Verlore pienk teddie wil huis toe gaan

Die helderpienk beertjie is nou moeg vakansie gehou, en wil terug huis toe (Foto: Facebook)

Die helderpienk beertjie is nou moeg vakansie gehou, en wil terug huis toe (Foto: Facebook)

ʼn Helderpienk teddiebeer het onlangs vir 13 dae lank op ʼn genotvolle avontuur saam met Nederlandse toeriste in die Krugerwildtuin gereis nadat hulle op dié beertjie in hul huurmotor afgekom het.

Die beer is egter nou moeg vakansie gehou en wil terug huis toe gaan, sê Hylke Walters, die Nederlandse toeris.

Walters het in ʼn Facebook-inskrywing gesê sy en haar lewensmaat het op dié pienk teddiebeer tussen die twee agterste sitplekke van die huurmotor afgekom. Volgens haar was die beertjie byna onsigbaar tussen die twee sitplekke en die eienaars het dit vermoedelik om dié rede in die motor agtergelaat.

“Toe ons jonk was, het ons almal ʼn teddiebeer gehad. Almal kan dus verstaan hoe sleg dit is as jy as kind jou teddiebeer verloor,” skryf sy.

Die helderpienk beertjie is nou moeg vakansie gehou, en wil terug huis toe (Foto: Facebook)

Die helderpienk beertjie is nou moeg vakansie gehou, en wil terug huis toe (Foto: Facebook)

“Ons het toe besluit om die teddiebeer die beste vakansie denkbaar te gee en hom dan daarna met sy eienaar te herenig. Ek kan net aanneem dat daar iewers ʼn klein dogtertjie huil oor haar beertjie.”

Die paar het intussen ook ʼn video gemaak waar die pienk teddie kwansuis oor sy vakansie praat en dan die hulp van sosialemediagebruikers vra om hom weer tuis te kry.

Walters se inskrywing is wyd op sosiale media gedeel. Lees die volledige inskrywing hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Lucy ·

Die beertjie hou lekkerder vakansie as ek! Hoop hy word spoedig met sy eienaar herenig.
Wat n oulike storie- hou ons asb op hoogte Maroela.

Francie ·

Mooi so. Ek hoop die kindjie en beertjie is nou al herenig. Herinner my aan einde verlede jaar toe ‘n dogtertjie ook nadat sy haar Jack Russel, Bello oral in Bloemfontein gesoek het – ja, sy het reaksie gekry, die nuwe eienaar het laat weet hulle is nou lief vir haar en sy kan maar ophou soek .
Sies !!!..

sunet ·

My seuntjie het ook n teddy wat orals saam gaan. Malie die hondjie. Ekt doodseker gemaak ekt fotos van die teddie want dit sal groot moles wees as malie weg moet raak. Nou in groo skool moet ons Malie weg steek onder skool boeke. So ek hoop uit my hart uit die dogtertjie vond haar maatjie terug.

Lee ·

My kind se hondjie het al by Midas oorgeslaap en ‘n dag spandeer by Honda, maar gelukkig het ons hom elke keer opgespoor.

Pieter ·

Die huurmotormaatskappy het kontakbesonderhede van alle kliënte wat hierdie betrokke motor gehuur het. Moontlik kan dit help om die dogtertjie op te spoor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.