Verbruikersrubriek: Kry hier hulp met onopgeloste klagtes

kredietkaart-geld-inkopies

Foto: Jarmoluk/Pixabay.com

Die kantoor van die Ombudsman vir Goedere en Dienste is in Mei 2015 amptelik deur die Nasionale Verbruikerskommissie geakkrediteer as ʼn alternatiewe klagteoplossingsagent en die Gedragskode vir die Verskaffers van Goedere en Dienste is ook aanvaar. Ina Opperman verduidelik hoe die Ombudsman werk en wie daar kan kla.

Die Ombudsman vir Goedere en Dienste is gestig in terme van die Wet op Verbruikersbeskerming om klagtes vinnig en onafhanklik op te los. Die Ombudsman se kantoor is verantwoordelik vir die toepassing van die bedryf se verpligte gedragskode deur klagtes te ontvang en ondersoek in te stel na oortredings van die gedragskode. Die diens is gratis vir verbruikers.

Verpligte lidmaatskap

Aangesien lidmaatskap verpligtend is, moet alle verskaffers van verbruikersgoedere en dienste aansluit. Dit sluit kleinhandelaars, verskaffers, groothandelaars, verspreiders, vervaardigers, produsente, invoerders, tussengangers, logistieke en verskaffingskettingagente in, tensy hulle deur ʼn ander gedragskode gereguleer word of onder ʼn ander ombudsman val.

Lede moet voldoen aan die gedragskode, registreer by die Ombudsman en bydra tot die finansiering van die kantoor. Lidmaatskapfooie word bereken na gelang van die grootte van die onderneming.

Wie kan kla?

Die Ombudsman kan klagtes hanteer wat private individue, ʼn regspersoon of kleinsakeonderneming indien, as die omset minder as R2 miljoen per jaar is.

Indien jou klagte nie deur die maatskappy waaroor jy kla, opgelos word nie, kan jy die roete van alternatiewe dispuutoplossing volg wat die Ombudsman bied. Die kantoor van die Ombudsman gee die maatskappy ʼn geleentheid om sy kant van die saak te stel en help jou om ʼn ooreenkoms te bereik met die maatskappy.

As die Ombudsman se kantoor nie die geskil kan besleg nie, kan jy dit verwys na die Nasionale Verbruikerskommissie, wat verder ondersoek kan instel.

Waaroor kan jy kla?

  • Defekte in produkte wat nie doen wat hulle veronderstel is om te doen nie, binne ses maande nadat jy dit gekoop het.
  • Produkte wat nie binne die afgesproke of billike tyd afgelewer is nie.
  • Produkte wat minder as tien dae gelede afgelewer is en wat nie is wat jy bestel het nie, of beskadig is.
  • Produkte wat ná die vervaldatum verkoop is en die gehalte en voorkoms is nie wat jy verwag het nie.
  • ʼn Defek in die produk het skade veroorsaak.
  • ʼn Defek in die produk het ʼn besering of siekte veroorsaak, maar jy moet ʼn doktersverslag kan toon en dit by die munisipaliteit aanmeld as dit voedselvergiftiging is.
  • Onbevredigende diens. Dit sluit herstelwerk, konstruksie, verfwerk, tuinwerk, kleremaak, haarsny, die verskaffing van enige onderwys, inligting, advies of konsultasie, vervoer van mense of goedere, die verskaffing van blyplek en voedsel, enige vermaak of toegang tot vermaak, geleentheid of perseel in.
  • Kansellasie van vooruitbespreking, bestelling of kontrak.
  • Pryse wat nie korrek vertoon word nie of verkeerde pryse.
  • Misleidende inligting op etikette.
  • Onaanvaarbare behandeling, soos die gebruik van fisieke mag teen ʼn verbruiker, dwang, onbehoorlike beïnvloeding, druk, teistering en onbillike verkoopstegniek, sowel as verskaffers wat voordeel trek uit die verbruiker se onvermoë om sy eie belange te beskerm weens fisieke of geestesgestremdheid, ongeletterdheid, onkunde of onvermoë om die taal te verstaan wat gebruik word in ʼn
  • Onbillike diskriminasie op grond van byvoorbeeld ras, geslag, huwelikstatus, etniese afkoms, sosiale afkoms, kleur, seksuele voorkeur, ouderdom, gestremdheid, godsdiens, geloof, kultuur, taal en geboorte.

Kla hier:

Jy kan jou klagte direk op die webwerf indien by http://www.cgso.org.za/, of jy kan die oproepsentrum bel by 0860 000 272.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.