[Video] Romanza se nuwe ridder

Romanza

Sean Tucker. Foto: Skermskoot uit die video

Daar was ʼn tyd toe ʼn mens ʼn ridder agter elke bos kon uitskop. ʼn Dame het skaars voor ʼn plas water in die pad te staan gekom of ʼn galante heer het reeds sy baadjie oor die poeletjie neergelê; maar die tye het verander. Moderne vroue het waterdigte skoene en ridders op wit perde is bloot net onprakties. Dit beteken egter nie dat die skoner geslag nie steeds na só ʼn man hunker nie.

Dít is waarom Lapa-Uitgewers ʼn nuwe ridder wou vind. ʼn Moderne ridder met ʼn hart van goud, maagspiere van staal en wat enige vrou kan laat swymel met sy voorkoms sowel as sy persoonlikheid.

Lapa het die publiek genooi om mans wat aan hierdie beskrywing voldoen, as die Romanza-ridder te benoem. Mans kon hulleself ook benoem.

Die keuse het op Sean Tucker geval as Romanza-ridder.

Sean is benoem deur Mariska Leibbrandt, ’n vriendin van Sean se ma. Mariska is ʼn kranige Romanza-leser.

Lapa het haar gevra waarom sy Sean benoem het en haar antwoord was: “Want ek dink enige vrou sal hom op ʼn voorblad wil sien en die boek koop.”

Hoe voel hý oor al die aandag? Sean meen dit is ʼn eer om gekies te word. Hy sê egter dit gaan vir hom oor meer as die feit dat hy ʼn gesig op boeke gaan wees. Vir hom is die konsep van ʼn “cover boy” ook direk gekoppel aan die uitbou van die handelsmerk.

Waar kom so ʼn jong man aan soveel wysheid? Sean lag toe ons hom die vraag vra en noem toe dat hy as ʼn eiendomsmakelaar baie met mense moet werk. Sy baas het ook vir hom geleer hoe om mense te laat glo in die produk wat hy verkoop.

Wanneer Sean nie passievol bemark aan sy eiendomme nie, doen hy klank by troues vir ’n ekstra inkomste. Tog, as hy eerlik moet wees, is Sean op sy gelukkigste in ʼn tentjie langs die viswater. Daar, in die natuur, vind hy homself en herlaai hy sy batterye om weer die korporatiewe wêreld in die oë te kyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.