Verkoop jou trourok, sê kenners

Foto: Pixabay/Pexels

Foto: Pixabay/Pexels

Sedert die wêreldwye resessie in 2009 het meer as net alledaagse luukshede in die slag gebly. Vandag, anders as ʼn dekade gelede, is dit ʼn algemene tendens vir bruide om ná hul troudag hul rok vir ʼn tweede keer by die kansel af te stuur deur die rok aanlyn te verkoop – en dit dikwels vir ʼn appel en ʼn ei.

Tracy DiNunzio, die stigter van die aanlyn winkel Tradesy, sê vóór die vierde wêreldwye resessie in 2009 was dit “skokkend en ongewens” om met ʼn tweedehandse trourok na die kansel te stap.

Sy meen egter die dae is lank verby waar bruide derduisende rande aan hul trourokke bestee en vir jare daarna in ʼn stowwerige kas laat hang het.

“Dit is grootliks die gevolg van die ekonomiese toestand waarin die hele wêreld vasgevang is,” verduidelik sy. “Niemand het meer geld om buitensporige pryse aan rokke te betaal nie, en wanneer hulle dit wel doen, verkoop hulle dit bloot weer ná die troue.”

Sy sê ook jonger mense, die sogenaamde millennium-geslag, sal in die toekoms baie makliker afskeid neem van iets soos ʼn trourok omdat hulle geneig is om minder sentimenteel te wees.

“Baie jong vroue is nie meer so gebonde aan materiële dinge soos vorige geslagte nie. Dit is vir hulle maklik om die rok te verkoop, omdat hulle die geld dikwels elders aanwend wat betrekking het tot die verhouding: ʼn wittebrood, ʼn nuwe bed en selfs om die egpaar te help om aanvanklik net kop bo water te hou. Die geld is vir hulle meer werd as om die trourok te hou.”

DiNunzio sê bruide moet egter nie verwag dat hul rokke soos soetkoek gaan verkoop nie – behalwe natuurlik as die rok ontwerp is deur ʼn gewilde en bekende ontwerper.

Dalia Rhodes, ʼn vrou van die Amerikaanse deelstaat Texas, het haar trourok só verkoop. Sy vertel egter dat dié rok vier maande op ʼn webwerf gelys gebly het.

“Nie almal wil ʼn gebruikte rok hê nie, so dit is dikwels moeilik om ʼn koper te kry, want die persoon moet dieselfde smaak en styl as die verkoper hê,” verduidelik sy.

Dié rok is egter gekoop – deur Heidi Cundari van Kanada. Cundari meen sy het die rok gekoop om koste op haar groot dag te probeer besnoei.

“Dit het vir my na verkwisting gelyk om duisende dollars aan ʼn rok te bestee wat ek vir ʼn enkele dag gaan dra,” sê sy.

DiNunzio sê dié geval is maar een van duisende omdat “moderne bruide” geneig is om hul begrotings beter te bestuur en gemaklik voel met aanlyn inkope.

“As daar iets is waaraan toekomstige bruide en die sogenaamde millennium-geslag wel kan klou, is dit onder meer die sluier en die band van die rok omdat hul kinders dit dalk sal dra. Maar die rokke word verkoop, want die bruide kort geld, en dit is ʼn verskynsel wat ons net al meer gaan sien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Voorlaaier ·

Moet glad nie eers een koop nie!!….Ek hoor in Brakpan trou die bruid sommer in i wit sweetpak…

magda ·

Ek wil graag my rok verkoop maar niemand stel belang nie. Epos asb indien jy belangstel

Alicia ·

Ek het my trourok gehuur. Baie goedkoper en geen las na die tyd nie.

SK ·

Ek het my ouma, my ma en my trourok. My ma gaan vir my ‘n “quilt” maak met die drie rokke se material. Ek is nogals sentimenteel!

Loeis ·

“Niemand het meer geld om buitensporige pryse aan rokke te betala nie”

Bogenoemde sin is feitelik verkeerd. Die skrywer het geen idee hoeveel sommige mense spandeer nie!

Marietjie ·

Ek het my rok self gemaak en dit is vir my lyf gemaak. Dit het ook nie ‘n arm en been gekos nie. Dit is belaglik om derduisende rande vir ‘n rok te betaal en dra hom net een keer. My rok was in teendeel goedkoper as my man se klere wat hy gaan koop het. En ja ek het satyn en kant gebruik op my rok.

Help Ander ·

Ek het net gevoel dit is baie onregverdig om my rok te verkoop. Daar is soveel mense daar buite wat nie so rok kan bekostig nie. Daarom het ek myne verniet weg gegee en die dame het vir my fotos gestuur van waar sy hom aangehad het op haar troudag en die ooreenkoms was dat sy hom dan weer sal skenk aan iemand anders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.