbewus is daarvan dat hulle dit in die eerste plek het.

Doel van die regulasies

Die regulasies is gemaak om die koste van kredietlewensverskering te beperk, sodat verbruikers nie meer as R4,50 per R1 000 betaal vir versekering van ’n bedrag vir kredietgeriewe, ongesekureerde lenings, ontwikkelingskrediet of ander soorte kredietooreenkomste nie. Vir huislenings mag verbruikers nou nie meer as R2 per R1 000 van die versekerde bedrag betaal nie.

Voorheen is berig dat sommige maatskappye verbruikers tot R8,75 per R1 000 laat betaal het en in gevalle waar die premie bepaal is deur die balans van die krediet, het dit ook nie maandeliks verminder soos die bedrag afbetaal word nie.

Die regulasies is daarop gerig om jou reg tot inligting te ondersteun en daarom moet die kredietverskaffer, net soos met die uitsluiting van bestaande toestande, jou behoorlik inlig oor enige ander uitsluitings en beperkings.

Wat is lewenskredietversekering?

Iemand wat lewenskredietversekering uitneem, se uitstaande skuld word gedek indien hy of sy permanent onskik raak om te werk, of sterf. Die afleggingsversekering maak seker dat jou maandelikse betalings gedek word tot twaalf maande nadat jy jou werk verloor het.

Wat mag kredietverskaffers nie doen nie?

Hulle mag nie meer aan verbruikers wat nie permanent werk nie, afleggingsdekking verkoop nie. Tot heel onlangs is verskeie maatskappye uitgewys wat mense laat betaal het vir afleggingsdekking al het hulle nie werk nie. Een maatskappy het selfs ongeskiktheidsdekking aan pensioenarisse verkoop, wat uiteraard nie kon eis nie, omdat hulle nie meer werk nie.

Uitsluitings

Die regulasies gee kredietverskaffers wel die reg om die dekking wat kredietlewensversekering verskaf te beperk in gevalle van alkoholmisbruik, dwelmmisbruik, selfbesering, selfdood, aktiewe deelname aan oorlog of oorlogverwante operasies, burgeroorlog of burgerlike oproer, deelname aan misdadige optrede, deelname aan gevaarlike optrede soos reksprong en die gebruik van kern-, biologiese of chemiese wapens as oorsaak van dood of ongeskiktheid.

Dekking vir afdanking of aflegging kan uitgesluit word in die eerste drie maande van die kredietooreenkoms indien die ooreenkoms langer as ses maande duur. Dekking kan ook beperk of uitgesluit word indien jy wetlik afgedank word weens wangedrag of pligsversuim, of wanneer jy aftree, bedank, deelneem aan ʼn onbeskermde staking, vrywillig ʼn pakket aanvaar of vrywillig van jou inkomste afstand doen.

In die geval van aflegging waarvan jy geweet het drie maande voordat die kredietlewensversekering in werking tree, kan dekking uitgesluit of beperk word.

Bestaande toestande

Bestaande toestande kan uitgesluit word van dekking deur kredietlewensversekering. Dood of ongeskiktheid wat deur ʼn bestaande toestand, waarvan jy bewus was in die twaalf maande voordat die dekking in werking tree, kan ook uitgesluit word, indien jy spesifiek daaroor ingelig word wanneer jy aansoek doen.

Waar om te kla

As jy wil kla oor kredietlewensversekering of enige ander kwessie wat met krediet verband hou, besoek die Nasionale Kredietreguleerder se webtuiste by www.ncr.org.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Piet Pompies ·

As verbruiker en persoon wat glo dat die regte van verbruikers in sommige gevalle ondermyn word tot groot finansiele voordeel van besighede het ek as jong man met Ina Opperman kennis gemaak met haar verbruikers rubriek in Beeld koerant. Met haar goeie raad kon ek ‘n “Time share” kontrak stop en is my een voertuig se enjin vervang met ‘n herboude een nadat dit bekend geword het dat die enjin nie volgens spesifikasie is. Sy het my baie touwys gemaak en ek gebruik nog steeds van haar raad en het dit ook my kinders oorgedra.
Ina Opperman is goed, jy kan gerus glo aan haar raad..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.