[Video] Eerste sonkragvlug om die wêreld voltooi

Die Solar Impulse 2 wat die vlug om die aarde met sonkragenergie voltooi het (Foto: Solar Impulse)

Die Solar Impulse 2 wat die vlug om die aarde met sonkragenergie voltooi het (Foto: Solar Impulse)

Die Solar Impulse 2, ʼn sonkragaangedrewe vliegtuig, het Dinsdagoggend die eerste reis om die wêreld, waarin slegs sonkragenergie gebruik is, voltooi.

Dié vliegtuig, waarvan die ontwerp in 2002 begin is, kan in die lug bly vir bykans 36 uur sonder om herlaai te word.

Solar Impulse 1, die eerste vliegtuig wat vir die projek gebou is, se eerste toetsvlug het in 2009 plaasgevind, waarna die vlieëniers, Andre Borschberg en sy medevlieënier Bertrand Piccard, in 2010 ʼn 26 uur lange vlug afgelê het.

Suksesvolle vlugte tussen Switserland en Spanje is ook al met dié vliegtuig afgelê.

Die tweede vliegtuig wat vir die projek gebou is, die Solar Impulse 2, het meer sonbatterye en kragtiger motors, en is in 2014 voltooi. Die Solar Impulse 2 se vlerke, wat wyer is as dié van ʼn Boeing 747, is toegerus met 17 000 sonkragselle wat die skroewe aandryf en batterye herlaai.

Borschberg en Piccard het op 9 Maart 2015 die reis om die wêreld met dié sonkragaangedrewe vliegtuig uit Abu Dhabi onderneem.

Die Solar Impulse 2 se batterye het egter in Julie 2015 tydens ʼn vlug van Japan na Hawaii skade opgedoen, en hulle kon eers weer die reis in April vanjaar hervat. Die reis het net langer as ʼn jaar geneem.

Die vlieëniers het ook dié projek, sowel as die 40 000 km reis om die wêreld, gebruik om met die plaaslike gemeenskappe te gesels en die projek te verduidelik wanneer hulle in die onderskeie stede aangedoen het.

“[Ons voel] verskeie emosies, trane, ongeloof en opwinding met die voltooiing van die eerste sonkragaangedrewe vlug rondom die wêreld,” het Piccard op hul webwerf geskryf.

Piccard het die laaste been van die vlug, ʼn 48 uur lange vlug tussen Kaïro in Egipte en Abu Dhabi, voltooi.

“Dit is net nog ʼn bewys dat ‘skoon’ tegnologie werklik die onmoontlike kan bereik,” het Piccard bygevoeg.

Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, Ban Ki-moon, het intussen die twee vlieëniers ook gelukgewens met die mylpaal. “Julle eindig dalk nou die reis, maar die reis na ʼn volhoubare wêreld begin nou eers. Julle help ons voorberei vir die toekoms,” het hy gesê.

Mike Scott, ʼn vryskutskrywer vir Forbes, het ook in die tydskrif gesê dié mylpaal is ʼn bewys dat ‘skoon’ tegnologie ʼn wêreld van moontlikhede bied. “As ons om die wêreld kan vlieg deur net gebruik te maak van sonenergie en die optimalisering om energie doeltreffend te gebruik, is die potensiaal vir die gebruik van ‘skoon’ tegnologie in ander vorme groot.”

Die vlieëniers beplan glo verdere projekte vir Solar Impulse.

Volg die avonture op YouTube.

Volg die avonture op die webwerf.

Piccard land in Abu Dhabi:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wern ·

Hier is die bewys hoe kragtig moderne sonenergietegnologie al is, maar dan kom Eskom en beweer dat hulle net om steenkool en uraan verder moet fokus, want zupi en kie soek miljarde in bribegeld vir die ou tegnologie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.