Vermy dié 10 goed op jou CV

student-werkende-jongmens

Foto: StartupStockPhotos/Pixabay.com

Volgens die Britse dagblad The Independent kry werkgewers vir ʼn enkele pos minstens 100 CV’s. Werkgewers soek dikwels ʼn spesifieke kandidaat vir die werk wat geadverteer word, en verwag dat daardie kwaliteite onmiddellik in jou CV weerspieël word. Mense maak egter dikwels groot flaters met hul CV’s wat veroorsaak dat werkgewers oorweldig voel met te veel inligting of dat jou CV nie professioneel voorkom nie.

Om te verseker dat jou CV professioneel en aansoek-gereed is, vermy dié tien goed:

  1. Jou vorige of huidige salaris

Om jou salaris in jou CV in te sluit is ʼn groot flater. Maatskappye het verskillende strukture waarvolgens hulle salarisvoorbereiding doen. Indien jy te laag mik, doen jy jouself in, en indien jy te veel eis, word jy onmiddellik verwerp. Dit is beter om tydens die onderhoud oor dié besonderhede te praat.

  1. Moenie ontoepaslike werkservaring insluit nie

Jou CV moet die werkgewer onmiddellik oortuig dat jy in staat is om die werk te doen wat geadverteer word. Dit is onnodig en oorbodig om werkservaring in te sluit wat niks te doen het met die pos wat geadverteer word nie.

  1. Moenie jou stokperdjies insluit nie

Werkgewers wil nie in jou CV lees wat jy in jou vrye tyd doen of wat jou gunstelingtydverdrywe is nie. Dié inligting kan dikwels oorgedra word tydens die onderhoud, maar is nie professioneel om in jou CV in te sluit nie.

  1. Moenie leuens vertel nie

Almal laat hulself bietjie beter lyk op hul CV. Navorsing het getoon dat meer as 96% van alle ondernemings agtergrondkontrole doen wanneer hulle ʼn CV ontvang het. Jou geloofwaardigheid sal onmiddellik daarmee heen wees indien die werkgewer sou uitvind dat jy nie die waarheid praat nie.

  1. Moenie ʼn boek skryf nie

CV’s wat langer as drie bladsye is verveel werkgewers gewoonlik en verminder jou kanse om genooi te word vir ʼn onderhoud. Probeer om jou CV tussen twee en drie bladsye te hou. Werkgewers sal vra vir bykomende inligting indien hulle dit benodig.

  1. Moenie persoonlike voornaamwoorde gebruik nie

Jou CV moenie woorde soos “ek” bevat nie. Skryf jou CV eerder in die derdepersoon. Die werkgewer verstaan dat jy aansoek doen vir die werk, en die gebruik van die eerste persoon laat dit minder professioneel voorkom.

  1. Moenie eienaardige e-posadresse gebruik nie

Baie mense skep eienaardige e-posadresse omdat hulle naam en van dikwels nie meer beskikbaar is as e-posadresse nie. Dit lyk egter onprofessioneel wanneer jy aansoek doen met ʼn e-pos-adres met verkleiningswoorde of eienaardige name soos byvoorbeeld [email protected].

  1. Skakels na jou sosialenetwerk-blaaie

Dit is in die meeste gevalle onnodig dat jy skakels na jou sosialenetwerk-blaaie insluit, tensy dit deel sal wees van die pos waarvoor jy aansoek doen. Werkgewers wil nie persoonlike foto’s saam met die familie sien waar almal met ʼn drankie buite op die stoep sit nie. Jou CV moet bewys dat jy die beste kandidaat is vir die spesifieke posisie. Jy moet dus verseker dat jou CV daardie kwaliteite ten toon stel.

  1. Vreemde lettertipes en -groottes

Party lettertipes lyk meer professioneel as ander. Mense probeer dikwels om hul CV’s beter te laat lyk met oulike lettertipes, maar navorsing het bewys dat die werkgewer minder inligting inneem en dat dit moeiliker is om te lees. Gebruik eerder ʼn kleiner lettergrootte soos ʼn 11 punt-grootte en ʼn sterk lettertipe soos Arial of Times New Roman.

  1. Moenie verduidelik hoekom jy jou vorige werk verlaat het nie

Mense dink gewoonlik as hulle verduidelik hoekom hulle weg is by hulle vorige werk, dat hulle kanse verhoog om genooi te word vir ʼn onderhoud. Jou CV is egter nie die regte forum om hiervoor te gebruik nie. Jy kan dit eerder in jou onderhoud noem.

Die bekende oud-Suid-Afrikaner Elon Musk, uitvoerende hoof van SpaceX en Tesla Motors, se CV is ʼn bewys dat niemand eintlik meer as een bladsy moet gebruik nie. Klik hier om sy CV te sien.

Bronne: LinkedIn, The Undercover Recruiter,  The Independent.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Fred ·

Toe ek aansoek gedoen het vir my eerste professionele pos (in IT) het my CV verwys na ‘n werk in boerdery en deeltydse onderwys. My destydse baas het, na ek daar begin het, genoem dat dit hulle aandag getrek het. Ontoepaslike werk (en stokperdjies) vertel m.i. tog meer van ‘n aansoeker, bv. dat hy nie bang is vir harde werk nie, dat hy kreatief is, wye belangstelling en agtergrondkennis het, lateraal dink, ens.

Magda ·

Met punt 2 en 3 verskil ek wel. As ek iemand se CV deurwerk gee hul stokperdjies juis vir my ‘n idee watter tipe mens dit is bv: rotsklim: hou van adrenalien, boeklees: belese en miskien stil, fietsry: sportief ens. Vorige werkservaring gee ook ‘n idee of die persoon ‘n wyer uitkyk en ervaring van die lewe het as net die huidige werk. Sal hy in die kultuur inpas van die werk ens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.