Video: Wag eers voor jy daardie vuurwerk aansteek

Vuurwerke-en-Guy-Fawkes

Argieffoto: Learnenglishteens.britishcouncil.org

Oujaarsaand gaan jaarliks gepaard met groot feesvieringe, byeenkomste en dikwels vuurwerkvertonings.

Maar voor jy daardie vuurwerk agter in jou erf aansteek, is dit wys om jou eers te vergewis van die bestaande wetlike regulasies hieroor.

Louis van Bergen, ʼn assosiaat by Weavind & Weavind, het in ʼn onderhoud op Die GROOT Ontbyt gewaarsku dat vuurwerk nie na willekeur afgevuur mag word nie, selfs nie tydens Nuwejaarsvieringe nie. Volgens Van Bergen word die gebruik, besit en handeldryf van vuurwerkprodukte deur nasionale wetgewing én munisipale bywette gereguleer.

“Vuurwerk val onder die Wet op Plofstowwe wat eintlik maar ʼn algehele verbod op die gebruik van plofstowwe plaas, maar daar is mos maar altyd ʼn uitsondering op die reël,” verduidelik Van Bergen.

“Munisipaliteite is gemagtig om gebiede te identifiseer waar vuurwerk gebruik mag word, asook wanneer en in watter omstandighede dit gebruik mag word. Dit is dus raadsaam om jou te vergewis van die bywette van jou munisipaliteit rakende vuurwerk.”

Van Bergen sê bywette hieroor verskil van munisipaliteit tot munisipaliteit, maar gebruik as voorbeeld die bywette van die Tshwane Metro wat bepaal dat geen private gebruik van vuurwerk toegelaat word sonder die vooraf toestemming van ʼn brandweerhoofinspekteur nie.

Hendri Myburgh, een van die aanbieders van Die GROOT Ontbyt, saam met Louis van Bergen, ʼn assosiaat by Weavind & Weavind. (Skermskoot)

Dié inspekteur mag ook die gebruik van vuurwerk slegs op gepaste persele toelaat, byvoorbeeld ʼn private sportveld of ʼn kleinhoewe waar die plantegroei nie ʼn bykomende gevaar met die gebruik van vuurwerk inhou nie.

“As jy kyk na plekke soos die Tuinroete waar daar nou onlangs sulke verwoestende brande was, kan ek nie dink dat daardie munisipaliteit ooit sal toelaat dat vuurwerkprodukte daar gebruik mag word nie,” sê Van Bergen.

Hy maan die publiek dat bywette ook ʼn beperking rakende die ouderdom van die gebruiker van vuurwerk plaas. “Die nasionale wet bepaal dat geen persoon onder 16 jaar vuurwerkprodukte mag gebruik nie. Tshwane se bywette voeg daarby dat kinders van 16 of 17 jaar slegs vuurwerk onder die toesig van ʼn bevoegde persoon bo 18 jaar mag afvuur.”

Terselfdertyd bepaal die wet dat mense redelike stappe moet doen om kinders en diere teen vuurwerk te beskerm.

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) beveel troeteldiereienaars aan om sover moontlik oor Nuwejaar tuis by hul diere te bly indien daar verwag word dat vuurwerk in die gebied afgevuur gaan word. Indien dit nie moontlik is nie, moet diere binnenshuis gehou word, verkieslik in ʼn vertrek soos die kombuis waar vensters gewoonlik hoër is en diere nie daardeur sal kan spring nie. Probeer die klank van die vuurwerk demp deur die gordyne dig toe te trek en kalmerende musiek te speel.

Die NDBV beveel aan dat eienaars troeteldiere iets gee om te doen, byvoorbeeld ʼn kouding vir honde en kattekruidspeelgoed vir katte. Plaas ook jou diere se bekende besittings soos hul bed en speelgoed by hulle om vir hulle vertroosting te bied.

Verseker dat alle diere ʼn vorm van identifikasie het ingeval hulle dalk die pad vat wanneer die vuurwerk afgaan. ʼn Mikroskyfie word aanbeveel om in so ʼn geval eienaarskap van die dier te kan bewys.

Die GROOT Ontbyt word elke weeksoggend tussen 06:00 en 08:00 regstreeks uitgesaai op GROOTfm 90.5 of DStv-kanaal 144.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.