Verbruikersrubriek: Nou luister iemand uiteindelik na tyddeelklagtes

vakansie-somer

Foto: Stevebidmead/Pixabay.com

Verbruikers kla al jare lank, omtrent solank as wat die tyddeelvakansiebedryf bestaan, oor verskeie aspekte van tyddeel wat hulle meen nie hul verbruikersregte in ag neem nie. Nadat die Nasionale Verbruikerskommissie onlangs aangekondig het dat ʼn paneel kundiges nou ondersoek gaan instel, is die eerste openbare verhoor daaroor gister in Pretoria gehou. Ina Opperman verduidelik wat gebeur.

Die kommissie het in Mei bekend gemaak dat die paneel ʼn openbare ondersoek gaan doen na die vakansieklubbedryf en voorstelle gaan maak om die kommissie te help om verbruikers se uitdagings en probleme rakende vakansieklubs op te los.

Die Pretoria-verhoor, wat gister by die Sierra Burgers Park-hotel begin het, duur vandag voort. Verbruikers kry by die verhore die geleentheid om die paneel te vertel hoe hulle sukkel met dinge soos plekbesprekings en kansellasies. Die meeste klagtes oor tyddeel kom uit Gauteng.

Verbruikersklagtes

Verbruikers kla onder meer hulle is mislei om kontrakte vir ʼn leeftyd te teken, wat nooit gekanselleer kan word nie, dat maatskappye verblyf oorbespreek en oorverkoop en dat die maatskappye hulle met regstappe dreig as hulle nie die heffings betaal vir plekke waar hulle nooit kan bly nie omdat dit altyd vol bespreek is.

Die manier waarop vakansieklubs of tyddeelskemas bedryf word, druis moontlik lynreg in teen die Wet op Verbruikersbeskerming. Dit sluit die bepalings oor jou reg om ongewenste direkte bemarking te beperk, jou reg op ʼn afkoeltydperk ná direkte bemarking, jou reg op verantwoordelike bemarking, billike en eerlike behandeling, billike en regverdige en redelike voorwaardes in.

Artikel 47, wat oor oorverkoping en oorbespreking handel, is veral belangrik. Volgens artikel 47 mag ’n verskaffer nie betaling aanvaar vir goedere of dienste wat hy nie kan verskaf nie of as hy ander goedere of dienste wil lewer wat wesenlik verskil van die goedere of dienste wat die verbruiker koop. Indien die verskaffer dan nie voorraad het nie, moet die verskaffer die verbruiker se geld teruggee met rente en die verbruiker vergoed vir koste weens die kontrakbreuk.

Openbare verhore

Die nasionale verbruikerskommissaris, Ebrahim Mohamed, het gister verbruikers wat voel hulle word ingeloop met tyddeel of vakansieklubs aangemoedig om deel te neem aan die openbare verhore, veral as hulle reeds by die kommissie of enige ander bedryfsorganisasie daaroor gekla het.

Paneel

Die paneel bestaan uit Diane Terblanche, ʼn prokureur met uitgebreide ondervinding in verbruikersbeskerming, Aubrey Ngcobo, ʼn prokureur met meer as 22 jaar ondervinding in eiendomsreg en Zandile Mpungose, ʼn prokureur met uitgebreide ondervinding in kontrakbestuur, beleidsontwikkeling en strategie.

Paneel se werk

Volgens die kommissie sal die span die kernoorsake van die verbruikerskwessies oor tyddeel identifiseer en bevindings maak op grond van die feite en bewyse in verbruikersklagtes. Hulle sal dan aanbevelings kan maak oor hoe om die kwessies aan te pak en klagtes op te los.

Die paneel en die kommissie se tegniese taakspan sal oor die volgende ses maande ondersoek instel oor die hele land deur middel van gesprekke met verbruikers, rolspelers in die bedryf, reguleerders, akademici, howe, tribunale en ander belanghebbendes. Hulle sal:

  • ondersoek instel na die aard, kenmerke en soorte vakansieklubs, tyddeel en soortgelyke produkte en dienste;
  • die grondslag bepaal waarop die bedryf se produkte en dienste bemark word;
  • bepaal hoe en deur wie die bemarking, verhuring, verkoop en ruilings gedoen word;
  • bepaal wie die verskaffers in die bedryf is en wat hul onderlinge verhoudings is;
  • ʼn inventaris saamstel van punte waarvoor produkte en dienste verskaf word;
  • ʼn waardebepaling doen van die openbaarmakings wat verbruikers kry voordat hulle ʼn kontrak teken en ondersoek instel na die ooreenkomste wat verbruikers gewoonlik teken;
  • vasstel wat die grondslag is vir die bepaling van pryse, fooie en heffings;
  • vasstel of voorsiening gemaak word vir konsultasie met verbruikers oor die algemene onderhoud van eiendomme in die geval van langtermynkontrakte;
  • die grondslag vir eienaarskap en aandeelhouerstrukture van eiendomme bepaal;
  • verbruikersklagtes oor die bemarking, verhuring, verkoop, herverkoop, omruiling en bewoning en alle ander maniere om plek te bespreek oorweeg;
  • die wetgewing, regulasies, beleid en gedragskodes wat regulering van die bedryf moontlik kan raak, identifiseer;
  • kyk of huidige maatreëls voldoende beskerming vir verbruikers bied;
  • aanbevelings maak oor die verskillende opsies wat beskikbaar is om die skuiwergate, ontoereikendheid en ondoeltreffendheid van wetgewing, regulasies, beleid en gedragskodes te hanteer en hoe verbruikers beter beskerm kan word; en
  • aanbeveel watter bepaalde kenmerke van vakansie-eienaarskap gereguleer moet word of oorweeg moet word vir regulering deur bestaande regulasies.

Hier is jou kans om te kla

Die datums vir verhore in ander stede lyk so:

  • In die Wes-Kaap van 10 tot 15 Julie
  • In KwaZulu-Natal van 24 tot 27 Julie
  • In Mafikeng in Noordwes van 14 tot 15 Augustus
  • In Polokwane van 21 tot 22 Augustus
  • In die Oos-Kaap van 28 tot 30 Augustus
  • In Gauteng van 4 tot 7 September
  • In Mpumalanga, die Vrystaat en Noord-Kaap van 11 tot 27 September

Fluitjieblasers

Mohamed het ʼn beroep gedoen op fluitjieblasers en enigiemand anders wat inligting het wat die paneel kan help, om na vore te kom. Mense kan ʼn vertroulike voorlegging doen deur die paneel te nader by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Tot na jou dood ·

Tot na jou dood word jy steeds as eggenoot getreiter. My vrou kon nie meer van hierdie spul gebruik maak nie en weens treminale kanker wat op die ou einde ook haar dood veroorsaak het was vir hulle nie genoeg want hulle geld wou hulle hê. Hulle is ‘n vieslike spul wat soos bloedhonde op jou spoor is.
Dis nou goed en wel om die datums te gee maar nutteloos om nie die stede en plek te toon.

Wilna ·

Ja Ek sal ook graag wil weet waar in Gauteng gaan dit aangebied word. Help niks as net die datum gegee word.

Daan Erasmus ·

Die kommissie gaan ‘n skewe beeld kry. Ek sien al klaar hier is klagtes oor klein onbenullighede. Ons beplan vooruit en sukkel bitter min om plek te kry. Natuurlik gaan jy sukkel om Kersfees in Margate plek te kry. Wat ‘n werklike probleem is dat die jaarlikse heffing se inflasie dieselfde is as mediese inflasie. Kyk maar na die werkers by oordeel. Jy sou dink hulle is met vakansie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.