Vlieëslaners en sweet speel ʼn groot rol in die Boesmankultuur

Barbara Potgieter

Dink ʼn bietjie daaraan wanneer jy op ʼn warm dag al swetend met jou vlieëslaner agter die onwenslike aanhardloop: jy het iets gemeen met ʼn Boesmanheler, besig met die transdans.

1

Die Strandberg, die gebroke akkedisrug in Boesmanland, waar die /Xam-Boesmans laas gewoon het.

Met sy sweet en sy vlieëplak kan hy wondere  verrig. Daar is iets magies in die sweet, soos blyk uit van die Boesmanstories en -vertellinge wat in 1911 gepubliseer is deur die broer en suster WHI Bleek en LC Lloyd. ʼn Grillerige voorbeeld is die storie van die vermoorde kind se oog waarmee die bobbejane sou speel (later meer hieroor).

In ʼn artikel in The Digging Stick oor vlieëplakke in Boesmanstories en tekeninge lees ʼn mens van gebruike vir vlieëplakke en hoe dit gemaak word.

Die Boesmanheler gebruik die vlieëslaner om sy sweet mee af te vee en op ʼn sieke te sprinkel. Interessanter is dat dit een van die voorwerpe is wat in die reëndans gebruik word. (Besoek die Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad om ʼn video-opname te sien.)

So maak hulle ʼn vlieëplak of !nabbe

Die !nabbe word onder meer van die klaasneus (Macrosecelides) of selfs die Brants se fluitrot (Parotomys-Brantsii-1894 rooi data) se sterte gemaak.

Die rot (!khwi) se stert maak jy vas aan ʼn takkie van die driedoorn (Rhigozum tridhotomum). As jy Latyn kan uitspreek, probeer gerus ook die |Xam. Die teken vooraan is die een of ander klikgeluid.

Die stert maak jy eers warm sodat dit nie ontbind nie.

2

Landskloof in die Kobee noord van die Sederberg, die figuur links onder het twee vlieëplakke in sy hande en weens die verwronge ledemate is hy moontlik in ʼn trans.

Volgens die afbeelding van die regte fluitrot op die web, is die goedjies se sterte maar dun vir sweet afvee. Ook die jakkals (koro, Canis mesomelas) en die Kaapse jakkals (!gwiten,Vulpes caama) se sterte word gebruik. Teenoor die bakoorjakkals (∥wa, Otocyn megalotis) was die voriges se sterte maar lelik.

As ʼn mens mooi oplet, is daar baie Boesmantekeninge waarin die vlieëplak (!nabbe in die |Xam-taal) of in die koker op die man se rug, of in sy hand is.

Dit is nie net op tekeninge nie maar ook op gravures soos te Springbokoog naby van Vanwyksvlei, die |Xam se tuisland.

Ook op een van die dolorietrotse by Springbokoog het een van die figure ʼn vlieëplak in albei hande. Die vlieëplak in die een hand is verbind aan ʼn olifantagtige dier daarop gegraveer, genaamd sengi. Die rotse is sigafstand van die Strandbergheuwels, Agama, ʼn mistieke akkedis in die Boesmangeloof. Die plek “illustreer ʼn ondervinding van ʼn geesteswêreld wat uniek sowel as dubbelsinnig” is, aldus Janette Deacon.

Die !nabbe, die sweet en die kind se oog

In die een storie vermoor die bobbejane Mantis (|kaggen) se kind en begin met sy oog speel. Hulle gooi dit heen en weer asof dit ʼn bal is. In sy droom waarin hy hulle konfronteer, is dit belangrik om te let op die voorwerpe wat Mantis uit die sak skud voordat hy vra om saam te speel sodat hy die oog kan terugkry. Hy skud die !nabbe uit sy sak, ʼn magiese handeling. Dit  veroorsaak dat die oog vanself in die sak naby die !nabbe val. Dit gebeur nadat |Kaggen van sy sweet aan die oog afgesmeer het. Hy word aangerand, vlug, kry vere en vlieg weg. Hy val dan in die watergat en sit die oog in die water waar dit stadig weer groei om ʼn kind te vorm. Die kind is eers bang vir sy pa, en dié smeer hom met sy reuk. Nou herken die kind hom.

3

Die figuur links onder het ʼn vlieëplak in elke hand. Dit lyk of die olifantagtige dier of sengi, links, ook een van die vlieëplakke met sy slurp vashou. Die gravures is op ʼn dolorietrots by Springbokoog gemaak.

Wat sien jy in ʼn Boesmangrot?

Eienaardige verlengde en verdraaide figure in die Boesmangrotte wys byvoorbeeld hoe dit voel gedurende die transdans, moontlik onder die invloed van ʼn dwelm. Sekere diere soos die eland word ook met die transdans verbind. Die belangrikste voorwerpe is die magiese vlieëplakke in die figure se hande en pylkokers, asook ʼn sak. Die sak verskyn waarskynlik omdat dit gemaak is van die vel van ʼn magiese dier. Die grot is dan een plek waar rituele gebruik is, kan mens aflei.

Met die hulp van die Boesmanverhale soos opgeskryf in die 1911-uitgawe deur Bleek en Lloyd in die UK-biblioteek, onderhoude deur onder andere die sendeling John Campbell (1815) en veral intensiewe navorsing, kan ʼn mens dus begin om die betekenis van die rotstekeninge uit te maak.

ʼn Mens kan van die rotstekeninge gaan bekyk op Suid-Afrika se rotskunsargief (Sarada) se webwerf.

Datering van rotstekeninge en bewaring

Dit is moeilik om die presiese ouderdom van Boesmantekeninge vas te stel. ʼn Koolstoftoets van voorwerpe op dieselfde vlak kan help. Dit kan tot 44 000 jaar oud wees, soos die ontdekkings in die Blombosgrot en die Grensgrot (Border Cave) in KwaZulu-Natal impliseer. Daar is tekeninge uit die koloniale tyd met Europeërs daarop en vee van veeherders 2 000 jaar gelede. Hierdie kunswerke is ouer as Rembrandt en die hiërogliewe, en eindeloos meer waardevol. Hulle word bedreig deur son, wind en diere asook deur mense wat water daarop sit om beter te sien, stof, rook en selfs graffiti.

Wat word gedoen?

Lede van die ARCHsoc se Wes-Kaaptak (e-CRAG) spoor veral sedert 2007 vindplekke op en teken dit in detail op. Dit is in die oostelike deel van die Sederberg. Hulle meet ʼn bakkrans op, verdeel dit in seksies en nommer dit. Elke enkele tekening word volledig beskryf en afgeneem. Agterna word die inligting verwerk en op SAHRIS se databasis gelaai. Meer as 1 000 plekke is aangeteken van hoofsaaklik rotskuns, steentydperk-artefakte, ruïnes en geskiedkundige begraafplase en tienduisende foto’s.

Hulle help boere en grondeienaars om rotstekeninge op hulle eiendom veilig te hou, gidse op te lei en skryf vir hulle bestuursplanne om ons waardevolle erfenis met besoekers te kan deel.

Vir die /Xam is die snaar gebreek. Ons kan maar net help om ʼn uitgestorwe volk se kultuurskat te bewaar. Miskien doen iemand dit later vir ons.

Wat help dit om die tong agterna te klik van spyt oor ʼn verlies?

 

WAT DIE STERRE SÊ

(Boesmangedig)

(fragment)

 

die sterre vat jou hart

want die sterre is vir jou nie bietjie honger nie!

die sterre verruil jou hart vir ’n ster se hart

die sterre vat jou hart en voer jou ’n ster se hart

dan word jy nooit weer honger nie

want die sterre sê: ‘Tsau! Tsau!’

en die Boesmans sê die sterre vervloek die springbok se oë

die sterre sê: ‘Tsau!’ hulle sê: ‘Tsau! Tsau!’

hulle vloek die springbok se oë

ek het groot geword luisterend na die sterre

die sterre sê: ‘Tsau! Tsau!’

dis altyd somer wanneer jy die sterre hoor Tsau-sê
Foto’s: Duncan Miller, uit Rock Art of the Nothern Cape. Kopiereg: Die foto’s mag nie gedupliseer of afgelaai word nie, hetsy in elektroniese of drukvorm. Die foto’s mag nie gebruik word vir kommersiële doeleindes nie. Die teks mag nie verander of aangepas word nie.

Bronne

African Rock Art Digital Archive http://www.sarada.co.za/locations/public_rock_art_sites/kwazulu- natal/main_caves_i/

http://archaeology.about.com/cs/humanorigins/a/blombos.htm

Deacon, J en Foster, C. 2005. My heart stands in the Hill. Kaapstad: Struik:135

De Prada-Samper, J.M. Flywhisks in│xam Stories and Rock Art. 2016. The Digging Stick, vol 33, no 2  August: 1.

South African Archaeological society(ArchSoc) http://www.archaeologysa.co.za/

Fleming, Lucy. South Africa’s hi-tech healer. 30-03-2009: BBC News-webwerf, Johannesburg.

Van der Westhuizen, Johan. 2015. Bakkrans-natuurreservaat, Rooi Sederberg.

Krog, Antjie, 2003. “Die Sterre sê Tsau” uit Liederen van de blauwkraanvogel. Amsterdam/Den Haag: Uitgeverij Podium/Novib.

Sowetan http://www.sowetanlive.co.za/news/2016/11/21/prophet-of-doom-pastor-uses-insect-spray-to-drive-out-demons

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.