Verf Oom Paul dan maar groen

Oudpresident Paul Kruger se standbeeld op Kerkplein in Pretoria. Foto: Argief.

Oudpresident Paul Kruger se standbeeld op Kerkplein in Pretoria. Foto: Argief.

Tydens langnaweke en vakansies hoor ons van alle kante verkeersverslae. Die paaie is besig. Dit is duidelik: Dié wat kan, is almal op pad iewers heen. Sommige gaan rus sodat hulle ’n nuwe werktyd met vrug kan aanpak, ander, verreweg die meeste mense, gaan soek die bekendheid van familie op. Ons onthou mos graag die warmte van ’n nes. Ons wil veilig voel en by die bekendheid van die bekendes sekuriteit skep. Daarom ry ons baie, baie ver om so ’n bietjie ma se kos te eet, al is jy al jare uit die huis.

Ons hou van onthou. En goeie onthou laat ons veilig voel. Daarom is ek so kwaad as hulle vir Oom Paul groen verf. Dit raak so ’n bietjie die veiligheid van my onthou. Om Oom Paul se beeld groen te verf maak nie my geloof swakker nie, nee wat, my geloof is nie geanker in beelde nie. Om Oom Paul se beeld groen te verf verander ook nie die geskiedenis nie. Nee wat, jy kan daardie beeld groen, blou, rooi of geel verf, dit verwyder, aan die brand steek of in stukkies kap – die geskiedenis staan soos dit staan. Wat gebeur het kan jy oor skryf, praat, veroordeel, beoordeel, maar jy kan dit nie verander nie.

Daarom juis dat Oom Paul so mooi vir ons geleer het om uit die verlede te neem wat goed is en daarop ’n toekoms te bou.

Om Oom Paul se beeld groen te verf verander ook nie my beskouing van wat integriteit is nie. Hy was ’n man vol integriteit. Al verf jy al die beelde van hom en dié van honderde mense soos hy groen, sal jy nie sy integriteit en die waardes wat hy uitgeleef het, kan wegverf nie.

As ek met my kinders ry dan leer ek hulle graag oor die integriteit van hierdie manne (en vroue) uit ons geskiedenis. Sonder beelde of met groen geverfde beelde gaan ek steeds my kinders leer. Ry ons by die Danie Theron-gedenknaald verby, vertel ek hulle van sy bekende Paardeberg-woorde: “Ja, generaal, ek sal gaan.” By Bethulie, as ons by Louw Wepener se kopstuk staan, vertel ek hulle dat hy ’n leier was wat bekend was dat hy altyd voor geloop en voor geveg het. Hy het nie gesê gaan nie, maar sy opdrag was altyd kom. 

Kom ons in Potchefstroom by die Totius-beeld dan praat ons oor ’n man wat nege doktorsgrade (verwerf en toegeken) gehad het en tog bekend is om sy woorde “genade, alles genade”. As ons in De Wetsdorp kom by die graf van genl. Christiaan de Wet se vrou dan leer ons graag van ’n vrou wat getuig het ons manne is vol krag en moed, hulle sal nie sommer oorgee nie.

So, verf maar Oom Paul se beeld groen, my geloof, my geskiedenis en my beskouing van integriteit gaan nie verander nie.

Oom Paul was ’n geloofsman van integriteit wat sy mense geleer het om die geskiedenis kosbaar te ag. Daarom is ek kwaad as sy beeld geverf word. Dit raak so ’n bietjie die veiligheid van my nes. Dit maak my so ’n bietjie onseker oor hoe ek ’n toekoms bou saam met mense wat nie die waarde van sy geslag verstaan en ken nie. Gaan kyk maar hoe leer die Chinese die geskiedenis van ons land deur die besoeke aan die Voortrekkermonument. Hulle snap ’n belangrike beginsel: As ons met hierdie land wil besigheid doen, moet ons sy geskiedenis verstaan.

Geloof, geskiedenis en integriteit lê nie in beelde nie, maar dié beelde laat ons onthou van manne en vroue van geloof; dit skerp ons historiese bewussyn op en leer ons van integriteit.

En nou is Oom Paul se beeld groen geverf en almal, selfs mense uit die buiteland, neem foto’s en praat daaroor. Die wonderlike is dat baie nou weer vra, dat baie skielik weer onthou:  Wie was Oom Paul Kruger.

As dit die wêreld dus laat onthou, verf Oom Paul dan maar groen. Ons aanbid nie die beeld nie, ons eer wel wie hy was, ons dien die God wat hy gedien het, ons neem uit die verlede wat goed was en bou daarop ’n toekoms.

Ek kan verstaan sy waardes maak ander groen van jaloesie.

Meer oor die skrywer: Hannes Noëth

Hannes Noëth is die uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand. Hy is ook die skrywer van die boek Depressie: Struikelblok of uitdaging? en skryf dikwels rubrieke vir verskeie publikasies.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Gina ·

Dink net as die EFF groen geverf is hoe gaan hul lyk, OOM PAUL se geskiedenis kan hul nie weg vat nie al maak hul die hemel ook rooi. Dit sal in ons geskiedenis bly

Hein ·

Hannes, aan die een kant stem ek saam, maar verkeerd bly verkeerd. Daarom sal ek bly sê: LOS ONS STANDBEELDE UIT! DIe probleem is dat hierdie gespuis glad ‘n gewete het wanneer dit kom by hulle weergawe van die geskiedenis nie; die weergawes wat hulle voorhou is ver van die werklikheid verwyder en hulle knip nie ‘n oog oor hierdie leuns nie.

Ampie ·

Die argument dat beelde kan skuif of val want die geskiedenis verander nie, is ‘n mantra wat nou oor en oor deur Afrikaners herhaal word. Ek vermoed dis omdat hulle geen planne of reaksie op die afbreek aksies het nie. Wel, hier is ‘n nuusflits: die geskiedenis word gedurig verander. Die gekke van UCT en hul rooi pet maatjies is elke dag besig om die geskiedenis te verander. Dit lyk my hulle slaag daarin. Rhodes, Paul Kruger en ander is nou simbole van die “koloniale apartheidsgeskiedenis”, wat dit ook al mag beteken. Ons moet liewers verwyder voor dit “aanstoot” gee! Gaan lees bietjie jou kinders se skool geskiedenisboeke. Alles “struggle heroes”, apartheid die misdaad, mandela, gandhi ens. Nee, Hannes, die geskiedenis word geskryf deur die bewindhebbers en wat jy nou hoor word binne 6 maande as feit aanvaar. Gaan lees ook 1984 van George Orwell om te sien hoe sulke mense die waarheid verdraai tot jy die leuen glo. Onthou jy nog die “wonderwerk” van 1994?

Hannes ·

Dankie Ampie vir opmerking – juis daarom dat ek my kinders in privaatskool het waar ek insig in kurrikullum kan he en juis daarom dat ek dink elke volk moet maar moeite doen om hul eie geskiedenis te bewaar en oor te dra. Dankie vir jou verdere gedagtes

Chris ·

Kom oom verklaar die kwessie van die beskadiging van ons standbeelde, asook die plaasmoord-kwessie vir julle. Dis so eenvoudig soos dit: Indien ‘n kind ‘n baie lelike ding aanvang en sy ouers straf hom op geen manier nie, dra die kind se gedrag eintlik die ouer se goedkeuring weg. Dis hoekom die ANC hom nog nie uitgespreek het teenoor die beskadiging van ons standbeelde nie. Dieselfde geld vir plaasmoorde. Want dit dra hul goedkeuring weg. Ek is jammer om dit te sê, maar ons “fight a losing battle” Amen

Chris ·

Ek wil graag nog ‘n strydpunt verklaar. Die EFF -leier het al by geleentheid gesê dat Suid-Afrika hul land is, want hulle was eerste hier. Kom ek help weer: Vroeg in die 16de eeu het die swart bevolking vanaf die Groot Mere in Afrika getrek tot in Suider-Afrika in die Oos-Kaap. Daar het hulle met die San gebots en hulle uitgemoor en die oorblywendes na die deel verjaag wat ons vandag as Namibië ken. So, indien enige bevolkingsgroep op Suid-Afrika wil aanspraak maak, is dit die San (Boesmans) Hulle kry ek vandag intens jammer, want jy kry hulle nog net in reservate.

Martha ·

Nog in interessante brokkie nuus wat ek van Oom Paul geleer het (in my kinders se geskiedenisboeke), het by Golela op die grens van Swaziland plaasgevind. Die wildtuin wat daar geleë is, het Oom Paul blykbaar geproklameer om die Swazi’s en Zoeloes uit mekaar te hou omdat hulle so baie baklei het. Ja, as ‘n mens regtig die geskiedenis ken het jy respek vir mense wat ons land probeer lei het. Hulle het ook maar foute gemaak en leer ‘n mens daaruit en so het hulle ook baie suksesse gehad waarvoor ek hulle baie dankbaar is. My pa het vir die “apartheidsregering” gewerk en ons het baie swaargekry omdat die salaris so min was. My pa was ‘n padmaker in Namibië en vandag is ek trots op hom as ek op daai paaie ry en weet hier is my pa se sweet en harde werk. Ons moet aanbeweeg en nie vasklou aan die verlede nie, want die ou wat bly omkyk kan nie voortentoe beweeg nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.