Versameling seldsame boeke, dokumente op veiling

Emily Brontë se handgeskrewe gedigte is binnekort op veiling beskikbaar. (Foto: Instagram/Sotheby’s)

ʼn “Verlore biblioteek” in die Britse letterkunde wat seldsame, handgeskrewe gedigte deur Emily Brontë en werke deur Robert Burns insluit, word binnekort by Sotheby’s op ʼn veiling te koop aangebied.

Die inhoud van die Honresfield-biblioteek, wat vir bykans 100 jaar uit die openbare oog was, kom op drie afsonderlike veilings onder die hamer.

Brontë se gedigte sal na verwagting tussen £800 000 en £1,2 miljoen (sowat R25 miljoen) haal. ʼn Eerste weergawe van haar bekende roman Wuthering Heights kan tussen £200 000 en £300 000 haal.

ʼn Geannoteerde Brontë-familie-eksemplaar van Bewick’s History of British Birds, waarna verwys word in die eerste paar bladsye van Jane Eyre deur Emily se suster, Charlotte, kan vir tussen £30 000 en £50 000 verkoop word.

In haar leeftyd het Emily Brontë min erkenning as skrywer gekry. Sy het haar posisie as skrywer nietemin gevestig met die hartstogtelike liefdesverhaal Wuthering Heights wat sy in 1847 geskryf voordat sy later daardie jaar aan tuberkulose dood is.

Die publiek sal die geleentheid hê om hoogtepunte in die biblioteek in uitstallings in Londen, Edinburg en New York te sien.

Die nuwe seldsame stukke “maak ʼn venster oop op die kort maar ongelooflike lewens” van die Yorkshire-sibbe, volgens Sotheby’s.

Die biblioteek sluit ook in ʼn versameling gedigte, aantekeninge, persoonlike briewe en gedagtes deur die Skotse digter Robert Burns, toe hy ʼn onbekende 24-jarige was.

Dié versameling is in 1879 ook deur Sotheby’s van die hand gesit – toe vir £10.

‘Unieke prentjie’

Die biblioteek is oorspronklik saamgestel deur meuleienaars Alfred en William Law van Rochdale, wat grootgeword het sowat 30 km vanaf Haworth in Yorkshire waar die Brontës gewoon het.

Die broers het albei gewoon in Honresfield House naby Rochdale, wat vir William gebou is in 1879.

“Die versameling in geheel wys op die diepgang in die literêre belangstelling van Alfred en William Law en skep ʼn unieke prentjie van die passies van een van die grootste en welbekende versamelaarsfamilies in ʼn goue era van boekversameling,” het dr. Gabriel Heaton, spesialis in historiese manuskripte en Engelse letterkunde by Sotheby’s gesê.

Ná Alfred en William se dood het ʼn neef, ook genaamd Alfred Law, die totale boedel geërf, insluitend die biblioteek. Die biblioteek het uit die oog verdwyn toe die jonger Alfred in 1939 dood is.

“Toe die biblioteek uit die openbare oog verdwyn het in die 1930’s, het baie aangeneem dat dit weggeraak het, en om nou ʼn rol te speel om dit na ʼn groter gehoor te bring is werklik ʼn hoogtepunt in my loopbaan,” sê Heaton.

Die versameling van meer as 500 items sal later vanjaar en volgende jaar op drie afsonderlike veilings te koop aangebied word.

Ander werke in die Honresfield-biblioteek sluit in:

  • Eerste uitgawes van Jane Austen-romans, insluitend Emma, Northanger Abbey, Persuasion en Pride and Prejudice.
  • ʼn Eksemplaar van Don Quixote wat in 1620 gedruk is vir Shakespeare-uitgewer Edward Blounte.
  • ʼn Geannoteerde eksemplaar van Alfred Lord Tennyson se gedigte waarin sy veranderinge aangebring is.
  • ʼn Volledige manuskrip vir sir Walter Scott se 19de-eeuse roman Rob Roy.
  • Briewe na en van skrywers soos Elizabeth Gaskell, Hartley Coleridge (seun van digter Samuel Taylor Coleridge) en George Smith – uitgewer van The Bells, wat Brontës se skuilnaam was.
  • Werke deur Homeros, Ovidius, die Grimm-broers, Montaigne, Ann Radcliffe, Horace Walpole, Charles Dickens en Mary Wollstonecraft.

Bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anel ·

Ja, nê. Ons sou wst wou gee om sulke geskiedenisstukke te hê. Maar in die land mag niks kosbaars mos wees nie. Die geskiedenis begin mos in 1994!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.