[Video] ‘Ouma, ek wil ʼn nar word!’

Ollie die nar

Foto: Skermskoot uit die video

“Toe ek 17 was, het ek en ʼn vriend op ʼn dag sirkus toe gegaan. Ek sien toe twee narre wat op ʼn eenwiel-fiets ry wat maak asof hulle afval. Daar was dromme en musiek – ek was so opgewonde! Toe ek by die huis kom, het ek na my ouma toe gegaan en vir haar gesê: ‘Ouma, ek wil ʼn nar word!’”

Pieter Vorster, of beter bekend as Ollie die Nar, is vanjaar reeds 20 jaar in die vermaaklikheidsbedryf. “Ek het reeds op ʼn jong ouderdom daarvan gehou om mense te vermaak.”

Sy ouma het eers nie gedink dis ʼn goeie idee vir hom om dié droom na te streef nie, want sy wou nie hê hy moes blootgestel word aan dié wêreld nie. “Die volgende dag het my ouma na my toe gekom en gesê dis reg, ek kan maar ʼn nar word. Sy het selfs die naam, Ollie, vir my gekies.”

Pieter sê hy moes homself toertjies leer en het gereeld biblioteekboeke bestudeer. “My eerste vertoning was by ʼn kleuterskool – dit was baie suksesvol. Na daardie vertoning het ek geweet dis wat ek wil doen.”

Vir Pieter is dié beroep al tweede natuur, maar hy meen dit is nie maanskyn en rose nie. “Dis soms moeilik om ʼn nar te wees, want nie almal hou van narre nie. Mense kyk rillers wat narre heeltemal verkeerd uitbeeld – dit maak my hart seer want dit is nie hoe ʼn nar is nie. Ons bring vreugde, nie vrees nie.”

Die lekkerste deel van sy werk, meen Pieter, is as mense, veral kinders, sy vertonings geniet. “Dis so lekker as hulle uit hul mae lag. Die kommentaar wat mens na so ʼn vertoning kry is ook lekker!”

Pieter sê hy was nog altyd ʼn groot dromer en daarom is hy besig met groot projekte. Besoek gerus Ollie die Nar se Facebook-blad vir meer besonderhede.

Kyk na die video om te sien hoe Ollie die nar in Pieter verander.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.