Vive la France!

pierre-massyn-waterblommetjie

Pierre Massyn en se 42 voet-seiljag Waterblommetjie was die eerste seiljag in menseheugenis met ’n Afrikaanse naam en die Franse Tricolere. Foto: Verskaf.

Deur Pierre Massyn

Moskou het onlangs tonele van emosionele uitbarsting beleef soos wat selde gesien is. Daar was jubelende vreugde en emmers vol trane. En midde-in hierdie katarsis staan Frankryk. Frankryk, wat ons landjie in 1688 ’n stuk of 200 Hugenote-gesinne geskenk het wat Suid-Afrika se geskiedenis onherroeplik geraak het. Die verstommende kulturele bydraes van die Du Plessis’s, Du Toits, Bothas, Jouberts, die Retiefs en baie ander loop soos ’n goue draad deur ons geskiedenis.

En toe wen Didier Deschamps se manne die mees gesogte prys in wêreldsport: die Coupe du Monde. En meer as ’n miljard sokkeraanhangers en gewone ouens soos ek, sit vasgenael voor die kassie om te kyk hoe Les Bleus Kroasië kafloop… Deschamps word slegs die derde persoon in die geskiedenis wat dié beker beide as ’n speler en as afrigter kon wen.

Twintig jaar gelede lig hierdie baasbreier met die aanvallige vrou – Claude – die beker van suiwer goud in Parys toe sy span Brasilië 3-0 onder sy kapteinskap onder stof loop. En laat ons nie vergeet nie: dit was ’n Fransman, Jules Rimer, wat met die idee vorendag gekom het om die lande van ons planeetjie te laat meeding om ’n trofee wat jou amptelik die beste span op aarde maak. Net soos dit ’n Fransman, Baron Pierre de Coubertin was wat die vader van die moderne Olimpiese beweging was.

Ja, Frankryk. Daardie weergalose land van die Franse Rewolusie, Napoleon, La Marseillaise, Bolero, Willem die Veroweraar (wat Engeland ingeneem het by die Slag van Hastings in 1066 en gesorg het dat daar vir 400 jaar ’n Franssprekende koning op die troon in Londen sit en die beste wyn op aarde geproduseer het), en die Vreemde Legioen, gevreesde draers van die Kepi Blanc.

 Ja, Frankryk. Sonder wie daar nie ’n Amerika sou gewees het nie.

En toe die eindfluitjie blaas, ontplof Parys se Champs-Elysées en ’n miljoen opgewonde Les Bleus-aanhangers begin die grootste straatpartytjie wat die wêreld nog gesien het. Die bekendste boulevard wat ooit bestaan het, word ’n see van rooi, wit en blou en ’n uitbarsting van onkeerbare patriotiese trots.

Terug in Moskou gaan die hemele oop, maar vir Hugo Lloris en sy dapper ridders maak dit nie saak nie: die Wêreldbeker – die hele 18 karaat suiwer goud soos hy daar staan – gaan Parys toe en vir die volgende vier jaar sal hulle die kroon met trots dra.

Frankryk se leier is ’n jong, aantreklike man, sjarmant en galant, met ’n glimlag wat die vrouens laat swymel en die hardvogtigste hart sal laat smelt. Die president van Frankryk, die grootste land op aarde, in talle opsigte. Sy naam? Emmanuel Macron. Charismaties, inspirerend, sag op die oog. Aan sy sy is sy vrou, Brigitte, ’n fyn elegante blondine, sy eksonderwyseres. Macron is seker vandag die enigste staatshoof wat die beskrywing “staatsman” waardig is.

Nou staan hulle saam op die podium: Wladimir Poetin, die Russiese president vir wie Donald Trump so katvoet loop, die innemende Macron in sy kenmerkende blou pak, en Kroasië se Kolinda Grabar-Kitarović, self ’n goed geboude blondine wat haarself elke nou en dan teen die onweerstaanbare Franse leier skuur – net so sagweg en diskreet, verstaan. En dit reent soos laas met Operasie Barbarossa in 1941. En die uitgeputte spelers kom na vore om hul medaljes to ontvang (en die verloorders huil, wat mens ook kan verstaan).

Poetin, deurtrapte eks-KGB-agent wat hy is, wil niks weet van druk en soen nie, staan so half afsydig. Maar Macron en Kolinda? Aikona, elke atleet, of jy nou van Zagreb of Toulouse kom, word omhels, Macron se netjiese blou snyerspak is deurweek van Russiese reën, maar niks kan daardie glimlag van sy goed gedefinieerde gesig afwas nie. ’n Spesiale drukkie vir die Didier Deschamps, parce que à la fin de la journée, nous sommes les champions du monde…

En net die dag vantevore, op 14 Julie – in 1789 het die wêreld op daardie dag finaal verander – erken Emmanuel Macron op Bastilledag die saluut in die Champs Elysées vir die defilé, sekerlik die grootste militêre verbymars op aarde, wat elke Franse hart laat swel van trots. En laaste in die optog marsjeer die Pioniers van die Vreemde Legioen – laaste omdat hulle teen 88 pas de minute van die Arc de Triomphe, waar Franse oorwinningsroem pronk, marsjeer, en nie die gebruiklike 120 treë soos ’n gewone soldaat nie.

Te midde hiervan bied Frankryk die grootste fietsren ter wêreld aan: die manjifieke Tour de France, die grootste skouspel in sy soort wat bestaan. Dis ’n toonvenster vir Frankryk en die asembenewende argitektuur van die skilderagtige, geskiedenisdeurdrenkte ou dorpies waardeur die seningtaai trappers op hul martelpype vleg. Dit gryp jou aan soos confit de canard en ’n Sablet van die Côtes de Rhône…

Dis ’n tyd om trots Frans te wees…

  • Pierre Francois Massyn is ’n ongeneesbare frankofiel. Sy 42 voet-seiljag Waterblommetjie was die eerste seiljag in menseheugenis met ’n Afrikaanse naam en die Franse Tricolere.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Eish ·

Sjoe, wat n praatioot!
Sterk onder Franse invloed!
Vive le Francais!

Gerhard ·

Ai die Hugenote, was hulle nou weer aan ons geskenk of was hulle asielsoekers? Waarom sou hulle die wonderlike Frankryk verlaat, wonder ek. Snaaks dat hulle vandag so baie siele inneem, selfs die sportspanne lyk of hulle ingevoer is. Amerika bestaan a.g.v. Frankryk? Ek dink die Britte sal dalk iets daaroor te se he, selfs dalk die Hollanders ook. Gelukkig het die Franse demokrasie aan die wiel gesit, of meerendeels so. Hulle het dit selfs beter as die Irakese gedoen en die Koningshuis sommer self bestorm en die klomp self tereg gestel. Natuurlik is daar heelwat wat hulle met die Arabiere in gemeen het, het selfs so onglangs as die 1970’s ook kriminele se koppe afgekap. Ai ek wens net mens kan ‘n manier kry om paddaboutjie so te braai dat dit soos bees proe, aan die anderkant kan jy seker net bees braai, of skaap. Gelukkig het Frankryk ‘n president wat weet hoe om mooi te lyk op TV, anders sou daar niks gewees het om oor hom te se of skryf nie, net soos daar niks sou wees om oor Frankryk te skryf as dit nie was vir al die ingevoerde mense nie.

IK ·

Goeie vraag Gerhard. Kyk by https://www.digibron.nl/search/detail/d695d00bd4cef926e539cd4da7e44784/herroeping-van-het-edikt-van-nantes en nog ander op die internet. Ja, hulle het dus gevlug a.g.v. hulle protestantse geloof. Daar was wel ‘n keuse nl. óf hulle geloof los óf doodgemaak word. 1688 was die ‘groot’ instroming van ongeveer 150 vlugtelinge met die skepe Zuyt Beveland, Oosterlant, China, Wapen van Alkmaar en Schielant. Vóór- en na 1688 was daar ook wel aankomelinge. Teen 1752 was daar net die bejaarde kinders vd oorspronklike hugenote wat nog Frans kon praat. In 1829 was daar geen Franssprekendes in Franschhoek of die Paarl. Hulle het wel ‘n groot invloed gehad op mediese gebied, landbou en ambagte om net ‘n paar te noem. Vooraanstaandes was as voorbeeld goewerneur De Chavonnes. Die Franse taal het weinig bygedra tot Afrikaans MAAR deur ‘n groot meerderheid van ons Afrikaners vloei die FRANSE- oftewel HUGENOTE BLOED met mening in ons are!!!!
Met dank aan C. Louis Leipoldt se ‘Die Hugenote’ (Tweede druk 1942).

Hugenoot ·

En moenie vergeet nie, hy (Macron) is ook ‘n prins! (Mede-prins van Andorra.)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.