Vermy die pyn van vastetermynkontrakte

kontrak

Foto: Unsplash/Pixabay.com

Verbruikers lewe nou al ʼn paar jaar met vastetermynkontrakte saam, maar dit lyk nie asof verbruikers en die maatskappye met wie hulle die kontrakte sluit dit heeltemal regkry om die kontrakte korrek te hanteer nie. Maatskappye weier bloot om hierdie soort kontrakte te kanselleer en verbruikers weet dikwels nie waarvoor hulle hulself inlaat of hoe om hul regte daaroor te laat geld nie. Ina Opperman verduidelik wat jou regte in verband met vastermynkontrakte is in terme van die Wet op Verbruikersbeskerming.

Vastetermynkontrakte is kontrakte wat vir ʼn sekere tyd geld en is gewoonlik van toepassing op dienste soos selfoonrekeninge, veiligheidsdienste, satellietopsporingsdienste en gimnasiums. Artikel 14 and regulasie 5 van die Wet bepaal hoe lank die tydperk van die kontrak mag wees en hoe mens dit kan kanselleer.

Hoe lank kan die termyn van ʼn vastetermynkontrak wees?

Volgens regulasie 5 van die Wet mag vastetermynkontrakte nie vir ʼn tydperk langer as 24 maande gesluit word nie, tensy jy instem tot ʼn langer tydperk en die verskaffer kan bewys dat dit tot jou finansiële voordeel sal wees. Die diensverskaffer moet jou aandag daarop vestig dat ʼn kansellasiefooi gehef sal word indien jy kanselleer voordat die kontrak verval.

Kan mens ʼn vastetermynkontrak kanselleer?

Artikel 14 van die Wet bepaal dat jy ʼn vastetermynkontrak kan kanselleer wanneer dit verval en dat die diensverskaffer nie ʼn fooi daarvoor mag hef nie, behalwe die laaste bedrag wat jy skuld. Die diensverskaffer moet jou 40 tot 80 werkdae voor die kontrak verval, op skrif laat weet dat jou kontrak ten einde loop en aandui of die huidige prys gaan verander indien jy die kontrak hernu. Jy kan met die kontrak voortgaan op ʼn maand-tot-maand grondslag, onderhewig aan belangrike veranderinge soos prys.

Jy kan ʼn vastetermynkontrak voor die vervaldatum kanselleer, maar dit kan jou geld kos. Volgens die Wet kan jy die diensverskaffer 20 dae kennis gee op skrif dat jy die kontrak wil kanselleer. Die diensverskaffer kan dan ʼn kansellasiefooi hef vir goedere of dienste wat verskaf is tot op die kansellasiedatum. Die diensverskaffer moet jou ook terugbetaal as jy reeds betaal het vir goedere en dienste wat jy nog nie gebruik het nie.

Afkoelperiode

As jy ʼn vastetermynkontrak gesluit het nadat iemand jou gebel en die kontrak aangebied het, sonder dat jy nie eers self gebel het om navraag te doen nie, het jy volgens die Wet se bepaling oor direkte bemarking ʼn afkoelperiode van vyf dae om dit op skrif te kanselleer sonder om enigiets te betaal.

Hoeveel moet mens betaal om te kanselleer?

Die Wet bepaal die diensverskaffer moet die kansellasiefooi bereken op die bedrag wat jy nog skuld, die waarde van die transaksie tot op die datum van die kansellasie, die waarde van die goedere wat jy gekry het, of jy die goedere teruggee, hoeveel maande van die kontrak nog oor is, die voordele en nadele vir jou, die aard van die goedere of dienste, die lengte van die kennistydperk, die moontlikheid om iemand anders te kry om binne die kennistyd die kontrak oor te neem en die algemene praktyk in die betrokke bedryf.

Die diensverskaffer mag dus nie vereis dat jy die volle bedrag vir die maande wat nog oor is, betaal nie. Dit is ook verbode vir die diensverskaffer om ʼn kansellasiefooi te hef wat dit vir jou onmoontlik sal maak om te kanselleer.

Kan die diensverskaffer die kontrak kanselleer?

Diensverskaffers kanselleer gewoonlik vastetermynkontrakte wanneer jy nie jou deel van die kontrak, soos om maandeliks te betaal, nakom nie. Die diensverskaffer moet jou in kennis stel indien die kontrak gekanselleer gaan word en mag dit dan binne twintig dae kanselleer indien jy nie die uitstaande bedrag betaal of ander voorwaardes van die kontrak nakom nie.

Wat van die fynskrif?

Die Wet verbied enige fynskrif in kontrakte, wat die voorwaardes vir kansellasie insluit, sowel as onbillike kontrakvoorwaardes, soos dat jy jou regte in terme van die Wet prysgee.

Wanneer is hierdie Wet nie van toepassing nie?

Hierdie artikel in die Wet is nie van toepassing op ooreenkomste tussen maatskappye, tussen individue en banke en konsessies nie en vastetermynbeleggings is ook uitgesluit.

Waar kla mens oor vastermynkontrakte?

Kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantore vir verbruikersake oor diensverskaffers wat die bepalings van die Wet op Verbruikersbeskerming verontagsaam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.