Voert! Jou lekker ding!

voert-hardloop-weg

Foto: Readytrader.com

Ludwig Visser

Nie-Afrikaanssprekendes ken nie hierdie lekker woord nie. As jy aan geen ander snedigheid kan dink wat jy iemand wil toesnou wat jou te na gekom het nie en jy eindig met “Voert!”, is dit nou dalk nie baie móói nie, maar darem baie bevredigend. Veral as daar werklik niks anders is wat jy kan doen nie.

En diegene wat jou so die harnas injaag en teen wie jy niks kan doen nie, bekruip jou mos deesdae per e-pos oor die rekenaar. Tot vervelens toe probeer hulle jou verneuk en verkul, en goed aan jou afsmeer. Tot jy later só die vieste in raak dat jy vir hulle net hierdie eenwoordjie-antwoord wil terugstuur: “Voert!”

Aan vindingrykheid om skelm te wees, is daar duidelik geen gebrek by baie mense nie. En wat ʼn mens die viesste maak, is juis dat hulle nuwe tegnieke, middele en instrumente (wat deur ’n slim mens bedink en geskep is om die lewe vir álmal te vergemaklik) deur hul vindingrykheid blitsig in ʼn bron van skelm inkomste vir hulself kan omskep.

Kyk nou maar na kredietkaarte – hoe gerieflik is dit nie! Ons het al by geleentheid uit Kaapstad tot in Etosha in Namibië gery sonder dat ek ʼn sent in my sak gehad het, want ek het geweet ek gaan oral regkom met my kredietkaart, ook by die vulstasies. ʼn Heerlike geriefie vir almal. Maar wat gebeur? Vindingryke skelms bedink maniere om jou juis déúr hierdie geriefie te besteel, deur jou kaart te kloon en al sulke tegnieke waarvan ek nie eens weet nie.

En kyk maar hoeveel keer per week kry ’n mens kennisgewings per e-pos dat jy reusebedrae geld gewen het, in kompetisies waarvan jy nog nooit eens gehóór het nie, wat nog te sê daaraan deelgeneem het. Jy moet net jou bankbesonderhede verskaf sodat die geld aan jou oorbetaal kan word. Ek het al een gekry met die “amptelike” briefhoof van die Verenigde Nasies boaan om my in te lig dat hulle vasgestel het ek is iemand wat via die internet verkul is, en die VN wil my nou vergoed daarvoor. Iewers lê daar miljoene dollars net vir my en wag. (Dan het ek altyd gewonder wáár sou die belangrike VN in die grote Amerika tog nou van hierdie vaalseun kennis geneem het, en waar het hulle gehoor van die metropool Vanrhynsdorp in Namakwaland waar hy woon?)

Of die ander een wat sê hy is ʼn prokureur wat ’n boedel behartig, en dat my naam dan nou ooreenstem met die naam van die oorledene, en op grond van wat in dié ou se testament staan, moet ek al sy sakke vol geld erf. (Raai, dan lyk Ludwig mos weer vir my nie eens náástenby soos oorlede Malcolm of Alexander se naampies nie!)

Ek kry eenkeer ’n boodskap met ʼn persoonskaartjie daarby, kompleet met ’n foto. Dis ene ambassadeur van iewers vandaan, hy staan op die lughawe by Johannesburg (daardie een wat eers Jan Smuts was) en hy het ʼn koffer vol geld wat hy aan my persoonlik moet kom aflewer – alles weer erfgeld – ek moet net amper my hand opsteek sodat hy kan sien waar ek in die land is sodat hy die koffer met die miljoene dollars kan kom aflewer.

En dan is daar nog die baie goedgunstige klomp wat gedurig geld aan my wil leen. Een het hom selfs as “sir John Taylor” bekendgestel, ’n ander een as “dr.” iemand. Ek moet net sê hoeveel en wanneer en waar, dan is die geld daar, en hul rentekoerse is net 2%.

Selfs die Inkomstediens het onlangs in die gedrang gekom. Ek kry kennis dat ’n aardige  bedraggie aan my terugbetaal word ná die vorige jaar se belastingeise, ek moet net gaan kyk in my bankrekening, en as dit nog nie daar is nie, moet ek hierdie of daardie siel bel sodat die geld in die regte rekening kan kom. Nodeloos om te sê: Alles bog.

ʼn Ander een het my ewe ʼn possie met die bank se logo daarop aangestuur, net om my te sê dat ʼn ongemagtigde iemand probeer het om in my bankrekening te krap. O, en as ek wil doodseker maak dat my geld nie gesteel word nie, moet ek net seker maak dat my besonderhede by die bank nog op datum is. Ek kan dit sommer nou en hier doen, dan sal hulle sorg dat my rykdom veilig bly.

Nodeloos om te sê, my “rykdom” (?) hét veilig by ʼn héél ander bank gebly omdat ek die boodskap geïgnoreer het.

Die jongste was die afgelope weke. ’n Ou wat hom iets soos ’n “moetie-man” noem, laat weet my ek moet net sy dagga-olie koop; dit sal alle kwale genees, van kanker tot epilepsie tot alzheimersiekte. Ongelukkig praat hy nie van ingroeitoonnaels en liddorings nie, maar ek skat dit sal seker ook onder al hierdie kwale kan val. Nou hoekom ʼn ou wat sulke rate het nog nie die Nobelprys vir geneeskunde ontvang het nie, weet ek ook nie.

Lesers wat die moeite wil doen om al hierdie aanspraakmakers en ellendes te tel, sal weet hoeveel keer die “Voert!”-boodskap al teruggestuur is.

My internet-diensverskaffer het gelukkig ʼn diens waarheen ʼn mens sulke skelmstreke kan verwys, en hulle werk dié manne se sake. As méér mense die moeite wil doen om hierdie Voert-ouens te verkla, sal ons dalk uiteindelik (hopelik!) heeltemal ontslae raak van hulle. En dan sal sulke kwaai antwoorde van ons af nie meer nodig wees nie.

Die astrantste kalant was nog die ene wat my verseker het hy bel van Microsoft af, en hulle het agtergekom my rekenaar werk ’n bietjie stadig. Ek moet net die rekenaar aanskakel, voor hom gaan sit en dan sal hulle “online technicians” my lei om die ding gou baie woema te gee. (Ek weet van een persoon wat goedertrou saamgespeel het en vir wie dit uiteindelik R3 000 gekos het wat uit sy bankrekening verdwyn het.)

Maar dis nie net die internet of die selfoondiens waar die skelms bedrywig is nie. Kyk maar hoe gaan dit met kitsbanke. ʼn Kitsbank is die lekkerste geriefie wat seker nog ooit vir ons gewone ouens geskep is, want ons kan nou oral en tydig ʼn geldjie in die hande kry as ons sakke leeg raak wanneer die bank al toe is. Maar wat gebeur nou? Jy word daar beloer met kloners en apparate sodat die skelms jou kitsbanknommer in die hande kan kry, hulle steel jou kaart, en jy is geldgewys in die pekel. Of anders blaas hulle die kitsbanke op om die geld daarbinne by te kom.

En vir sulke ouens kan ʼn mens nie eens “Voert!” toesnou nie, want jy sien hulle mos nooit nie. Al wat ’n mens kán doen, is om uiters versigtig te werk te gaan by hierdie geriefie. Miskien, net miskien teel iemand nog eendag ʼn geelslang wat in die kitsbank kan skuil, en blitsvinnig kan pik as hy die skelms gewaar. ’n Mens sal so ʼn slang seker “Voert” kan doop, of hoe?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Enna Burger ·

Asb kan ek ‘n afskrif kry van artikel; Harde werk en lees, vra Susan. Ek het ‘n kleinseun Autisme en ADHD en in graad R wat baie dringend hulp soek asb.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.