[Video] Tannie Lenie vier 104de verjaarsdag

Lenie van Heerden het vandeesweek 104 jaar oud geword. Foto: Burger Meyer

Lenie van Heerden het vandeesweek 104 jaar oud geword. Foto: Burger Meyer

Die viering van ʼn verjaarsdag is gewoonlik ʼn spesiale affêre, ʼn geleentheid waar iemand se geboortedag en lewe gevier word. Mense bak koek, draai geskenke sorgvuldig toe en koop vars blomme om die dag nog vroliker te maak. Met mylpaal-verjaardae is die vieringe soms nog groter omdat die dag ekstra spesiaal is. Lenie van Heerden het gister só ʼn mylpaal gehaal.

Lenie is op 18 Augustus 1911 gebore en woon tans in Residentia Hermon in Pretoria-Noord. Dis hier waar sy haar 104de verjaarsdag gevier het. Met ʼn kamer vol besoekers, blomme, kaartjies en eetgoed, is daar omtrent partytjie gehou.

Hoewel Lenie in ʼn opgeruimde bui was, sê sy dat nie maklik is om so oud te word nie.  “Al jou maats is al weg, jou kinders is byna almal weg. Maar wat kan ʼn mens nou doen? Jy moet maar tevrede wees met die lot wat die Here vir jou bepaal.”

Terwyl Lenie aan ʼn bordjie eetgoed kou, glimlag sy vriendelik vir haar gaste. Die verpleegsters het ook kom koek eet en dié het sommer vir haar gesing ook. Met soveel gebeurtenisse die afgelope 100 jaar, moes Lenie sekerlik baie beleef het, maar haar geheue is nie meer so goed nie. “Ek raak partykeer so bietjie deurmekaar.”

Lenie sê sy is die ma van ses kinders, waarvan vier oorlede is. Sy is ook ouma van altesaam 23 klein- en agterkleinkinders.

Lenie se dogter, Elsie Tonkin, kry trane in haar oë as sy oor haar ma praat. Sy beskryf haar as ʼn sagte mens wat altyd daar is vir haar kinders. “Wanneer ons van die skool af gekom het, was sy daar. En daar was altyd iets lekkers om te eet ook. Sy het goed na ons omgesien en eintlik haarself tekort gedoen om vir ons alles te gee.”

Elsie sê haar ma kon vreeslik mooi voordra en dat sy graag wou gaan studeer het, maar omstandighede het dit net nie toegelaat het nie. “Sy het altyd voordrag-kompetisies gewen en sy onthou selfs nog resitasies van haar skooldae af.”

Dis juis daarom dat sy haar drie oudste kinders aangemoedig het om te gaan studeer. Volgens Elsie het haar ma ook baie opofferings gemaak daarvoor. “Sy’t gesê hulle moet gaan studeer sodat hulle nie ook hoef te sukkel nie.”

Elsie lag lekker as sy vertel hoe haar ma hulle beskerm het. “My pa was kwaai gewees en sy’t altyd gekeer as hy ons wil slaan. Sy het maar net die vadoek gebruik om ons te piets, maar sy’t eintlik nooit erg geraas nie.”

En die belangrikste les wat sy by haar ma geleer het? “Sy het ons van die Here geleer. Sy het ons altyd Sondagskool toe gestuur en elke aand vir ons uit die Bybel gelees en gebid. Ek dink dis wat ons saam met ons kan dra.”

Met ʼn laaste geselsie oor raad vir jongmense, beaam Lenie haar dogter se woorde; “Jongmense moet die regte paadjie loop. Hulle moenie hier en daar afdraai nie, hulle moet hul oë gevestig hou op die Here.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Juanita Langley ·

Hierdie is my Ouma – my Ma se Ma. My Ma is een van haar ses kinders wat reeds oorlede is. Ouma Lenie is die beste Ouma ooit. Haar 13 kleinkinders het vir jare – ons was al reeds volwassenes – elke jaar met ons verjaarsdag n koevertjie met n kaartjie en n geldjie van haar ontvang. Sy het ons met oorgawe lief en ons vir haar. Haar talent om te hekel was iets om te waardeer. Meeste van ons het n hekel lappie of twee wat te kosbaar vir woorde is. Elke jaar wat sy ouer word en vir ons gespaar bly is n seëning.

Amanda Wait ·

Juanita, julle is baie geseënd om so ‘n pragtige mensie in julle lewens te hê. ♥

Salomè Schoeman ·

Sjoe, wat ‘n gr00t genade en voorreg is dit nie…….!

Annatjie van Heerden ·

Ek wil so graag ‘n kopie van hierdie blad oor my skoonmoeder, Lenie van Heerden, 104 bekom asook so ‘n DVD of CD. Hoe gaan ek te werk om dit te bekom? Is bereid om daarvoor te betaal. Sal ongelkukkig uitstedig wees tot einde van September 2015. U spoedige antwoord sal hoogs waardeer word. Annatjie van Heerden

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.