Video: Almal dol oor dié 4-jarige wat ‘net wil braai’

SW Kleinhans (Foto: ‘n Skermskoot uit die video)

Die vierjarige SW Kleinhans van Jeffreysbaai in die Oos-Kaap hou hom nie op met kryte, legkaarte en ʼn speelterrein soos die ander jong kinders in sy kleuterskoolklas nie. Dié bulletjie het een passie: braai.

ʼn Video van die jong SW wat passievol huil omdat hy nié kan braai nie, steel die harte van talle op sosiale media.

Lerina, SW se ma, het Vrydag aan Maroela Media vertel braai bring in dié stadium van sy lewe vir hom die grootste genot.

“Braai is al ʼn tradisie in ons huis. Sy pa en oupa braai elke liewe Saterdag,” vertel sy. “Wanneer ons braai, gee ons vir hom ʼn klein braaier om die vleis verder te braai sodat hy ook kan voel asof hy deel aan die pret.”

Haar man het enkele oomblikke voordat dié video geneem is sommer op ʼn weeksaand vir aandete gebraai, maar dié keer nie vir SW ook ʼn klein braaier gegee nie. “Dit was ʼn Dinsdagaand en my man was sommer net lus om vinnig iets vir aandete te braai. Omdat dit sommer vinnig gegaan het, het ons nie dié keer weer ʼn paar kole gevat om vir hom ook ʼn kans te gee om te braai nie. Dit het hom baie ontstel en hy het skoon in trane uitgebars.”

Sy sê die klein SW is oor “niks anders” só passievol nie. “Ons het nóg nie agtergekom dat enigiets anders hom so na aan die hart lê soos braai nie. Of liewer, niks het hom nog só laat huil soos wanneer hy nie kan braai nie.”

Lerina kon darem daarin slaag om hom met ʼn worsbroodjie te troos. “Die worsbroodjie is nie die eerste opsie nie, maar as ek genoeg tamatiesous daarby sit, sal hy dalk so lekker eet dat hy skoon van die braaiery vergeet,” terg sy.

Die video is al meer as 10 000 keer op Facebook gekyk. Sosialemediagebruikers landwyd het intussen verskeie uitnodigings aan SW gerig om saam te braai.

#SlatDiePad Maar ek wil NOU BRAAI ;-(

#SlatDiePad Maar ek wil NOU BRAAI ;-( Kan jy dalk vir Ruben Delmage help om hierdie outjie op te spoor??

Posted by GROOTfm 90.5 on Wednesday, December 6, 2017

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Janine ·

Ag, liefie-kind. Jy kan maar saam die tannie kom braai. ;)

Annapatat ·

Gee daai kind ‘n braai tang hy wil NOU braai.
Te dierbaar!!

Meraai ·

Te dierbaar – kan enige tyd saam ons ook kom braai,As jy eendag Johannesburg toe kom na die Wesrand Krugersdorp nooi Agamis Elisium Wesrand bikers club jou uit om asb vir ons ook te kom braai.

Jankees ·

Ougat. My pelle hier in die USA noem dit ook nou braai. Hul goed geleer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.