Verbruikersrubriek: Hoe die Wet op Verbruikers­beskerming studente beskerm

studeer-studies-leer-biblioteek-skootrekenaar

Foto: Stephanie/Pexels.com

Opvoedkundige instellings moet voldoen aan onderwyswetgewing, moet geregistreer wees en aan verskeie opvoedkundige vereistes voldoen. Min verbruikers weet egter dat hierdie instellings ook moet voldoen aan die bepalings van die Wet op Verbruikersbeskerming. Ina Opperman verduidelik wat jou regte is in terme van die wet wanneer jy aan ʼn opvoedkundige instelling studeer.

Volgens die Wet op Verbruikersbeskerming is studente aan opvoedkundige instellings ook verbruikers en word hul regte ook deur die wet beskerm wanneer hulle ʼn ooreenkoms sluit met ʼn instelling. Dit sluit dienste in soos onderrig en bykomende dienste soos toegang tot geriewe, verblyf en die verskaffing van goedere soos studiemateriaal en etes.

Instellings moet dus voldoen aan die bepalings van die wet ten opsigte van bemarking, bevordering van verkope, kontrakvoorwaardes, beleid en ooreenkomste, inligting en die oplossing van klagtes.

Bemarking

Die bemarking of bevordering van goedere en dienste sluit alles in wat die universiteit doen om sy dienste en goedere aan verbruikers bekend te stel. Aangesien verbruikers in terme van die wet die reg het op billike en verantwoordelike bemarking en billike en eerlike behandeling, moet alle bemarking voldoen aan die standaarde en beperkings van die wet, al word dit deur ʼn derde party gedoen.

Instellings mag nie enige valse of misleidende aansprake, soos dat ʼn bepaalde kwalifikasie jou sal voorberei vir ʼn bepaalde beroep as dit nie die geval is nie, maak nie. Studente mag ook nie mislei word oor die pryse van kursusse nie of dat ʼn bepaalde lektor klasse gaan aanbied as dit nie gaan gebeur nie.

Verbruikers word ook beskerm teen direkte bemarking van kursusse en die wet bepaal dat verbruikers mag weier om inligting oor kursusse te ontvang, die instelling kan versoek om op te hou om inligting te stuur en dat die instelling dan moet ophou om dit te doen en die verbruiker se besonderhede van hul lys moet verwyder. Opvoedkundige instellings kan ook net met verbruikers kontak maak tussen agtuur soggens en agtuur saans op weekdae en tussen negeuur en eenuur op Saterdae. Verbruikers kan ook ʼn kontrak wat uit direkte bemarking spruit binne vyf dae skriftelik kanselleer luidens die afkoelperiode wat vir kontrakte geld wat uit direkte bemarking voortspruit.

Billike kontrakvoorwaardes

Alle ooreenkomste met voornemende studente moet aan die bepalings van die wet voldoen, soos eenvoudige en verstaanbare taalgebruik en billike kontrakvoorwaardes wat ook nie die instelling se aanspreeklikheid beperk nie. Die kontrakvoorwaardes moet ook spesifiek onder jou aandag gebring word voordat jy die kontrak teken. Die instelling mag dus nie bloot bepaal dat jy glad nie jou geld terugkry as jy opskop nie.

Klasgeld en betalings

Voornemende studente moet vooraf ingelig word oor al die kostes verbonde aan die kursus en hulle moet betyds in kennis gestel word van verhogings in kursusgeld.

Gehalte van onderrig

Instellings mag nie onderrig verskaf wat nie aan bepaalde standaarde voldoen nie en goedere, soos studiehandleidings, moet ook op standaard wees. Kursusse moet betyds begin en betyds klaarmaak en lektore moet lesings verskaf wat aan opvoedkundige standaarde voldoen. Indien nie, kan studente hul studies staak en hul geld terugeis.

Kansellasie van studies

Instellings moet ’n beleid verskaf oor terugbetalings aan studente wat voldoen aan die bepalings van die wet. Hulle mag ʼn fooi hef vir kansellasie, maar studente is geregtig op ʼn terugbetaling van vooruitbetaalde fooie nadat geld afgetrek is vir dienste en goedere wat hulle reeds ontvang het. Studente het die reg om ʼn kursus vooraf te kanselleer en fooie mag nie gehef word indien die kursus gekanselleer word omdat die student in die hospitaal opgeneem word of sterf nie.

ʼn Kansellasiefooi is onregverdig indien dit ʼn billike bedrag oorskry. Wanneer ’n kansellasiefooi bereken word, moet die aard van die goedere en dienste en die lengte van die kennistydperk in ag geneem word, sowel as werklike pogings van die instelling om ander studente te kry om die kursus oor te neem en die norm in die bedryf.

Oorinskrywing en oorbespreking

Instellings mag nie betalings van voornemende studente ontvang as dit nie meer plek vir studente het nie en indien die instelling dit wel doen en dan nie die kursus vir almal kan aanbied nie, moet dit studente terugbetaal met rente en die student vergoed vir enige direkte uitgawes as die instelling beheer daaroor gehad het en die student vroegtydig laat weet het.

Kla só:

  • Kla by die instelling se hoof self.
  • As jou klagte nie opgelos word nie, kla by die provinsiale verbruikerskantoor, wat jou klagte verder sal verwys indien nodig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.