Vier tog in liefdesnaam Valentynsdag

Foto: Pixaba/Alexa

Foto: Pixabay/Alexa

Dis kort voor toemaaktyd toe ek onlangs vinnig by ʼn winkel indraf. Ek het op die ingewing van die oomblik besluit om iets soets met ʼn rooi strik te koop en nog dieselfde aand die 70 km tussen my en my ouerhuis af te lê om die gedoente daar te gaan afgee vir Valentynsdag.

Ek glip deur die halftoe deur van die winkel – dit was enkele sekondes of die man met die glurende en verwytende oë het my met dié einste deur in die helfte gekap. Dit was ʼn lang dag, en hy het nie lus vir fieterjasies nie.

Hy wou nog keer en sê ek moet liewer môre terugkom, toe is ek reeds in ʼn drafstap op pad na die rak van euwel.

Hy sal hom wat verbeel: gʼn niemand kon my nog ooit keer om die sjokoladelus te blus nie – nie vlieënde akrobate uit die sirkus nie en ook nie kwaai ooms met nors gesigte nie. In die lewe is daar baie dinge waaroor ek onkundig is, maar selfs as kleuter kon jy my blinddoek en sou dit my minder as 30 sekondes geneem het om die lekkernye op te spoor.

Maar vanaand gaan nie oor mý óf die sjokoladelus nie. My modus operandi was eenvoudig: kry ʼn boks iets, draai ʼn lint om, skryf ʼn boodskap, gryp ʼn bos blomme en daar gaat jy.

Ek kom tot stilstand voor die rak met drie harte en ʼn enkele Valentynsdagadvertensie. Langs my staan ʼn jong vrou in baie stywe jeans en ʼn hemp wat my geduld en medemenslikheid ná ʼn lang dag vergestalt: min, met die moontlikheid om enige oomblik finaal te groet. Sy staar vir die rak – haar oë beweeg van die een kant na die ander terwyl sy haar naels in ʼn helder-oranje nartjie inslaan.

“Hier’s niks,” blaf sy. Sy druk ʼn skyf nartjie in haar mond, en spoel die pit in haar mond rond voor sy hom sluk.

Ek kyk haar verdwaas aan.

“Is jy hier om iets vir Valentynsdag te koop?” vra sy weer. “Want hier is niks. Nie ʼn teddie, ʼn vals roos of ʼn ordentlike kaartjie nie. Niks.”

Sy druk nog ʼn skyf nartjie in haar mond en loop weg.

My oë soek oor die hele ry. Hier is sowaar nie ʼn enkele rooi strik of beker met ʼn simpel sêding of teddiebeer in sig nie. Ek raak histeries, swets saggies en kry ʼn vrou se aandag.

“Ek soek ʼn ding met ʼn strik, iets vir Valentynsdag,” sê ek. My oë beduie na die leë rak.

Foto: Pixaba/Alexa

Foto: Pixabay/Alexa

“Hier is nie meer veel oor nie,” verduidelik sy. “Dalk kan jy ʼn Top Deck of ʼn Lunch Bar koop. Ons het kaartjies ook, maar net die kleiner tipes, die ander is uitverkoop. Ek dink daar is nog een blik van die Valentynsdagkoekies ook, en die blomme is vorentoe geskuif omdat ons so te sê toemaak.”

Ek kyk na die blomme. Hulle lyk treurig. En hulle almal se koppe hang asof hulle iets verkeerds gedoen het en jou nie in die oë wil kyk nie.

“Uitverkoop?” vra ek, nie oortuig nie. “Dis dan nog nie eens Valentynsdag nie. Hoe is al die voorraad uitverkoop?”

Hulle koop nie meer eintlik baie voorraad aan nie, verduidelik sy. In die afgelope paar jaar was hulle Valentynsdag-verkope nie ʼn sukses nie, inteendeel, hulle het ʼn verlies gemaak.

Ek is daar weg met hartseer en moeg-vir-die-lewe blomme en ʼn simpel sjokolade wat ek ook toe maar oë na die grond in my moeder se hande gestop het.

Die volgende dag kuier ek by ʼn vriendin en vertel haar van die petalje.

Dis nie oral so nie, verduidelik sy, maar sy merk dit ook by baie plekke op. Baie winkels het begin afskaal. Hier en daar is nog ʼn winkel waar die personeel oënskynlik almal deur Cupido se liefdespyl getref is, maar by die meerderheid is dit duidelik dat iets aan die gebeur is. Daar is minder advertensies oor die draadloos, minder bonsende harte op die kassie en aansienlik minder Valentynsdaggeskenke in die winkels.

Ek raak yskoud. Dit is so, bevestig my onderbewussyn. Dit voel byna daar skort iets in die lug – ʼn tipe opgewondenheid wat met dié dag gepaardgegaan het.

Het almal te besig geraak? Het ons vergeet van Valentynsdag? Wat hou die toekoms in? Wat gaan van die wêreld word? Gee enigiemand nog om?

Dit is so dat baie mense oor Valentynsdag gekla het. Die duiwel se gedagtes het in elke advertensie gedrup en jy kon nie ʼn televisie of radio aansit sonder om gebombardeer te word nie.

Inteendeel – as jy ʼn enkellopende was, kon jy êrens in ʼn kattebak gelê het met ʼn enkele oproep om na ʼn vriend te maak om jou bevryding te verseker, maar daardie dag sou jy die ewigheid ingegaan het. Dié dag was ʼn geleentheid vir ʼn blink rok en ʼn netjiese pak en niks of niemand anders sou aandag kry nie.

Wat is hul mandaat? wou die kerk ook weet. Waarmee is hulle besig, en wat vang die Valentynsbende in die lewe van ons kinders aan?

Enkellopendes was vir weke vóór en ná emosioneel gekwes.

Foto: Pixaba/Alexa

Foto: Pixabay/Alexa

Nie meer nie. Die telefoon lui nie twee keer nie, dan tel iemand aan die ander kant van die lyn op. Restaurante is half en daar heers nie meer ʼn opgewondenheid in die lug nie. Ek het nog nie een keer ʼn beker met ʼn simpel sêding oor die liefde gesien nie. Dit het gebeur: Valentynsdag is geweeg, en te lig gevind.

Dít sal nie deug nie. Saam met dié dag het hoop gekom. Ja, almal het knaend gemoan oor die dag en sy ongelooflike oppervlakkigheid, maar êrens diep binne elkeen was daar vir ʼn enkele oomblik bietjie meer hoop – dat môre beter sal wees as vandag, dat ek in my verhouding gekoester sal wees en bly, dat liefde eg is en dat drome bewaarheid sal word.

En die wêreld kan gewis nie draai sonder hoop nie. So bring terug die bekers met die sêgoed en die soetsappige advertensies oor die radio en die oordonderende plakkate om elke hoek en draai – ons kort hoop!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Nico K ·

Dalk word daar onder die jong mense nog baie Valentynsdag gehou. En ja daar is seker die romantiese wat baie daarvan hou. Vir die res van ons, die ouer garde en ja meestal mans, is dit maar net nog ‘n dag. Ek en my vrou het toe ons getroud is besluit ons sal Valentynsdag oorslaan en liewer van ‘n dag soos ons troudag iets van maak. Want op ‘n stadium was eetplekke vol op daai dag en blomme en geskenke was ‘n plaas se geld. Miskien sal die buitensporige pryse vir blomme daal maar dalk sal Valentynsdag nie heeltemal verdwyn nie.

anna ·

n Vrou soek nie geskenke nie… Net daai ietsie spesiaal soos n briefie of blommetjie in die hare. Soos toe ons jonk was. Liefde kom nie uit winkels en boxies nie. Dit moet kom uit jou hart. Dek tafel op die mat met kerse. Dit is spesiaal. Al moet my ou man my optrek. Dankie Heer vir n goeie man.

Engel101 ·

Dit is Reeva Steenkamp wat in die onderbewussyn spook wat n demper op valentynsdag plaas.

Chris Ws ·

Net nog ‘n Mammons dag en almal val daarvoor.Nerens in enige Bybel staan jy moet Valentynsdag (satanistiese instelling) vier nie.Wel baie ander Christelike feeste maar die’ word geignoreer.

Jenny Thom ·

Chris WS – jy is heeltemal korrek.
Gaan Google asseblief waar Valentynsdag vandaan kom, en jy sal verbaas wees.
Ons ou volkie is so geneig om agter al wat skare en ding is aan te loop.
Omdat almal dit doen, volg ons slaafs met oogklappe aan na. Stel geensins belang hoekom/waarom. Geen wonder ons, Sy “uitverkore volkie”staan onder ABBA Vader se oordele nie. Ons het Hom en Sy Gebooie vergeet en Hom eenkant toe geskuif
Grootste misleiding en afgode en feeste wat gevier word.
Kersfees, nie ons Majesteit YHWH se verjaarsdag maar Nimrod, wie die toring van Badel gebou het.
Paastyd, wat het ons Redder, Heiland en Saligmaker te doene met paashasies en paaseiers? Dit is alles tov die vrugbaarheids-koningin? Sjoe mense, word wakker!!!
Ons lewe absoluut in eindtyd, daar is nie meer tyd vir hanna-hanna nie. Die ark se deur word binnekort deur Hom toegemaak.
Maar ons SY VOLK moet hul bekeer en terugdraai na Hom waar ons onder Sy beskerming veilig en behoed sal wees. Hy is totaal en al onvoorwaardelik in beheer. Hou jou oe alleen gevestig op Hom, wie ons uitverkies het. Hy is ons Elohim, ons is Sy volk!!! HalleluYaH

E.K. - ek sê net! ·

Ag liewe hemel moet mense nou ALTYD die duiwel in alles soek? Vaderland dis ‘n pret dag vir verliefdes en die wat nog lus het om die liefde te vier. Dit hoef nie ‘n plaas se prys te kos nie, mens kan net ‘n gunsteling sjokkie deel of iets kleins doen, ek pluk sommer ‘n blommetjie uit die tuin met ‘n handgemaakte kaartjie langs my man se ontbytbord of selfs ‘n mooi grassie of takkie uit die veld. Ek sien niks verkeerd daarmee en dink dis wonderlik om ‘n dag te hê om iets moois soos die liefde te vier! Niemand forseer jou om winkelgoed te koop nie nog minder om ‘n hoogsheilige te wees wat altyd iets satanies in enigiets sien. Sela

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.