Video: Só werk ‘microblading’

Nicolene gebruik die mikro-lemmetjie om voller wenkbroue te skep (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Wenkbroue is tans hoogmode en daar is deesdae ʼn klompie verskillende maniere waarop jy jou wenkbroue kan versorg, kleur en vorm gee.

Die proses wat bekendstaan as “microblading” waartydens ʼn mikro-lem gebruik word, is een daarvan, maar anders as ander stileringmetodes vir jou wenkbroue is dié opsie meer permanent.

Die prosedure kan sorg vir netjiese, goed gevormde wenkbroue vir agt maande tot twee jaar.

Nicolene Birkenstock, ʼn grimeerkunstenaar wat spesialiseer in wenkbroue, het aan Maroela Media gesê die proses is pynliker as om bloot jou wenkbroue te laat kleur, aangesien ʼn lemmetjie in jou vel in sny, maar dat dit ook nie ondraaglik is nie.

“Party mense sê dit is glad nie vir hulle seer nie, en ander sê weer dit is wel seer en moet vir ʼn blaaskans vra. Dan wag ons maar net ʼn tydjie en gaan weer aan. Ek moedig maar net altyd mense aan om na hul happy place te gaan, want dan is dit sommer vinnig verby,” het sy gesê.

Birkenstock het aan Maroela Media die verskillende stappe in die “microblading”-proses verduidelik:

Stap 1

Verdowingsroom word op die wenkbroue gesmeer en dan word kleefplastiek daaroor geplak sodat dit nie uitdroog nie en warm kan raak. Dit bly vir sowat 30 tot 40 minute op die wenkbroue.

Stap 2

Die buitelyne van die wenkbroue word eers met ʼn potlood en dan met ʼn pen getrek deur die skoonheidsterapeut. Sy kommunikeer met die kliënt oor hoe hoog en lank sy die wenkbroue wil maak. Sy neem ook mates om te sien wat die gewenste vorm van die wenkbrou sal wees.

Stap 3

Die skoonheidsterapeut en kliënt kyk na die buitelyne wat getrek is, en die kliënt kan veranderings aanvra. Die proses gaan voort totdat die gewenste vorm bereik is.

Stap 4

ʼn Kleur word gekies vir die wenkbroue. Die skoonheidsterapeut smeer verskillende kleure ink op die kliënt se voorkop sodat hulle kan sien hoe dit op haar vel aard en ook hoe dit by hul haarkleur pas. Wanneer die kliënt ʼn kleur gekies het, word die mikro-lemmetjie uitgehaal.

Stap 5

Die buitelyn van die wenkbroue word nou met ʼn klein mikro-lemmetjie, wat in ink gedoop word, getrek wat in die vel in sny. Twee verskillende soorte lokale verdowingsalf word aangesmeer om die vel op die oppervlakte en dieper te verdoof. Dit help ook om enige bloeding te beheer.

Nicolene Birkenstock (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Stap 6

Die binnekant van die wenkbroue word nou gevul. Dit word gedoen deur weer die lemmetjie met ink op te gebruik om ʼn klomp klein snytjies te maak om die rigting en vorm van die hare in wenkbroue te mimiek. Lokale verdowingsalf word weer aangewend en ink word aangesmeer. Die ink trek só in die mikro-snytjies op die oogbank in, wat dit ʼn meer permanente opsie maak.

Hierdie proses van sny, verdowingsalf aanwend en ink aansmeer, word vir ʼn paar keer herhaal tot die skoonheidsterapeut gelukkig is met hoe dit wenkbroue lyk.

Stap 7

Die oorskot ink word af gevee, en jy is gereed om te gaan! Birkenstock stel voor jy gaan vir ʼn opknapping ses weke nadat jy die eerste prosedure gedoen het en daarna hoef jy slegs een maal per jaar terug te gaan om die wenkbroue “vars” te hou.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
HL

Sjoe, dit lyk vir my heeltemal te seer!

Andrea

Ek hou verby. Klink na pyn.

Marietta

Dis glad nie seer nie, my kolega het myne gedoen en ekt tydens die proses aan die slaap geraak omrede die verdowings rome wat sy gebruik baie beter is as die gewone Emla roompie wat mense by apteke kry..

Vienna

‘No pain no gain’ ?
Glad nie so seer as wat dit lyk nie
Die verdowingsroom help
Die ‘end results’ is fantasties, beslis die
moeite werd !

Boeboe

It’s painful to be beautiful! Mens kan dalk mooier lyk deur dit te laat doen, meer afgerond. Maar ek weet darem nie – nie almal lyk natuurlik nie! Mens kan by sommige vrouens op ñ myl sien dat hul gemicroblade is, selfs op televisie. En ek wil ook nie eintlik soos ñ pop lyk nie…