Voorkom vergeetagtigheid met slim dieetaanpassings

MIND-dieet

Die MIND dieet kan help om vergeetagtigheid en selfs Alzheimer se siekte te voorkom. Foto: Springchicken.com

Johanrie Swart

Is jy net verstrooid en vergeetagtig, of is Alzheimer se siekte dalk jou voorland? Is daar iets wat jy kan doen om ʼn swak geheue te voorkom of verbeter? Alzheimer se siekte, die mees algemene oorsaak van demensie (vergeetagtigheid) wat breinselle beskadig en doodmaak, kom dikwels by mense ouer as 65 jaar voor. Hierdie komplekse toestand kom meer algemeen onder vroue as mans voor en word gekenmerk deur:

  • geleidelike verergering van geheueverlies;
  • onvermoë om nuwe inligting te leer en op te roep;
  • onvermoë om die regte woord te vind;
  • afname in logiese denke;
  • agteruitgang van spraak en waarnemingsvermoë;
  • afname in spierkrag met inkorting van handbeweging en probleme om te stap;
  • inkorting van die vermoë om alledaagse handelinge uit te voer;
  • buierigheid;
  • wisselende, ontoepaslike en onvoorspelbare optrede.

Die voedselkeuses wat jy daagliks maak, kan jou kans verminder om Alzheimer se siekte te ontwikkel. Onlangse navorsing het drie verskillende diëte, naamlik die DASH- (Dietary Approaches to Stop Hypertension) dieet vir verlaging van bloeddruk, die Mediterreense dieet vir hartgesondheid en die MIND- (Mediterranean-DASH Intervention for Neurodegenerative Delay) dieet vergelyk om die invloed van elkeen op Alzheimer se siekte te bepaal.

Navorsing wys dat mense wat voedsel soos groen blaargroente, bessies en vis by hul dieet insluit, hul risiko vir geheueverlies verlaag. Hierdie dieetpatroon staan as die MIND-dieet bekend wat ’n kombinasie van die DASH-dieet en die Mediterreense dieet is. Diegene wat die MIND-dieet gevolg het, se risiko vir Alzheimer se siekte het met 54% verlaag. Die MIND-dieet sluit natuurlike plantvoedsel in en beperk die inname van dierlike en hoëversadigdevet-voedsel, terwyl die inname van groen blaargroente benewens ander groente, asook bessies, beklemtoon word.

Voedsel wat by die MIND-dieet aanbeveel word:

  • Groen blaargroente (soos spinasie en blaarslaai): ten minste ses porsies per week;
  • Ander groente: ten minste een porsie per dag;
  • Bessies: ten minste twee porsies per week;
  • Neute: ten minste vyf porsies per week;
  • Peulgroente: ten minste vier porsies per week;
  • Onverfynde grane: ten minste drie porsies per dag;
  • Vis: ten minste een porsie per week;
  • Pluimvee (soos hoender of kalkoen): ten minste twee porsies per week;
  • Olyfolie: gebruik by voorkeur tydens voedselbereiding; en
  • Wyn: een glas (125 ml) per dag.

Voedsel waarvan minder geëet moet word:

  • Rooivleis: minder as vier keer per week;
  • Botter en margarien: minder as een eetlepel (15 ml) per dag;
  • Kaas: minder as een keer per week;
  • Diepvetgebraaide voedsel of wegneemetes: minder as een keer per week; en
  • Gebak en lekkergoed: minder as vyf keer per week.

Alhoewel dieet ’n baie belangrike rol speel, kan jou risiko vir Alzheimer se siekte verder verlaag word deur 6 – 8 glase water per dag te drink, gereeld te oefen, asook om stresvlakke te beheer. Die MIND-dieet is nie net goed vir die brein nie, maar ook vir jou hart en algehele gesondheid. Belê dus in hierdie breinvriendelike eetpatroon, selfs al het jy geen familiegeskiedenis van Alzheimer se siekte nie!

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Zee ·

2 Eetlepels klapperolie elke dag keer glo ook Altzheimers volgens studies gedoen in oa Brittanje. Daar was onlangs ‘n artikel daaroor in die DailyMail online.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.