Verbruikersrubriek: Silwer randjie vir selfoondataklagtes

slimfoon-pexels-pixabay

Foto: Pexels/Pixabay.com

Verbruikers kla al lank oor data op hul slimfone wat binne minute verdwyn, ongelooflike duur buite-bundeltariewe en die oordrag van data wat nie teen die vervaldatum gebruik is nie. Die donker wolk van selfoonklagtes het egter Maandag ʼn silwer randjie gekry toe die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika (Okosa) konsepregulasies gepubliseer het wat hierdie probleme hanteer. Ina Opperman verduidelik wat die konsepregulasies voorstel.

Okasa het die konsepregulasies in die Staatskoerant gepubliseer vir kommentaar in terme van die Wet op Elektroniese Kommunikasie, nadat dit vroeër ook aangedui het ondersoek word ingestel na die redes waarom data so duur is in Suid-Afrika.

Verstryking van databundels

Verbruikers koop gewoonlik pakkette met ʼn bepaalde hoeveelheid data, wat binne ʼn sekere tyd geldig is. As jy egter nie al die data gebruik nie, verval dit en jy kan dit nie terugkry nie. Volgens die konsepregulasies moet die verskaffer jou vroegtydig laat weet dat dit gaan verval en jou die geleentheid gee om dit oor te dra na die volgende tydperk.

Tydperke waarin sekere groottes bundels geldig moet bly, word ook voorgestel. Volgens die konsepregulasies moet bundels data van tussen 1 MB en 50 MB vir minstens tien dae geldig bly, terwyl bundels van meer as 20 GB geldig moet bly vir 24 maande.

Tans werk dit so dat diensverskaffers bundels aanbied op grond van verstryking, sodat verbruikers klein hoeveelhede data kan koop teen ʼn lae prys, maar dit is net geldig vir ʼn baie kort tyd.

Stem- en teksdienste

Regulasie 8 word aangepas volgens die konsepregulasies dat die verskaffer kennisgewings moet uitstuur vir stem- en teksdienste wanneer 50%, 75%, 90% en 100% van die diens gebruik is. Verbruikers moet die geleentheid kry om bykomende dienste te koop wanneer die beskikbare hoeveelheid opgebruik is en indien die gebruiker nie nog wil koop nie, moet die diens beëindig word en verbruikers moet net toegang kry tot die nood- en klantediens.

Datadienste

Regulasie 8 word ook verander om buitebundeldatapraktyke en die verstryking van data te hanteer. Diensverskaffers moet ʼn meganisme verskaf wat verbruikers in staat stel om te kies of hulle bundelheffings wil betaal wanneer hul data opgebruik is. Verskaffers moet ook verbruikers gereeld laat weet wanneer 50%, 75%, 90% en 100% van hul data opgebruik is en hulle waarsku dat ʼn bundel heeltemal klaar is.

Verbruikers moet die keuse kry om nog data te koop en mag nie outomaties vir buitebundeldata betaal wanneer hulle nog data wil koop nie en moet die keuse kry om dit te kies. Dit sal keer dat verbruikers skielik met ʼn onbekostigbare datarekening sit.

Indien die verbruiker nie nog data wil koop nie, moet die diens beëindig word en verbruikers moet net toegang kry tot die nood- en klantediens.

Verstryking van data

Volgens die konsepregulasies moet data van 1 MB tot 50 MB vir minstens tien dae geldig wees, 50 MB tot 500 MB vir 30 dae, 500 MB tot 1 GB vir 60 dae, 1 tot 5 GB vir 90 dae, 5 tot 10 GB vir 180 dae, 10 tot 20 GB vir 12 maande en meer as 20 GB vir 24 maande. Groter databundels is tans gewoonlik geldig vir omtrent 30 dae.

Verbruikers moet sewe dae voordat die data verstryk, ingelig word dat dit gaan verval en die keuse kry om ongebruikte data oor te dra na die volgende tydperk.

Verbruikersopvoeding

Die konsepregulasies maak ook voorsiening daarvoor dat diensverskaffers verbruikers moet opvoed oor die gebruik van slimfone, hoe om data te gebruik en die reeks dienste en produkte wat beskikbaar is. Verbruikersopvoedingsprojekte moet elke kwartaal aangepak word.

Kommentaar oor konsepregulasies

Belanghebbendes kan tot 19 September kommentaar lewer oor die konsepregulasies. Die regulasies is hier beskikbaar: http://www.gov.za/sites/www.gov.za/files/41030_gon822.pdf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Gee ·

Klink glad nie of dit verbruikers gaan help nie. Data is nogsteeds die duurste in di land as enige ander land en data verbruiking is belaglik deesdae. Mens kan glad ni meer n 1gb so ver trek as bv laas jaar die tyd nie

Elkedag ·

Hulle stel mens in kennis dat data gaan verval. Maar die Nuwe data of lugtyd moet eers gebruik wees voordat die ou data wat gaan verval gebruik kan word! So verval ou data Sonder dat dit gebruik kan word.

Gys ·

You still pay twice for sending something with data. The sender use data to send it and the receiver uses date to receive it. The network operator should make data then cheaper for this reason

JWM ·

Dankie, dit kan bietjie help. Ek dink steeds baie van my data verdwyn met foutiewe seine, netwerkfoute, kontakprobleme, stukkende skakels. Mors ook kosbare tyd om tevergeefs te wag vir oopmaak van n berig en dan verskyn die fout op die skerm! Reaksie op my klagtes en navrae is bloot dat die area meer en sterker senders benodig.

Leon ·

Vragie waarom moet data verval as ek kruideniersware koop en fis nie klaar gebruik teen die einde van die maand nie, kom haal hulle dit terug die keuse bly mos maar myne wanneer ek dit wil gebruik en mtn roof my ook nog elke dag ń boodskap van data gebruik buite bundel ek gebruik nie soos in glad nie mobiele data nie

Anita Maritz ·

Feit bly staan. Ek het daardie data gekoop, en betaal daarvoor, hoekom moet dit verval? As ek krag koop in ‘n maand en nie alles opgebruik nie, verval dit nie. Verskaffers steel ons geld.

Adriaan ·

Aardskelms…wat ook jy persoonlike gegewens verkwansel aan elke Jan Rap en sy maat.

John ·

As die selfoonmaatskappy se base nie hul vet salarisse binne een maand opgebruik nie, moet dit ook net in die niet verdwyn.

vrikie ·

Mense is verslaaf gemaak aan die elektroniese media, nou kan ons nie daarsonder nie, en dit is waarom ons uitgebuit word. Kla oor hoe duur dit is maar koop dit tog nog steeds.

AWB ·

Dis hoe hulle ons geld wettig steel en mijoene wins toon op die effekte beers en vet selarisse huistoe vat , vadacom is die grootste skelm .

Paul ·

Ai, mense verstaan nie hoe werk data nie.

Dis nie soos ‘n sak meel wat daar staan in die kas en jy gebruik dit tot dit op is nie.

Dis soos om ‘n hotelkamer te huur. Jy huur die kamer vir ‘n spesifieke dag of dae, en as daardie tyd verstryk, moet jy uit, selfs al was jy dalk net elke dag ‘n paar uur in die hotelkamer.

Die “data” wat die netwerk aan jou verkoop, is eintlik die gebruik van hul kabels en radiospektrum. ‘n Elektroniese netwerk kan net ‘n beperkte hoeveelheid data op ‘n slag versend, so as hulle weet wie wanneer hoeveel data gaan versend of ontvang, kan hulle beter voorsiening maak. Dis hoekom die goedkoper data verstryk en die duurder data nie verstryk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.