Verwoerd, Tsafendas en die mooi sielkundige

Demetrio-Tsafendas

Demetrio Tsafendas (regs) het dr. Hendrik Verwoerd 53 jaar gelede vermoor. Foto: Pinterest.com

Deur Pierre Massyn

Toe ek daardie dag in 1978 in my gehawende ligbruin Datsun SSS met sy Bloemfonteinse registrasienommer deur die vroegoggendverkeer vleg op pad na TV-nuus se hoofkantoor in Aucklandpark, tref die groot vet letters in rooi spuitverf my soos ’n voorhamer.

Tsafendas we need you now! skree die graffiti op die sementmuur langs Empireweg net voor die aansluiting by Jan Smuts-laan. PW Botha, gevreesde minister van verdediging wat sy vinger vir die wêreld gewys het, het so pas (28 September 1978) die eerste minister van Suid-Afrika geword.

Dimitri Tsafendas het op 6 September 1966 die eerste minister Hendrik French Verwoerd in die parlement doodgesteek. PW Botha was daardie dag teenwoordig (as minister van Kleurlingsake) en nou wens die anonieme Johannesburger Die Groot Krokodil dieselfde lot toe…

Daar was altyd vrae omtrent die parlementêre bode wat die sogenaamde “argitek van apartheid” vier keer gesteek het voordat Springboksenter en kabinetsminister Frank Waring hom van die bloeiende staatshoof afgesleep het.

Hendrik Verwoerd se aktetas met uiters sensitiewe en hoogs geheime dokumente verdwyn spoorloos, onmiddellik net nadat hy doodgesteek is.

Wie was hierdie immigrant, die seun van ’n Griekse pa en ’n Mosambiekse ma eintlik? ’n Latere ondersoek wys Tsafendas, ’n Portugese burger, het in tien verskillende lande gewerk en was reeds sewe maande as bode in die parlement werksaam. Verwoerd se opvolger, John Vorster, ontken ten sterkste dat daar enige sameswering in sy voorganger se sluipmoord ter sprake was.

Maar vingers word gewys na die destydse minister van binnelandse sake, senator Jan de Klerk – die pa van aartshervormer FW de Klerk met wie ek die eerste TV-onderhoud gevoer het.

Hoe kon De Klerk senior-hulle ’n verblyfpermit aan Tsafendas uitreik? Hoe kon hy boonop ’n werk in die land se hoogste gesag kry?

Dis vandag bekend dat Hendrik Verwoerd aan die vooraand van Suid-Afrika se eerste pogings tot détente in die middel sestigerjare en te midde van toenemende isolasie, uitgereik het na hoofman Leabua Jonathan van Basotholand (Lesotho). John Vorster, toe minister van justisie, deel die nuus van hierdie inisiatief aan sy medegeïnterneerde Ossewa Brandwag-kameraad op Koffiefontein, Lang Hendrik van den Bergh.

Volgens Vorster sou Verwoerd ’n tienpuntaksieplan aan die parlement onthul. Van den Bergh is omgekrap.

“Maar dis mos twak!” laat verstaan hy sy vriend en vertroueling. Verwoerd het oënskynlik ’n hartsverandering ondergaan, met gepaardgaande nuwe visie vir Suid-Afrika. Van den Bergh, ’n topoffisier in die veiligheidstak, was een van die magtigste en mees sinistere mense in Suid-Afrika en het glo gespog: “Niks gebeur in Afrika sonder dat ek daarvan weet nie.”

En nou is Verwoerd vermoor, en dit deur ’n bode-immigrant wat kwansuis nie al sy varkies op hok het nie… Maar Vorster wil weet: “As hierdie Tsafendas kranksinnig is, hoe het hy werk in die parlement gekry?”

En John Vorster volg Hendrik Verwoerd op en beveel blitssnel aan dat Van den Bergh tot generaal-majoor bevorder word; op die koop toe word hy inspekteur-generaal van die polisie. PW Botha word minister van verdediging en ek dek sy toesprake in die laat 1970’s.

Van den Bergh skryf in sy dagboek waar hy rekord gehou het van bepaalde afgestorwenes se sterwensgegewens:

6 September 1966 Hendrik Verwoerd R1 Sluipmoord

Regter Andries Beyers gee opdrag dat “die baster-Griek onbepaald tot gas van die staatspresident verklaar word.” Lang Hendrik gryp egter in, volgens die skrywer Alan D. Elsdon (sien bronverwysing) en sien toe dat Tsafendas as ’n politieke gevangene geklassifiseer word – die eerste keer in Suid-Afrika se geskiedenis dat so iets gebeur. In plaas daarvan om in ’n sielkundige inrigting opgeneem te word, word Tsafendas ná ’n tydperk van vier maande op Robbeneiland na die sentrale gevangenis in Pretoria gestuur – in die berugte C Max om presies te wees. Hier, waar die ligte nooit afgeskakel word nie, slyt hy sy dae sielswroegend en handewringend in ’n spesiale sel tussen die ter dood veroordeeldes.

∞ ∞ ∞

pierre-massyn-lorinda-bergh

Dr Lorinda Bergh, die kliniese sielkundige wat Dimitri Tsafendas ge-evalueer het, in Afrika se suidelikste sportmuseum wat behoort aan die skrywer van ‘Springbok-Rugby Vasvra’. Foto: Verskaf.

Sy sit voor my in Afrika se suidelikste sportmuseum. Aanvallig en skerpsinnig. Dr. Lorinda Bergh is ’n kliniese sielkundige en dra nog steeds die rang van brigadier in Korrektiewe Dienste.

Dié ma van twee het vir jare lank in die Pretoria Sentraal-gevangenis gewerk.

“My eerste kantoor was ’n hanetreetjie van die valdeur waarop Daisy de Melker[1] gestaan het voor hy oopgeklap het en sy gehang is”, vertel dié produk van die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria. Terwyl sy soms in C Max gewerk het, het sy Tsafendas dikwels gesien waar hy óf verwese in sy dodesel gesit het, óf uitdrukkingloos voor hom uitgestaar het.

In 1988 – tien jaar ná die onbekende Johannesburgse graffitikunstenaar se boodskap my pad gekruis het – gee die kommissaris van Korrektiewe Dienste haar opdrag om Tsafendas sielkundig op kamera vir die kabinet te evalueer.

“C Max was ’n ontstellende plek. Gevonnistes weet sewe dae voor die tyd presies wanneer die doodsuur vir hulle gaan aanbreek. Die woord ‘vrees’ beskryf nie hul emosies behoorlik nie. Dis angswekkend. Hulle gaan ’n hartsverskeurende toestand van “beswyming” binne. Hulle huil kermend en dan begin daar ’n ritmiese dreunsang van al die gevangenes – dag en nag deur die gevangenis – totdat die persone gehang is. Hulle het tot sewe mense op een slag gehang.

“Jy stap verby twee rye enkelselle met 52 steentrappies op tot by die galgkamer. Die gevangenes sing hortend ‘Nader my God by U’ wat tot ’n crescendo styg tot op die oomblik wanneer die galgtou styfruk,” onthul ’n oudbewaardervriend van C Max wat nie wil hê ek moet sy naam bekend maak nie.

Wat was Tsafendas se motief toe hy Hendrik Verwoerd doodgesteek het, wil ek weet.

“As ’n sielkundige kan ek jou nou sê sy gedrag en houding was aanduidend van ’n onderliggende psigotiese toestand. So ’n persoon lewe in ’n wêreld van sy eie en kan nie die realiteit van sy eie droombestaan onderskei nie. Die persoon kan hallusineer of delusies hê. Hy verstaan nie die onderskeid tussen reg en verkeerd nie of kan nie daarvolgens handel nie. In Tsafendas se geval was hy waarskynlik nie toerekeningsvatbaar nie.”

Maar volgens tallose Suid-Afrikaners moes Tsafendas gehang het – hy was immers ’n oortuigde kommunis.

“Jy moet onthou die hof het sy besluit op grond van psigiatriese en sielkundige verslae geneem, al het die regime se hofstelsel in daardie dae nie geskroom om mense tereg te stel nie!” vertel Lorinda.

En was sy nie ongemaklik tydens die onderhoud met Tsafendas nie?

“Nee, Pierre! Tsafendas was vriendelik, skoon, kalm en hoflik. Hy het ’n groen uniform en pantoffels gedra. Ek het nooit bedreig gevoel nie. Dis in skrille teenstelling met Dieter Gerhardt[2] met wie ek ook kontak in die gevangenis gehad het. Hy was kil en berekenend. Daar het tydens my onderhoud met hom ’n kakkerlak oor die vloer geskarrel wat Gerhardt sonder emosie onder sy voet vermorsel het met die woorde: ‘Dís wat ek met mense doen wat in my pad staan.’ Ek het yskoud geword.”

En die veelbesproke lintwurm?

“Ja, die sogenaamde lintwurm! Dis wat sielkundig die deurslag gegee het in Tsafendas se evaluering. Hy het altyd volhard dat ’n lintwurm hom vertel het hy moet Verwoed doodmaak. Maar mediese ondersoeke het vasgestel hy het ’n nooit so ’n wurm gehad nie.”

Sy verwerp sonder meer die teorie dat Tsafendas ’n instrument in ’n samesweringsteorie was om dr. Verwoerd te elimineer. Maar was Tsafendas dan ’n anti-apartheidsheld?

“Nee, inteendeel, hy was ’n baie alleen en eensame persoon tot en met sy dood. Tot sy eie familie het hom verwerp. As hy dan so ’n held was, hoekom het die vryheidsvegters hom nooit besoek of iets aan sy lot probeer doen nie?”[3]

Nadat die video gesien is, besluit die kabinet dat Tsafendas na die Sterkfontein-inrigting vir sielsiekes gestuur moet word. Hy is op 7 Oktober 1999 oorlede, 33 jaar ná die moord wat Suid-Afrika geskud het.

Die video-opname wat dr. Bergh van Tsafendas gemaak het, het verdwyn. Sy het dit nooit gesien nie. En die grootste en tergendste geheim van alles: Verwoerd se vermiste aktetas. Alan D. Elsdon beweer in Die lang generaal dat die leeraktetas wat glo die inskripsie “HF Verwoerd” sou dra, op die RAU-eiland[4] in die Vaalrivier begrawe was. Die inhoud daarvan is egter tot vandag toe nie geopenbaar nie.

  • Pierre Massyn is ’n oud-TV-joernalis, skrywer en navorser.

Bykomende bron:

Die lang generaal, deur Alan D. Elsdon.

Voetnota’s:

[1] Daisy de Melker was die tweede vrou wat in Suid-Afrika gehang is (op 30 Desember 1932) nadat sy aan moord skuldig bevind is. Sy het na bewering haar twee mans vergiftig ten einde hul versekeringspolisse vir haarself te kon toe-eien, maar is gevonnis vir die moord op haar seun, Rhodes Cecil Cowle.

[2] Dieter Gerhardt was ’n kommandoor in die Suid-Afrikaanse Vloot wat geheime inligting – veral oor die skeepswerf op Simonstad, waar die skrywer in 1972 militêre diensplig gedoen het) – aan Rusland verkoop het. Toe dr. Bergh hom geëvalueer het, was hy besig om ’n lewenslange vonnis vir hoogverraad uit te dien.

[3] Die skrywer se eie bronne dui aan dat dr. Bergh reg is: daar was beswaarlik tien mense by die moordenaar se begrafnis.

[4] Die Randse Afrikaanse Universiteit, nou die Universiteit van Johannesburg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Andreas ·

Dit kon soveel anders gewees het, en kyk waar sit ons nou vandag!

Anoniem ·

Die waarheid sal wel eendag uitkom. Die verkeerde man was vermoor.

Dorothy ·

Pierre ek vind hierdie skrywe van jou baie interessant. Wil jy ook nie ‘n skrywe doen oor Prof Johan Heyns as Moderator van die NG Kerk wat vermoor is in 1994. Die saak is nog nie opgelos nie. Waar is die moordenaar en wat sou die motief gewees het? Dit bly ‘n raaisel.

OWO ·

@Dorothy.As jy ooit die boek die Lang Generaal in die hande kry,sal jy sien dat ‘n hele paar moorde daarin behandel word,oa die van Prof Johan Heyns.Die boek het my geboei en kon hom nie neersit nie.

Felix ·

Lees mens ander geskrifte oor daardie tydperk en aanloop na gebeure, sit mens nou met meer vrae as antwoorde.

Stephan de S ·

Mens sou glo dat die geheime dokumente wat in Dr Verwoerd se tas sou wees,afskrifte sou hê wat in geheime staatsleêrs gebêre is……..dit is hoe dit altyd gedoen word. Geen persoon is alleeneienaar van staatsdokumente .

Gwen ·

Die Lang Generaal deur Allan Elsdon, soos hier aangedui as ’n bykomende bron is ’n fiksiewerk gebaseer op feite.

Linda ·

RAU eiland in the Vaalrivier? En die woorde RAU TEM was op die kombuismuur van Robert Smit se muur geverf tydens sy en sy vrou se moord in Springs? Sal daar nie ‘n verband wees nie?

Kobus N ·

Probeer die boek getiteld “Volksverraad” geskryf deur Prof Pretorius bekom. Dit gee die hele agtergrond van die moord. Die boek is ongelukkig vandag nog verban in Suid Afrika.

Natan ·

Dr Verwoerd se moord op 6 9 1966. Die getalle wys duidelik dat dit magiese betekenis het en meer hier agter sit. Dr Verwoerd se moord het die politieke koers verander om mag oor te gee.

Dorothy ·

Dankie OWO en Gwen. Ek gaan beslis kyk of ek die boek in die hande kry.

Nel ·

@Kobus N
Hoe verban kan die boek wees? Ek sit hier met een in my hand wat ek in ‘n boekwinkel in Namibia gekoop het. Ek moet sê dis ‘n uiters omvattende boek en lees soos ‘n riller. Volgens die boek geskryf deur die oud Nasionale Intelligensiediens lid, Adv PJ Pretorius, was Verwoerd se dood die breinkind van die buitelandse Geldmag en die Vrymesselary met bekende Suid Afrikaanse rolspelers as medepligtiges.

Geronimo ·

Die naam David Pratt lui ‘n klokkie – hoe skakel dit in by hierdie storie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.