Vermy die dokter met dié boererate

Johan Jansen van Vuuren (Projekbeampte, FAK), Prof. Herholdt en dr. Joyce Schoeman. Foto: Verskaf

Johan Jansen van Vuuren (Projekbeampte, FAK), Prof. Herholdt en dr. Joyce Schoeman. Foto: Verskaf

Volksgeneeskunde, bekend as boererate, is ’n groot deel van Afrikaner-erfenis, het die FAK (Federasie vir Afrikaanse Kultuurvereniginge) vandeesweek by ʼn seminaar by die Voortrekkermonument in Pretoria gesê. Die seminaar is gehou om te gesels oor ou én nuwe boererate en die belangrikheid van dié erfenis.

“Ons ouers het geglo jy moet eers jouself dokter met ’n paar kruie voordat jy dokter toe gaan. Dit is tyd om weer hierdie stukkie erfenis te laat herleef. Vriende van die FAK het by dié geleentheid meer geleer oor volksgeneeskunde in die 21ste eeu,” het Johan Jansen van Vuuren, projekbeampte van die FAK, gesê.

Prof. Marius Herholdt, hoof uitvoerende beampte van die Vereniging van Ondersteunende Beraders en Holistiese praktisyns (ASCHP) en die Raad van Beraders en dr. Joyce Schoeman, algemene bestuurder van Die Instituut van Gesondheidswetenskappe, het by die geleentheid gesels oor hedendaagse boererate.

Volgens prof. Herholdt is volksgeneeskunde holisties. “Ons moet een wees met die natuur, aangesien dit ons 30 000 plantspesies bied, waarvan 3 000 medisinaal is en 350 algemeen gebruik word.”

Hier is van die oulikste boererate wat uitgedeel is:

Skurwe hande
As jou hande bietjie liefde en aandag nodig het, kan jy twee eetlepels olyfolie met twee eetlepels suiker meng. Vryf dié konkoksie in sirkelvormige bewegings aan jou hande en voor jy weet, is daardie skurwe hande weer sag.

Onkruiddoder
Skoon wit asyn speel klaar met onwelkome onkruid. Gooi dit sommer so reguit op die onkruid, sonder enige versagtende omstandighede. Die onkruid sal blitsig verdwyn.

Oorpyn
Die boereraat help om pyn wat veroorsaak word deur oorinfeksie, te verminder. Verhit een teelepel gerasperde knoffel en twee eetlepels sesamsaadolie. Koel die olie af en filter voor gebruik.

Sout en Peper
Sout en peper gemeng maak ’n wonderlike oplossing vir sensitiewe tande. Dis anti-inflammatories, antibakteries en het analgetiese eienskappe.

Seerkeel
Sout se primêre funksie is om water uit te trek. Dit krimp die geswelde sel en verlig die meegaande pyn. Neem een koppie water en’n halwe teelepel sout. Verhit die water, maar moet dit nie kook nie. Gorrel gereeld deur die loop van die dag.

Bloeding en meegaande pyn
Swart peper stop bloeding Dit vat die pynlike sensasie van ’n oop sny weg.

Lees dié ou liedjie oor boererate:

Koekmakranka,

goed vir kranke,

vleibrand, voëlfisant,

uitskop van Anjie de Waal,

jou ouma se boererate

is jou enigste dokter!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

neelsie ·

Vervang die swartpeper met rooipeper.
Rooipeper is een van die wonderkruie.

Charlotte Wilson ·

Rooipeper is baie goed vir ‘n “strep” keel. gorrel 1 teeleper rooipeper in 1/2 kop lou water. Baie sleg maar werk!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.