Voortrekkers trek oor Drakensberge vir 85ste verjaarsdag

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Die Voortrekkers skop op 6 en 7 Augustus hul twee maande lange reeks verjaarsdagvieringe vir hul 85ste bestaansjaar af met die grootste trek oor die Drakensberge sedert die Groot Trek 179 jaar gelede.

Die tema vir dié feesjaar is “Trap nuwe Spore”.

Dr. Danie Langner, hoofleier van die Voortrekkers, sê dat jeuglede die geleentheid kry om tydens die feesjaar hul eie geskiedenis te skryf.

“Voortrekkerspore van ouds word nie net bevestig nie, maar nuwe spore word getrap. Daar word nuwe monumente gebou en terselfdertyd word uitgereik na die gemeenskappe om ons. Op dié wyse leer ons jeuglede nie net geskiedenis nie, maar skryf ook geskiedenis,” sê hy.

Die Voortrekkers gaan op 6 en 7 Augutus letterlik oor die Drakensberge trek as deel van dié reeks vieringe.

Langner sê die Voortrekkers het hierop besluit omdat Pieter Retief ook op 5 Oktober 1837 op daardie einste plek met vier waens op pad na koning Dingaan afgetrek het.

“Sy trek het hom op 14 November gevolg nadat hulle die nuus ontvang het dat Dingaan grond belowe het. Hulle het agtuur die oggend met 23 waens afgetrek waarvan 18 teen sonsondergang op dieselfde grasvlakte uitgespan het,” voeg hy by.

Hy sê ook die Voortrekkers se ledetal het sedert 2014 met 14% gegroei en hy hoop om minstens 1 000 nuwe Voortrekkers as lede in te lyf tydens die landwye feeste.

Die naweek volg 400 hedendaagse Voortrekkers Retief se spore bergaf. Hulle kom van oor die hele land om saam te stap – Kaapstad, Komatipoort, Johannesburg, George, Despatch, Wellington, Bloemfontein, Pretoria. Twee monumente word tydens die geskiedkundige geleentheid gebou: een aan die bopunt naby die Kaalvoetvrou en een by ATKV Drakensville. ’n Boomlaning word ook in die oord aangeplant. Vier Hippo-rollers word bergaf getrek waarna dit aan die plaaslike gemeenskap oorhandig sal word.

Verskeie landwye feeste word by die onderskeie monumente en erfenisterreine gehou. Jak de Priester is by van die feeste te sien waar hy die “Sporelied” sal sing wat hy spesiaal vir vanjaar se reeks feesvieringe geskryf het.

Die Voortrekkers Kook-resepteboek word ook by elke fees bekendgestel. Die unieke resepteboek bevat al die lekkerste resepte van spankampe, veldkampe en gebiedskampe.

Dié wat nie aan die aktiwiteite deelneem nie, kan uitsien na die Voortrekkerspore-dokumentêr, wat handel oor die eietydse Voortrekkers se doen en late. Dié dokumentêr word op 18 en 25 September om 14:30 op kykNET vertoon.

’n Voortrekkerkind-beeld word op Erfenisdag, 24 September, by die Voortrekkermonument onthul. Dit is ontwerp en geskep deur ’n Namibiese beeldhouer, Duif Keyser.

Die plaaslike gemeenskap word uitgenooi om saam met die Voortrekkers nuwe spore te kom trap deur die fees in hulle omgewing by te woon.

Meer inligting oor die feeste is beskikbaar op die Voortrekkers se webwerf.

Besoek ook hul Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pietman ·

Is verbaas! Was as kind ‘n Voortrekker-het nie geweet die beweging bestaan steeds nie, mens hoor dan nooit meer van hulle nie! Word skole steeds betrek by die Voortrekkerbeweging?

Pierre ·

Aan al die Voortrekkers wat die naweek Drakensberge toe gaan geniet elke oomblik daarvan. Joshua en sy span sterkte en dankie vier al julle beplanning wat julle ingesit het. Ek hoop Maroela gaan n paar fotos he om te plaas teen Woensdag om ook die avontuur met almal te deel. Onthou ons Trap Nuwe Spore.

Ada ·

Baie geluk!!!!! Albei my kinders was Voortrekkers en hulle is so dankbaar daaroor. Een het Presidents Verkenner geword. Hy is nou ‘n Staatmaker terwyl hy studeer. Hulle kan albei hulself in enige situasie handhaaf en het so baie geleer by die Voortrekkers.
Ons gaan defnitief die resepteboek aanskaf.
Baie dankie ook daarvoor.

André ·

Ek was ook ‘n Voortrekker, en trots daarop. Is ook baie bly hulle staan sterk. Hou koers!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.