Verhoudingspanning ná Desembervakansie

Argieffoto

Desembermaand kan goed óf sleg wees vir jou verhouding, maar hoe gemaak as dit sleg gaan op dié front?

Paula Quinsee, ʼn verhoudingskenner, skrywer van die boek Embracing Conflict en konsultant op die TV-program Married at First Sight SA, sê druk weens finansies en families wat saam met die feesseisoen kom, veroorsaak stres in verhoudings.

“Verhoudings is ʼn konstante uitdaging. Maak nie saak wie jy is nie, jy én jou wederhelfte moet moeite doen om die verhouding te laat werk; om albei persone in die verhouding betrokke, geïnteresseerd en gelukkig te hou. ʼn Gebrek aan kommunikasie tydens die feesseisoen kan die laaste strooi wees.

“Statistieke toon dat Januarie die besigste maand vir egskeidingprokureurs is omdat paartjies dit dikwels nie regkry om goed te kommunikeer en te koördineer nie en dan tou opgooi,” het Quinsee gesê.

Quinsee meen dat albei partye in ʼn verhouding ewe verantwoordelik is om die verhouding gesond te hou. “Mense raak vasgevang in hul eie besige lewens, werkstres en familiedruk, en dit veroorsaak dat baie paartjies uitmekaar dryf. Meeste paartjies soek dan hulp wanneer daar reeds amper te veel skade gedoen is.”

Quinsee stel voor dat paartjies sáám doelwitte of Nuwejaarsvoornemens opstel vir die jaar wat kom en waaraan hulle saam kan werk. “Net soos wat jy jou motor vir ʼn jaarlikse diens neem, moet jy ook dieselfde met jou verhouding doen,” het sy gesê.

“Paartjie-doelwitte is ʼn nuttige manier om te kommunikeer en duidelik te maak wat elke persoon uit die verhouding wil hê, en ʼn goeie manier om seker te maak julle is op dieselfde bladsy vir die jaar wat voorlê.”

Dit is wel moontlik vir paartjies om vasgevang te voel aan die begin van ʼn nuwe jaar, met ʼn verhouding wat op die punt van verbrokkeling is en geen duidelike idee het oor hoe om voort te gaan nie. “In so ʼn geval is dit die beste om hulp van buite te kry. Dit hoef nie noodwendig berading te wees nie, maar ook iets soos ʼn persoonlike groei- program wat ʼn paartjie saam kan doen,” het sy gesê.

Quinsee bied twee werksessies per jaar aan. Daarin fokus sy daarop om mans en vroue te help om hul volle potensiaal te bereik, en om sodoende hulle verhoudings met hulself, hul wederhelftes en hul kollegas te verbeter.

Vir meer inligting oor Quinsee en haar werksessies besoek http://www.paulaquinsee.com/.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Rooikop ·

Ek reken as jou verhouding/huwelik ‘n konstante uitdaging is dan is jy nie by die regte persoon nie en/of die respek het verdwyn.

Daar is genoeg ander dinge om in die lewe te baklei dat mens nie nodig het om met jou vrou te baklei nie.

Ek is baie dankbaar vir my wederhelfte. Regtig die gemaklikste verhouding waarin ek ooit was en dit stap nou al aan vir 20 jaar.

poplap ·

Ek stem met jou saam Rooikop. Ek en my manlief het geen uitdaaging en het geen moeite om mekaar gelukkig te hou nie. Ons is gelukkig saam. En ons het geen groot fights ooit gehad nie. Ja ons snap partykeer vir mekaar. Did natuurlik, maar ons respekteer mekaar en praat dit soos groot mense uit. Ons is gemaklik met mekaar en ons vul mekaar aan. En ons deel die stress met mekaar. My manlief is nie net my partner nie maar my hele lewe en my siels genoot. En hy voel dieselfde oor my. Ons deel alles met mekaar. Tot die kleinste iets wat met ons duer die dag gebeur…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.